The Project Gutenberg eBook of Kampstories

This ebook is for the use of anyone anywhere in the United States and most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included with this ebook or online at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States, you will have to check the laws of the country where you are located before using this eBook.

Title: Kampstories

Author: C. Louis Leipoldt

Release date: November 13, 2025 [eBook #77225]

Language: Afrikaans

Original publication: Pretoria: J. L. Van Schaik Bepk, 1924

Credits: Kobus Meyer, Emmanuel Ackerman, Jeroen Hellingman and the Online Distributed Proofreading Team at https://www.pgdp.net/ for Project Gutenberg

*** START OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK KAMPSTORIES ***
[Inhoud]

Oorspronklike voorblad.

[Inhoud]

Oorspronklike titelblad.

KAMPSTORIES

Uitgewers: J. L. VAN SCHAIK BEPK., Pretoria.
1924.

[Inhoud]

VOORWOORD.

Hierdie stories is in ons skoolkampe vertel, gewoonlik aan die jonger kinders. Daar hulle byval gevind het, stuur ek hulle die wêreld in, sonder verder verandering.

C. L. L.

[Inhoud]
[Inhoud]

I.

Die Een wat Blind was.

Toe alles op die wêreld nog klein was—so klein soos die borsveertjies van ’n tingtinkie—toe was daar twee wat rondgeloop het. Die een het altyd vir hom kos gesoek en die ander was blind.

Die Een Wat Kos Gesoek het, was ’n jagter. Hy het gate gemaak om die wild te vang, en hy het baie hard gewerk om nou en dan ’n stukkie kos in die hande te kry. Want in dié tyd, my Kleinbasie, was kos baie skaars. Nie soos vandag nie! Nou kry jy brood en blikkieskos en wat jy wil hê, as jy net vra, want die oubaas is mos ryk, en kan op die boekie koop in die winkel.

Maar in dié dae was daar nie boekies nie en nie eers winkels nie, en dit was baie swaar om jou kos te kry. Dit het sweet-sweet gegaan, Kleinbasie. ’n Mens moes jag en rondspring en selfs dan het jy maar min beetgekry.

Die jagter het eindelik ’n spelonk gevind. Die spelonk was vol met wild, amper net soos ’n byenes vol met heuning is.

Hy het gewag totdat die oues uitgekruip het, en toe het hy ingekruip en die kleintjies doodgemaak.

„Vanaand eet ek lekker … tjiep, tjiep, tjiep,” het hy gesê, en hy het sy lippe nat gemaak met sy tong, want hy het hom verbeel dat hy al die sous van die braaivleis kon proe.

Toe het hy die klein lykies van die kleintjies wat hy doodgemaak het, uitgedra en ’n groot gat in die grond gemaak, waarin hy hulle wou begrawe. [2]

„Nou gaan ek brandhout soek,” sê hy, en hy het die veld ingeloop om brandhout te soek.

Maar toe hy weg was om brandhout te soek, kom die ander een, die Een Wat Blind Was, en hy struikel oor die gat.

„Maskas,” sê hy, „wat is dit dan hier? Ek moet voel.”

En die blinde voel met sy lang vingers, en hy voel die lykies.

„Maskas,” sê hy weer, want dit was omtrent die enigste ondeunde woord wat hy van geweet het, „Maskas, die kêrel is mos ’n swaap.”

En hy wag toe tot die jagter kom. Die jagter het ’n armvol brandhout—mooi rooibos-hout, wat altyd lekker kole maak, en ’n warm vuurtjie gee, my Kleinbasie—en hy was moeg en uit sy humeur. Hy sien die blinde een en sê kortaf:

„Naand.”

„Naand,” sê die blinde, en hy begin sommer: „Maar, Jagter, jy is tog ’n swaap. Verekskuseer as ek dit sê, maar jy is tog ’n swaap. Niks anders as ’n swaap nie. Sonder die minste begeerte om jou te beledig, Jagter, moet ek sê jy is tog maar ’n swaap.…”

„Nie so baie van die swaap nie, Blindeman,” sê die jagter, wat al vererg geword het. „Anders breek ons konfytpotjie.”

„Ek wil maar net sê,” gaan die blinde voort, „en dit sonder om aanstoot te gee, dat jy tog maar ’n swaap is.…”

„Hoekom sê jy so?” vra die jagter en hy gooi sy brandhout op die grond en rol sy hempsmoue op.

„Ja,” sê die blinde, „vra dit gerus. Hoekom? [3]Net omdat ek sien dat jy dink hierdie goed is bokkies, nè?”

„Wat is hulle dan anders?” vra die jagter.

„Hulle is mos veetjies,” sê die blinde. „Mak veetjies. Dié kan jy mos nie sommerso opeet nie. As jy vanaand wil kos hê, moet jy nou maar weer gaan jag.”

Die blinde het met soveel gesag gepraat, Kleinbasie, dat die jagter dadelik gevoel het dat hy nie reg gedoen het nie—net soos jy voel, Kleinbasie, as jy kwepers gesteel het, voordat hulle ryp is.

Die jagter het toe sy brandhout laat staan en hy het weer veld-toe gegaan om te jag. Maar dié aand het hy niks gekry nie, want die bokkies het al loop slaap.

Die blinde het by die gat bly staan, en het ’n bietjie as oor sy oë gesmeer, wat hom weer siende gemaak het. Hoe dit gebeur het weet ek nie, maar Kleinbasie moet maar vir my glo as ek vir Kleinbasie sê, dat dit so geskied en so gebeur het. Nog wonderliker dinge gebeur mos elke dag. Kyk hoe die groot waterlemoen groei uit die pit, wat so klein as die top van Basie se pinkie is. Dis maar ewe wonderlik.

Toe het die blinde die lykies uit die gat geneem en daaronder het hy ’n paar koeitjies en kalwertjies gekry. Hoe hy dit geprakseer het, weet ek wrintig nie, maar dis wat die storie sê, arrie ja Kleinbasie; en as Kleinbasie nie die storie glo nie, dan kan Kleinbasie maar loop speel.

Die blinde man het ’n ringmuur van bossies rondom sy kalwertjies en sy koeitjies gemaak. Daarbinne het hy sy veetjies gehou.

„Dis my kraal,” het hy gesê, en hy het hom ingesmeer met vet—wat ’n bietjie galsterig was—en het [4]pronkerig rondgeloop. Baie verwaand was daardie blinde man, wat nie meer blind was nie.

Maar op een dag kom die jagter terug. Hy het moeg geword om sonder kos te jag en hy het gedink, dat hy maar weer by die veetjies in die gat sou kom probeer om kossies te kry.

Hy sien die kraal en hy bekyk die vetgesmeerde blinde man, wat nie meer blind was nie.

„Blinde broer,” sê hy, „dis mos my goed daardie.”

„Ag wat,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie. „Wat verbeel jy jou? Die miere het al lankal jou goed opgevreet. Trap!”

„Maar dit lyk mos na my goed,” sê die jagter, wat nou gladnie meer so vererg was nie, want hy was baie maer en baie honger—so honger dat hy amper buikpyn van die honger gehad het.

„Lyk!” sê die blinde man—wat nie meer blind was nie. „Ja, baie dinge lyk soos hulle nie is nie. Loop na jou grootjie!”

Nou, Kleinbasie, die blinde man wat nie blind was nie, was reg toe hy gesê het dat baie dinge lyk soos hulle nie is nie, maar hy was nie reg toe hy die jagter gesê het om na sy grootjie te loop nie. Want die jagter se grootjie was al jarelank dood, Kleinbasie. Maar die jagter was nou so honger, dat hy bang was en hy het weggeloop en probeer jag. In dié dae was die veld so droog dat jy jou eie water moes saamneem in ’n kalbas, en hy het sy drinkwater vergeet. Daar was nie eers bossies om te kou nie, want die blinde man se veetjies het al die gras en bossies opgevreet.

Eindelik het die jagter mismoedig weer teruggekom.

„Daar’s niks nie, blinde broer,” sê hy, „en ek is tog so honger. Gee my iets om te eet, anders vergaan ek.” [5]

„Nee,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie, „waarom sal ek vir jou kos gee? Jy het mos niks gewerk nie. Ek moet my veetjies oppas. Trap!”

„Asseblief tog, blinde broer,” sê die jagter, „gee my net ’n bietjie vet om my in te smeer. Die son brand tog so seer.”

„Dè,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie, „hier’s ’n skraapseltjie vir jou.”

En hy gee hom ’n smeerseltjie vet.

Die jagter het hom probeer insmeer, maar hy was so maer en so moeg, omdat hy so honger was, dat hy dit nie kon doen nie.

„Jy’s tog ’n swaap,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie. „So kry jy dit nooit reg nie.”

„Wat moet ek dan maak?” vra die jagter.

„Jy moet dit eers op die vuur smyt,” sê die blinde man. „Dan word dit sag. Dan kan jy dit insmeer.”

Die jagter het dit toe in die vuur gesmyt, maar die vet het so vinnig opgevlam, dat dit sy hare verskroei het en die blinde man, wat nie meer blind was nie, het so vererg geword dat hy hom amper in die vuur gestoot het.

„Maskas, jy’s tog maar ’n swaap,” het die blinde man, wat nie meer blind was nie, gesê. „Loop weg, anders maak jy nog dalk vir my en my veetjies dood. Maak vir jou ’n boog en pyl uit ghnarraboshout en skiet sprinkane. Dis al wat jy kan doen.”

Die arme jagter het weggeloop en vir hom ’n pyl en boog uit ghnarraboshout gemaak.

Hy was die eerste Boesman.

Tenminste so sê die Boesmans … en hulle behoort dit te weet, Kleinbasie.

Want, arrie! party van hulle is slim! [6]

[Inhoud]

II.

In die Slamaaierwinkel.

Ou Abdoel se winkel was ’n wonderlike plek.

Dit was klein genoeg en die toonbank het die meeste ruimte ingeneem. Agter die toonbank was daar net ’n nou gangetjie en jy moes jou omdraai om nie vas teen die rakke te loop nie. Tot bo aan die dak was die rakke en algar was belaai met allerhande soorte goed. Daar was voersis, en geruit, en sy, en geblomde satyn, en kruisbande gestik met rooi garing, en pakkies—orals, orals. Op die onderste rakke was dose en kiste, en rondom die mure was nog groter dose en nog groter kiste. Sommige van die kiste was van kanferhout en op die rakke, tussen die negosie, was harde kanferbolletjies, om die motte uit die wolgoed te hou.

Maar dit was die toonbank wat die interessantste van alles was.

Op die toonbank was daar skottels met gekonfyte vye en waterlemoenkonfyt, suurvye en meebos, en, in die eerste somermaande, rooi duinbessies wat van Groenpunt gekom het. Daar was stapels gedroogde mootjies, en bokkoms, en ’n kom ingelegde vis, wat ou Abdoel se vrou daar bo in Chiappinistraat gemaak het. En daar was klappers, en piesangs, en, ook in die eerste somermaande, appelkose en vroeë perskes, en later spanspekke. En kraaltjies in pierinkies, en allerhande soorte ander goed, wat ’n mens nie kan opnoem nie, want dit sou te lank neem.

En rondom die muur was daar blikkies met speserye—allerhande soorte. As ou Abdoel een van die blikkies [7]oopgemaak het, dan kon jy allerhande soorte geure in die winkeltjie ruik—kaneel en naeltjies, en kalmoes, en Turkse tabak, en kassia, mirre, moskaatneut, rooi en wit peper, gemmer, en Smirna-gom, en balsem van Alexandrië, stekeltee, roosmaryn wat gedroë was, stieraks, en borrie, en saffraan, en bergamot, en bowe alles die sterk geur van kanfer. En as ou Abdoel ’n klein botteltjie oopgemaak het, dan was die ruik nog sterker, nie alte soet nie, en nie alte erg nie, maar tog so sterk dat jou oë amper daarvan getraan het. En as hy nog ’n kleiner botteltjie, wat ’n glas stoppertjie gehad het, en wat in sy gedraai was, rooi sy, met ’n geel stukkie lak daarop, oopgemaak het, dan was die ruik so sterk dat jy moes nies.

In die eerste flessie was opodeldok, wat hard soos lak was, en in die twede was roseolie, wat so dik soos heuning was.

„Dit kom uit Persië, Basie,” het ou Abdoel gesê, ná hy sy hande aan sy rooi Slamaaiermussie afgevryf het. „Duisende, duisende rose om één druppeltjie olie te maak. Stapels rose, Basie, en daarom kos dit so baie geld.”

Tjeld,” het hy eintlik gesê, want hy het amper gepraat soos ’n Jood.

„Hoeveel dan, die botteltjie, Abdoel?”

„Meer as wat jy her, Basie. Meer as hier op die toonbank lê.”

„Ag nee a, Abdoel.”

„Ek lieg mos nie, Basie. Sewe pond vyftien sjielings het hierdie botteltjie gekos, en ek verkoop hom sikpens vir ’n smeertjie. Dan het ek trippens wins op elke smeertjie, Basie.”

„As dit kalifa-tyd is,” sê outa Abdoel, „dan kom die vroumense my vra vir smeerseltjies, en dan is my [8]klandiesie groot. Maar hulle gebruik nie baie nie. Nie soos in my land nie, Basie.”

„Waar is jou eie land, Abdoel?”

„Semarang, my Basie. Daar ver in die Ooste, waar die weer altyd in die namiddae opsteek en waar dit altyd reën. Daarvandaan kom ek, maar ek is al lankal hierso, en hierso sal ek bly tot ek sterwe, my Basie. Ek is mos hadj.”

„Wat is dit, Abdoel?”

„Dis een wat na Mekka gewees het, Basie. Ek het pelgrimstog gemaak na Mekka. Ek het in Jedda gesien waar Eva begrawe lê—’n groot graf, baie groter as dié wat agter op die Leeukop staan of dié wat by die strand is. Dertig voet lank. En ek was deur die woestyn, waar die trein glo nou loop. In my tyd was daar nog nie ’n trein nie. Ons moes te voet loop; dae lank, Basie. Ek het die groot swart klip van die Kaäba gesoen, en uit die put van Sem-Sem gedrink. My vrou het nog van die water wat ons saamgebring het. Ek bewaar dit tot ek doodgaan. Dan sal hulle daarvan op my lyk sprinkel, sodat die bose geeste nie vir my aanraak nie.”

„Vertel ons ’n storie, Abdoel.”

„Watter storie, Basie? Van hierdie land, of van ’n ander land? Julle ken mos ou Abdoel se stories, net soos julle sy waterlemoenkonfyt ken.”

„Ja, Abdoel, en altwee is lekker.”

„Neem dan gerus nog ’n stukkie, Basie. Wag, ek moet eers die meisiekind help—trippens borriekruie, nè? Hierso .… en waar’s die trippens? Goed. Daarom dra ek groen vir my kopdoek—tulband is eintlik die naam, Basie. En julle wil ’n storie hê? Goed. Daar sal nou tog nie baie klandiesie wees nie. Dit word ook sleg in dié dae. Die mense koop nie [9]soos vroeër nie. Hulle wil alles verniet hê en daar is geen wins nie.…”

„Ag ons weet jy’s ryk, Abdoel. Skatryk! Pa sê jy het meer geld in die bank as menige winkelier.…”

„Nie in die bank nie. Ou Abdoel vertrou nie die banke nie. En waarom sou ek nie iets vir my ou dag spaar nie? Soos die profeet sê … maar julle weet nie van die profeet nie, hè?”

„’n Storie, outa Abdoel, toe tog.”

„Nouja. Sit daar op die sak. Dis ertappels, maar dis sag genoeg en dan kan julle nie so baie van my vye opvreet nie. Daar was vanselewe ’n koning.…”

„Waar, Abdoel, waar?”

„In ’n land ver in die Ooste. En sy naam was Abdoel.…”

„Moenie glo nie! Dis mos nie ’n koning se naam nie.”

„Wrintig, dit is. Al die groot konings in daardie land heet Abdoel. En hy was ’n groot koning en baie wreed. Een dag het hy uitgery en hy het voor die stadspoort gekom, want sy stad was groot en omring van ’n muur en daar was poorte in die muur, en by een van die poorte het hy uitgery. Daar was ’n hele trop van sy edelmanne om hom, algar te perd, en toe hulle by die poort kom, was daar ’n gedoente.…”

„Hoekoem, Abdoel, hoekom?”

„Dit vertel ek mos vir julle. Bly tog stil, anders kan ou Abdoel nie vir julle vertel nie. Die gedoente was omdat daar ’n kaffer.…”

„Ag nee a, Abdoel, daar’s mos nie Kaffers in daardie land nie!”

„’n Kaffer noem ons een wat nie glo wat ons glo nie. Hy glo nie aan die Profeet nie en in die koning se stad het algar aan die Profeet geglo. Maar dié een [10]was ongelowig en astrant. Hy het een van die stadsburgers in die gesig gespuug en dit was ’n groot belediging. Daarom het hulle hom tot die dood veroordeel en hulle wou hom stenig net toe die koning verbyry. Die koning het dit gesien, want die kaffer het voor sy perd kom lê en genade gesmeek. ‚Ja,’ sê die koning, ‚dis alte naar om jou te stenig. Jy is ’n beter dood werd. Ek sal jou ’n beter dood gee.’ En die koning roep een van sy edelmanne, ’n baie groot baas, wat baie spoggerig was, want daar was koningsbloed in sy are en hy was baie ryk. ‚Jy wat van koningsbloed is,’ sê die koning, ‚maak hierdie ding dood vir my.’ En die spoggerige edelman moes dit doen. Hy het sy swaard, wat krom was, en so skerp soos ’n skeermes, uitgetrek, en met één hou die kaffer se kop afgeslaan. Maar dit het hom nie aangestaan nie en hy het baie kwaad geword. ‚Is dit nou ’n koning se werk,’ het hy gebrom, ‚om ’n hond dood te maak?’ ‚Nee, dis goed,’ sê die koning. ‚Jy is mos my slagter. Dis al wat jy goed voor is.’ En die mense het die edelman uitgelag, want hulle het geweet dat die koning nie baie van hom hou nie. Elke dag het hulle hom uitgelag. Die kinders het agter hom aangeloop en geskree: ‚Hè, slagter van die koning, kom slaan ons honde dood.’ En die vissers het hom uitgejou: ‚Slagter, slagter, met jou skeermesskerp-swaard, kom maak die keffertjies dood; hulle pla so baie.’ Ja, dit was ’n naarheid en hy kon dit nie meer uitstaan nie. Hy was woedend en hy het gedink: ‚Ek sal die koning leer. Ek sal hom gaan wys dat ek nie sy slagter is nie.’

„Hy het lank oor die saak nagedink en eindelik het hy besluit, hy sou die koning gaan vermoor. Hy het geweet dat die koning snags, as dit so warm is, [11]in ’n klein huisie in die tuin van die paleis geslaap het, sonder wagte. Maar die koning het gehoor dat die edelman kwaad vir hom was en die koning het sy eie maatreëls geneem.

„Een nag het die edelman na die huisie gestap, versigtig; want ofskoon dit donker was, wou hy geen geraas maak nie. Hy wou die koning stilletjies in sy slaap doodmaak. Dit was al.

„Maar toe hy in die donker in die kamer van die klein tuinhuisie kom, het ’n paar soldate hom dadelik gegryp. Hulle het die lig aangesteek en hy sien die koning voor hom staan. Die koning het ’n glimlag om sy mond gehad en het vriendelik met hom gepraat.

„‚Edelman,’ sê die koning, ‚slagter-edelman, dis nie goed om so ’n skerp ding met jou rond te dra nie. Dit kan jou maklik in gevaar bring. Ek weet jy kom uit beleefdheid vir my, maar so ’n soort beleefdheid kan ek sonder klaarkom. Ek wil jou daarvoor beloon. Die loon wat ek vir jou gee is, dat jy vir my iets sal vra voordat jy drie dae ouer is en vir my seën, omdat ek dit vir jou gee.’

„‚Dit sal ek nooit doen nie,’ sê die edelman. ‚Jy kan my doodslaan, maar ek sal nooit iets vir jou vra nie. Ek gaan liewerster morsdood.’

„‚Ons sal sien,’ sê die koning, met sy glimlag. En hy sê aan die soldate: ‚Neem hom buite die stad en stenig hom op die mishoop, maar stenig hom volgens die wet.’ ”

„Wat beteken dit, Abdoel? Sê vir ons.”

„Die wet sê, Basie, dat as jy iemand stenig, moet jy hom so stenig dat hy nie doodgaan nie. Jy moet hom seermaak en as hy self wil doodgaan, dan is dit sy saak, nie joue nie. So het hulle ook die edelman gestenig. Hulle het al sy bene en arms gebreek en [12]’n groot klomp klippe op hom gestapel, en as hy ’n klip verroer, dan het hulle dit weer op hom gegooi, so hard as hulle kon. En die koning het een van die soldate by die kliphoop gestel en gesê: ‚As my slagtertjie iets van my verlang, laat my dan maar weet. Maar nie vóór die derde dag nie. Sólank moet hy maar probeer uithou.’

„Die mense het kom kyk, dag vir dag, hoe dit met die edelman gaan. Dag vir dag het hy uitgehou, sonder water, sonder iets om hom verligting te gee.

„En op die derde dag het hy gesmeek: ‚Maak my tog asseblief dood, Koning. Red my uit my pyn.’ Die boodskapper wat nag en dag by die steenhoop gestaan het, om die smeekgebed van die edelman te verneem, het dadelik na die paleis van die koning gesnel.

„Die koning was aan die ete. Niemand kon hom stoor nie. Die boodskapper moes dus bly wag, totdat die koning klaar geëet het.

„Toe hy voor die koning kom, sê hy: ‚Groot Vors, die skepsel wat jy veroordeel het, smeek om van sy lewe verlos te word,’

„‚Aha!’ sê die koning, en hy lag. ‚Ek het mos gesê hy sou my iets vra, voordat drie dae verby was. Hoe lyk dit met hom?’

„Dit lyk maar sleg, groot Vors,” sê die boodskapper. „Hy kan skaars die woorde uitkry en dit sou ’n genade wees om hom uit sy pyn te neem.”

„Watter genade sou hy vir my gegee het, toe hy mv wou vermoor?” vra die koning. „Maar hoor, ek is tog genadig en ek sal hom verlos. Maar dit is nog maar sononder en hy het die hele nag voor hom. Laat hom maar vannag nog bly lewe, dan kan hy oor die saak nadink. Maak hom môre dood.” [13]

Die boodskapper het teruggegaan en aan die edelman, wat nou skaars meer die woorde kon hoor, gesê:

„Die koning sê, môre eers. Tot dán moet jy maar uithou.

In die vroeë môre het hulle die edelman doodgeskiet en toe hy die roers hoor raas, het hy die naam van die koning geseën. Dit is die storie wat hulle daar in my land vertel, Basie.”

„’n Nare storie, Abdoel. Wat nou van ’n spookstorie?”

„Nee, Basie. Nou moet ek toemaak, want dit is tyd om my gebed op te sê. Maar Abdoel sal julle tog ’n storie vertel, môre.” [14]

[Inhoud]

III.

Abdoel se Storie.

Dis ’n klein eilandjie, maar dit staan nie eensaam nie, ofskoon dit ’n eiland is en omring deur die see. Dit het duisende bure, want dit is een van die Vyfduisend Eilande wat in die Indiese See staan. Daar’s mense wat sê dat daar meer van hulle is, sesduisend, seweduisend—nog meer, nog baie meer, en niemand weet of hulle reg het of nie, want niemand het die eilande getel nie.

Hierdie kleintjie, waarvan ek praat, word Minekoi genoem, en is so groot as van hierso tot daar waar jy die agterkant van die berg kan sien. Daar is palmbome op, klapperpalmbome, waaraan die klappers by dosyne hang en waarin die Bo-voël, wat kan praat net soos ’n mens, speel met sy maters vóór die reën kom. Die strand van die eiland is wit, soos silwer wat gesmelt is en daar lê baie skulpe daar. Daar is sommige skulpe wat so groot soos ’n kruiwa is en ander skulpe wat so fyn is, dat jy daardeur die klapperbome kan sien. En in die lae water, naby die strand, groei donkerblou seegras, waardeur die geel en rooi seeslange swem en waaronder die stekelige seemuise huisves; seegras wat slinger om die kraalpilare net soos krulkrans om die doringboomstam.

Hier op Minekoi het ’n ou kêrel met die naam van Sadiah gewoon. Hy was ’n kort klein ou kêreltjie met lang, swart hare, wat nie gekroes was nie, want die mense wat daar woon het nie algar kroeshare nie, ofskoon sommige van hulle amper so lelik soos die Boesman hier is. Hy was ’n see-Maleier, afkomstig uit die Ooste, uit vèr Borneo, waar die mense nog baie [15]wild is en koppe afslaan, tenminste die koppe van hulle vyande waarmee hulle baklei het. Maar Sadiah was al oud en het nie meer baie lus in bakleiery gehad nie. Hy het na Minekoi gekom en daar sy klein pondokkie gebou en hom onderhou met wat hy uit die see kon kry.

Daar was baie wat hy kon kry. Die krulkrans-seegras het hy gekook en net soos kool geëet, en vir vleis was daar altyd vis. Allerhande soorte vis, met allerhande kleure, so mooi, amper, soos die weste geword het by sonsondergang. Hy moes net maar sy bootjie neem en ’n paar myl van die strand seil en dan kon hy soveel vis vang as hy maar wou. Vir aas kon hy ’n stukkie rooi flennie gebruik. Dié stukkie rooi flennie was al lank al in die famielie, want dit was kosbaar en dit kon oor en oor gebruik word as aas, want die visse het dit nooit ingesluk nie. Dit het hulle net maar aangelok na die hoek, en sodra hulle naby die hoek was, het Sadiah hulle opgetrek, omdat hy handig genoeg was om die hoek êrens deur hulle lyf te kry met ’n vinnige ruk.

Elke jaar, as die oostewind begin waai, kom die mense van Minekoi bymekaar om fees te vier. Hulle neem ’n skuit—en dis algar snaakse skuite wat hulle daar het, klein skuitjies met lang planke aan weerskante, sodat hulle nie maklik kan omslaan nie selfs as die branders baie wild is—en laai dit vol met gedroogde vis, met vrugte en met blomme, die pragtige blomme wat in die bosse van die eiland groei. Dan bring hulle die skuit waar die see diep is, en laat dit daar in die see wegsink.

Dis ’n offerande wat hulle aan die bose geeste wat in die see woon, bring.

Dié bose geeste word veronderstel onder die seegras te lewe, net soos die seeslange, en volgens die mense [16]van Minekoi is hulle baie gevaarliker as die seeslange, alhoewel die seeslange giftig genoeg is. Só giftig, dat as een daarvan jou byt, jy dan nie meer lank sal lewe nie. Maar die geeste, veral die wat ver in die see woon, is baie kwaai, en moet gepaai word. Anders kan jy nie vis vang en teen die branders veg nie.

Daarom word die geeste gepaai met offerandes van vrugte en blomme en gedroogde vis.

Sadiah het elke jaar deelgeneem aan die fees, en sy stukkie gedroogde vis en ’n paar vrugte of blomme saamgebring om in die skuit te sit. Op dié manier het hy gedink dat hy nou op ’n hoogs vriendskaplike voet met die geeste gestaan het. Dié gedagte het hom ’n bietjie astrant gemaak en hy het nie so versigtig te werk gegaan nie as hy anders sou gedoen het, as hy gedink het dat die bose geeste teen hom was.

„Daardie Sadiah,” het sommige van sy vriende gesê, „daardie Sadiah sal nog ’n ongeluk kry as hy nie oplet nie. Hy waag te veel.”

Maar jaar-uit en jaar-in het dit voorspoedig met Sadiah gegaan. Hy het hom nie aan waarskuwings gestoor nie en het bedaard vis gevang met sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in sy famielie was. „Poesaka” soos hy sou gesê het, in sy Maleise taal.

Op één dag het Sadiah ’n klomp vissers teëgekom wat hard aan die praat was. Toe hy by hulle kom, sê een van hulle:

„Sadiah, weet jy iets van die goudgeel otter?”

„Ek het daarvan gehoor,” sê Sadiah. „Dis mos ’n groot otter wat hier op een van die Vyfduisend Eilande nes maak. Wat daarvan?”

„Die koning wil die vel hê,” antwoord die man. „Hy het gesê dat hy die persoon wat hom die vel van die geel otter bring, skatryk sal beloon.”

Sadiah het nie baie om geld gegee nie, maar hy was [17]tog gierig om deur die koning beloon te word, en hy het sy ore gespits.

„Ja,” sê die kêrel. „Die koning het van die otter gehoor en hy het ’n weddenskap gemaak, dat hy binne ’n jaar die vel sal hê. Ons het algar bevel gekry om op te let of ons iets van die otter gewaar. Dan moet ons dadelik aan die koning se visier kom sê waar die dier te kry is.”

Sadiah het huis-toe gegaan en die volgende môre het hy vroeg opgestaan, ’n klein mandjie vol gekookte seegras en ’n paar stukkies gedroogde vis geneem, en na die Towenaar gestap.

Die Towenaar was ’n stokou kêrel wat alleen in ’n pondokkie op die strand gewoon het. Al die mense was bang vir hom en het so ver as moontlik van hom gebly, maar hulle het hom darem kos gegee en gesorg dat hy niks nodig gehad het nie. Dit was om hom te paai, net soos hulle die bose geeste wat onder die seegras woon, wou paai. Want hulle was bang vir altwee, en het nie eers geweet of hulle banger vir die geeste of vir die Towenaar was nie.

Toe Sadiah by die Towenaar kom, maak hy ’n diep buiging en sit sy mandjie op die grond.

Die Towenaar, wat half blind deur ouderdom was, het hom gehoor en nors gevra: „Wat wil jy hê, skepsel?”

„Ek bring die Towenaar hierdie presentjie,” sê Sadiah. „Gestoofde seegras—dit smaak baie lekker, soos ek weet—en gedroogde vis, wat nog lekkerder smaak.”

„Goed,” sê die Towenaar. „Sit dit maar daar en trap.”

„Ja,” sê Sadiah, „maar ek het ’n versoek.”

„Dit het ek gedink,” sê die Towenaar. „Julle bring niks vir my vir niks nie. Wat wil jy van my hê?” [18]

„Ek wil net maar weet, o Towenaar,” sê Sadiah, „of daar werklik soiets is as ’n goue otter, en as daar werklik soiets bestaan, hoe ’n mens dit in die hande kan kry.”

„So,” sê die Towenaar. „Jy wil skatryk word. Jy wil hê dat die koning jou sal beloon. Nou, ek het daar niks op teen nie. Rykdom beteken niks nie en dis een en dieselfde vir my of jy die skatte besit of die koning. Ek sien dat jy nie alte dom is nie en dat jy jou maters vooruit is. Geeneen van hulle het daaraan gedink om my te kom vra nie, of om vir my iets saam te bring nie. Dus sal ek vir jou help. Die goue otter woon in ’n grot op die sewehonderd-en-sestigste eiland.”

„En waar is die sewehonderd-en-sestigste eiland?” vra Sadiah.

„Net langs die sewehonderd-negen-en-vyftigste eiland,” sê die Towenaar, „en duskant die sewehonderd-een-en-sestigste. Jy moet reguit seil, en dit sal jou vyf dae en vyf nagte neem om daar te kom en niemand weet hoe lank nie om terug te kom.”

„Dankie, Towenaar!” sê Sadiah. „Dankbaar!”

„Nee,” sê die Towenaar. „Moenie so gou wees nie. Daar is eintlik geen haas nie, want die goue otter is al duisend jaar oud en kan nog ’n maand of wat ouer word voordat jy hom gaan lastig val. Ek moet jou egter sê dat dit gladnie maklik sal wees om hom te vang nie.”

„Hoe moet ek dit prakseer, Towenaar?” vra Sadiah. „Ek sal baie dankbaar wees as Towenaar my wil sê, asseblief, hoe ek die saak moet aanvang.”

„Daarvoor het jy nodig ’n stukkie flennie,” sê die Towenaar. „’n Stukkie rooi flennie.…” [19]

„Dit het ek,” sê Sadiah, vinnig. „Dis ’n erfstuk in my famielie, wat ek gebruik om vis mee te vang.”

„Dan is jy oor die ergste bult,” sê die Towenaar, „want ek weet waarlik nie waar jy soiets hier sou kon kry nie. Selfs ek, met al my toorkragte sou dit moeilik vind om ’n stukkie rooi flennie sommerso te maak. Nou, die stukkie flennie moet jy met klapperolie bestryk. Dit sal die goue otter aanlok en hy sal kom snuffel.…”

„Dan slaan ek hom dood,” sê Sadiah, „en bring hom huis-toe. Dankie.…”

„Jy’s weer alte vinnig,” sê die Towenaar. „Dis nie so maklik om hom dood te slaan nie, want hy is duisend jare oud en so taai soos see-bamboes. Nee, jy moet anderster maak. Sodra hy aan die flennie snuffel, moet jy my toorgoed op hom gooi. Dan verander hy in ’n stukkie droë seegras. Die seegras moet jy versigtig wegsteek, sodat dit nie nat word nie. Sodra dit nat of klam word, dan verander dit tot die goue otter, en hy spring dadelik weer in die see en dan is jy al jou wins kwyt.”

„En die toorgoed,” vra Sadiah. „Sal Towenaar my dit gee?”

„Ek sal dit vir jou ruil,” sê die Towenaar.

„Vir wat,” vra Sadiah.

„Vir die eerste vinger van jou regterhand,” sê die Towenaar, „en die vyfde toon van jou linker voet. Ek het dit nodig vir my towery.”

„Allamaskas!” sê Sadiah.

„Moenie bang wees nie,” sê die Towenaar. „Dit kan wag totdat jy terugkom. Dan sal ek saggies altwee afsny. Dit sal jou nie baie seermaak nie en daar jy dan skatryk sal wees, sal jy nie ’n duim en ’n groottoon nodig hê nie. Hier is die toorgoed en onthou, as jy [20]terugkom, moet jy hierso kom en my die vinger en toon afstaan.”

Sadiah was nie baie in sy skik met die ruil nie, maar hy was nou so gierig om skatryk te word, dat hy die toorgoed maar geneem het. Dieselfde dag het hy weggeseil, in sy skuitjie, na die sewehonderd-en-sestigste eiland. Dit het hom vyf dae en vyf nagte geneem om die eiland te bereik, en hy was toe al amper half mal van die tel, want daar was so baie eilande dat hy nou en dan in die war geraak het en weer agteruit moes gaan om reg te tel. Maar eindelik het hy die eiland bereik en op die strand geland. Hy het sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in die famielie was, met klapperolie besmeer en dit op ’n stokkie in die sand regop gesteek, en hy het agter ’n klip gelê en wag, totdat die goue otter te voorskyn sou kom.

Dit het ook nie lank geduur nie of die otter het uit die see gekom en die galsterige klapperolie geruik. Die otter was werklik ’n pragtige dier. Sy vel was so glad soos ferweel en het geblink soos ’n nuwe pond, want elke haar was van goud en dit het die maanlig weerkaats, sodat die lig in strale daarvan afgeskiet het.

Sadiah het gewag totdat die otter mooi aan snuffel was en toe het hy die toorgoed vinnig oor die dier gegooi. Ja, regtig—die otter het sommer verander in ’n stukkie seegras.

Maar alte bly dat die saak so gou-gou oor was, het Sadiah die stukkie seegras opgetel en versigtig in sy kopdoek weggesteek. Toe het hy op sy skuitjie geklim en so vinnig as hy kon huis-toe geroei. Toe daar ’n windjie opsteek, het hy die seil van sy skuitjie opgehys en vantoeafaan het die reis voorspoedig gegaan. Binne drie dae was hy weer by Minekoi. Toe hy afstap by [21]die groot klip op die strand waar al die bootjies vasgemaak word, het hy gewaar dat daar ’n groot opskudding was. Die mense het deurmekaar heen en weer gehardloop en orals het hulle te keer gegaan. „Wat het dan gebeur?” vra Sadiah, aan iemand wat hy teëgekom het.

„Het jy nie gehoor nie?” sê die man. „Gisternag het daar ’n rower gekom wat die koning wou vermoor. Maar die koning het hom dapper geweer en het die kêrel se regterduim en linker-groottoon met sy sabel afgeslaan. Nou soek ons na ’n man wat nie ’n regterduim en linker-groottoon het nie.”

„En wat sal geskied as julle so iemand kry?” vra Sadiah, wat al bang geword het.

„Dit weet jy mos self,” sê die man. „Hy sal nie ’n lekker dood sterf nie, dit kan ek jou verseker. Die koning is woedend. Hy praat van in stukkies sny of lewendig opvreet of soiets, maar in elk geval, dit sal nie iets plesierigs wees nie.”

Sadiah het mismoedig weggestap na die Towenaar se pondok.

Toe hy daar kom sê die Towenaar: „Ek sien jy het die goue otter. Nou moet jy my die vinger en die toon gee. Ek het dit nodig vir my towery.”

„Maar Towenaar,” sê Sadiah, „het jy dan nie gehoor van die kêrel wat die koning wou vermoor nie?”

„Daarvan weet ek,” sê die Towenaar, wat al besig was om sy mes te slyp. „Maar dit het niks met ons akkoord te maak nie. Sit daar op die klip en gee my jou voet.”

„Maar so sal dit nie kan gaan nie, Towenaar,” sê Sadiah. „As jy nou my toon en my duim afsny, dan sê die mense sommer dat ek die kêrel is. En al sê ek ook dat ek gladnie hier was nie, wie sal my glo?” [22]

„Dis jou saak,” sê die Towenaar. „Daar het ek niks mee te doen nie. Ons akkoord bly akkoord.”

„Sou jy dan nie iets anders in ruil wil neem nie?” vra Sadiah.

„Nee. Nie eers die goue otter nie,” sê die Towenaar. „Ek het jou duim en jou groot-toon nodig vir my towery. Moet nou nie so sanik nie, want dit word laat. Sit daar op die klip en ek sal altwee afsny, voordat jy nog daarvan weet.”

Sadiah was nou werklik in ’n moeilikheid. Hy was ’n man van sy woord en hy wou nie sy woord breek nie, maar hy het gesien, dat as hy sy vinger en sy toon laat afsny, dit miskien lelik met hom kan gaan. Om in stukkies gesny te word, veral vir ’n misdaad wat jy nooit gepleeg het nie, was darem alte naar. Maar hoe hy ook soebat, die Towenaar wou nie toegee nie. Eindelik het Sadiah so naar geword dat hy begin huil. Om sy trane af te droog, het hy sy kopdoek gebruik, en die trane het die kopdoek papnat gemaak. Die klammigheid het deurgedring, totdat dit die stukkie gedroogde seegras bereik het, en sodra die stukkie droë seegras nat was, het die goue otter woeps uit die kopdoek gespring en ewe vinnig in die see weggehol.

„Daar het jy dit nou,” sê die Towenaar, vererg. „Ek het jou mos gewaarsku. Dit kom van jou koppigheid. As jy eers gedoen het wat ek vir jou gesê het, dan sou jy nie die otter kwyt geraak het nie. Daar swem jou rykdomme terug na die sewehonderd-en-sestigste eiland.”

„Ek gee nie om nie,” sê Sadiah. „Nou het ek mos nie my toon en my duim af te staan nie!”

„Hè?” skree die Towenaar. „Dink jy so? Maar jy het mis, visserman. Ons akkoord bly akkoord. Ek [23]het my gedeelte daarvan stip nagekom. Dis nou jou plig om jou gedeelte daarvan ewe stip uit te voer.”

„Nee, wrintig nie,” sê Sadiah. „Ek sal my nie in stukkies laat sny vir iets wat ek nooit gedoen het nie en veral nou as ek geen kans sien om die beloning te kry nie.”

En hy hol sommer, so hard as hy kan, van die pondok weg. Die Towenaar het hom probeer naloop, maar hy het gestruikel en op sy skerp mes geval. Die mes het sy regterduim afgesny, en toe hy rondspartel van die pyn, het hy met sy linkervoet op die mes geraak en die mes het sy linker-groottoon afgesny. Die Towenaar moes toe huis-toe hink, en op pad het hy die mense teëgekom wat na die rower gaan soek het.

„Hier is mos die vent,” skree hulle. „Kyk, hy het mos geen duim aan sy regterhand nie en geen groottoon aan sy linkervoet nie. Dis hy.”

Hulle het hom toe dadelik beetgepak en alhoewel hy soebat en skree, het dit niks gehelp nie. Die koning was te woedend om na hom te luister.

„Sny hom in stukkies,” sê die koning. „Ek sal hom leer om my te probeer vermoor. So ’n astrantheid! Sny hom in stukkies!”

Sadiah, wat veraf gestaan het en dit alles aangekyk het, het toe gesien hoe die Towenaar in stukkies gesny word. Dit het hom so sleg laat voel, dat hy dadelik huis-toe gehol het en tuis gebly het, totdat hy so honger was dat hy weer met sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in sy famielie was, moes gaan vis vang.

Wat van hom later geword het weet ek nie. Miskien lewe hy nog op Minekoi, maar dis seker dat hy niks meer met Towenaars te doen het nie. [24]

[Inhoud]

IV.

Die Slim Kraai.

Duisende van jare gelede—honderdduisend van jare—miljoene van duisende van honderde van dosyne van jare gelede, meer as wat jy op jou vingers kan tel, al tel jy van nagmaal tot nuwejaar, ou seun, het daar ’n kêrel gelewe in die agterveldse Hantam.

Die agterveldse Hantam was toe nog net so mooi soos dit vandag is. Veral na die reëns in Septembermaand. Die blomme het al die kleure gehad, wat jy in die reënboog kan sien en het so dik gestaan op die veld, dat jy sou gedink het dat oom Jan dit gesaai het. Die ruigte en boesmangras het so wild gegroei, dat jy daarin wegkruipertjie kon speel. Die wilde appelkosies was so groot soos ’n okkerneut en so soet soos gemmerkonfyt en die wilde uintjies het algar in sagte sand gestaan, sodat jy nie jou hande hoef seer te maak om hulle uit te grawe nie.

Arrie, dit was lekker in dié dae, want daar was volop om te geniet en dit was nooit so droog soos nou nie.

Ek glo die kêrel se naam was Aspoester, maar ek is nie seker nie, want daar was ook ’n meisiekind wat dié naam gehad het, ofskoon sy êrens anders gelewe het. Daar hulle albei vandag dood is, maak dit nie saak nie en ons sal maar aanneem, dat ek reg is en dat die kêrel se naam werklik Aspoester was.

Nou, een goeie dag het Aspoester na die rivier geloop. Vóór hy die rivier bereik het, moes hy oor die vlakte van die veld gaan. Dit was vol reënboogkleurige blommetjies en hy het stilgestaan om hulle te bekyk. [25]

„Dis darem mooi hier in ons ou Hantamwêreld,” sê hy, „en daar’s niks wat ’n mens anderster wil hê nie.”

En toe hoor hy iets.

„Dit lyk vir my asof iemand hier kreun,” sê hy en hy luister goed. „Ja wrintig,” sê hy weer, „dis mos iemand hier op die grond. Wat sou dit nou wees?”

En hy snuffel rond, maar kon niks sien nie.

„Dis tog hier in die nabyheid,” sê hy. „Ek hoor dit duidelik. Iemand wat seerkry, want ek hoor: ‚Eina, eina!’ Wat sou dit wees?”

Hy lê toe plat op die grond en gou-gou bespeur hy dat die gekerm van sy linkerkant kom.

Daar, tien tree van hom af, was ’n groot klip. Die geluid het van onder daardie klip gekom.

„Ag foeitog,” sê Aspoester, wat ’n baie sagte hart gehad het, „daar’s iemand onder daardie klip en hy kerm om uit te kom. Ek sal hom verlos. Foeitog.” En hy loop na die klip en tel dit op.

Daaronder was ’n groot rinkalsslang, wat halfpad dood gedruk was deur die swaarte van die steen.

„So,” sê Aspoester, „nou is jy vry.”

„Ja!” sê die rinkals. „Verbeel jou, ek was vyf dae onder daardie klip. Praat van hongerly! Maar nou is ek daaronder uit en nou moet ek kos hê. Ek sal jou maar byt.”

„Ag nee a,” sê Aspoester. „Moenie so praat nie! Hier het ek jou verlos van onder die klip en nou wil jy my doodbyt. Dis mos nie reg nie. Dis mos glad verkeerd.”

„Nee,” sê die rinkals. „Nie vir my nie. Dis my geaardheid. As ek ’n tweebenige ding sien, soos jy, dan moet ek hom byt. Moet nou nie so ’n lawaai [26]opskop nie. Buk net oor en ek sal jou in één hap doodbyt.…”

„Nee, asseblief tog!” skree Aspoester, wat nou regtig bang was, want die rinkals het op sy stert gaan staan en was toe amper so hoog soos Aspoester self, en die rinkals het sy nek opgeblaas en begin spu, sodat dit ’n naarheid was.

„Soebat help nie,” sê die rinkals. „Dis nou my gewoonte en daar is niks aan te verander nie.”

„Maar dis mos gemeen!” skree Aspoester. „Ek het jou lewe gered en jy wil my doodmaak. Dis mos nie regverdig nie!”

„Van regverdigheid hoef ons nie te praat nie,” antwoord die rinkals. „Daar is maar min daarvan hier op die veld. Elkeen probeer lewe. Ek ook. Buk, man, buk!”

„Wag – – wag – wag,” sê Aspoester. „Jy is mos ’n verstandige soort slang—dit sien ek in, alhoewel jy ’n baie wrede soort dier is. Ek wil vir jou eers ’n voorstel maak.”

„Maak dit dan gou,” sê die rinkals, „want ek is moeg en wil gaan slaap.”

„Wat ek wou sê, is dit,” sê Aspoester. „Dis ’n saak onder ons twee. Jy sê dis reg dat jy my byt; ek sê dat dit glad verkeerd is. Maar as twee mense met mekaar stry moet ’n derde die saak beslis. Ek stel nou voor dat ons iemand anders vra om tussen ons te beslis. As die iemand sê dat dit reg is dat jy my byt, nou goed, dan gee ek in en dan kan jy my maar doodbyt. Maar nie sommerso nie.”

„Nou goed,” sê die rinkals. „Kom ons loop soek iemand.”

„Kan ons dit nie liewers môre doen nie?” vra Aspoester. [27]

„Nee!” sê die rinkals. „Nou is nou. En moenie dink dat jy kan weghardloop nie. Nou dat ek op my stert seil, kan ek tweemaal so vinnig hol as jy en as jy dit probeer, byt ek jou sommer, buk of nie buk nie.”

„Dis darem aaklig,” sug Aspoester, terwyl hy met die rinkals oor die veld stap. „Nog netnoumaar het ek gesê dat ons Hantamse wêreld so mooi was, dat ’n mens niks daarin sou wil anders hê nie, en nou kom dit my al voor dat daar te veel rinkalse is.”

„Wat brom jy nou weer daar?” vra die rinkals.

„Ek sê maar, Rinkals,” sê Aspoester, „dat die blomme baie lekker ruik.”

„Blomme hou ek nie van nie,” sê die rinkals. „’n Streepmuis is baie beter as die beste blom wat daar ooit bloei. Maar wag, daar is broer Bobbejaan. Ons sal vir hom vra.”

Broer Bobbejaan was op sy klip en hy was kwaad. Die môre het hy tuin-toe gegaan om te sien, hoever die waterlemoene was. Hy het geweet dat dit nog te vroeg was vir die waterlemoene, want hulle sou eers in Desember ryp wees, maar hy wou maar kyk of daar niks anders te kry was nie. En die boer se hond het hom weggeja. Dit het hom kwaad gemaak en sku, en toe hy Aspoester sien, wou hy sommer wegspring.

Maar Rinkals het hom uit die verte toegeroep.

„Broer Bobbejaan, broer Bobbejaan, moenie bang wees nie. Ons kom raad vra.”

Toe hulle by broer Bobbejaan kom, sê Aspoester:

„Môre, Bobbejaan. Ons kom vir jou raad vra. So en so is die saak,” en hy vertel vir Bobbejaan wat daar gebeur het en eindig met te vra: „En dink jy nou dat dit regverdig is, dat hy vir my byt, Bobbejaan? Sonder my sou hy daar onder die klip van honger en dors gevrek het. Is dit nou regverdig dat hy my byt?” [28]

„Regverdig?” sê broer Bobbejaan. „Ho-ho, regverdig! Dink jy dis regverdig dat die boer se hond my kom pla as ek kyk of die jong waterlemoentjies nie van die droogte verkwyn nie? En dan praat jy van regverdigheid? Wat van jou slagysters en jou mielies met gif daarin? Regverdig … natuurlik is dit regverdig dat hy jou byt. Gaan jou gang maar, broer Rinkals.”

„Hoor jy?” sê Rinkals. „Buk nou, dan byt ek jou mooi sodat jy nie eers hoef te spartel nie.”

„Maar dit is mos alte wreed,” sê Aspoester. „Ek dink nie dat Bobbejaan die saak goed verstaan nie, Rinkals. Kom ons gaan iemand anders soek. As hy net so sê dan sal ek ingee.”

„Julle tweebene is nooit tevrede nie,” mompel Rinkals. „Maar ons kan iemand anders vra. Hulle sal algar dieselfde sê. Kom maar.”

Aspoester en die slang loop toe verder, en op pad sê Aspoester vir homself: „Netnou het ek nog gesê dat ons Hantamse wêreld so goed is dat ’n mens niks daarin sou wil verander nie en nou sien ek, dat daar ook nog ’n Bobbejaan te veel is.”

„Is jy weer aan die brom?” vra Rinkals. „Wat is dit nou weer?”

„Ek sê maar net,” antwoord Aspoester, „ek sê maar net dat die uintjies hier volop is.”

„Uintjies,” sê Rinkals en hy spu van veragting. „Uintjies gee ek niks voor om nie. Dis kos vir skape en bobbejane. Gee my ’n mooi klein meerkatjie en jy kan al die uintjies vir jou hou.”

Hulle het ’n halfmyl verder geloop en toe by ’n steenbokkie gekom. Hy was baie wild, maar Rinkals het hom van ver toegeskree dat hulle hom nie sou seermaak nie en die steenbokkie het bly staan, maar [29]hy het op sy agterpote vasgetrap sodat hy sommer kon wegspring.

„So en so is die saak, broer Steenbok,” sê Rinkals. „Sê nou vir ons, is dit nie my reg nie—ja selfs my plig as ’n goeie rinkals om hom te byt, al het hy my verlos?”

Die steenbokkie was van geaardheid baie sag en wou nie graag iemand seermaak nie, maar hy het gedink aan sy dogtertjie, wat Aspoester se buurman ’n paar dae tevore met ’n handvol lopers doodgeskiet het, en hy het te veel daarvan gedink. Twee groot trane het oor sy gesig geloop en hy het dit probeer afveeg met sy voorpote, maar dit het hom nie geluk nie.

„Hy het meely met my,” sê Aspoester vir homself. „Kyk, hy huil. Hy sal tog nie so wreed wees nie.”

Maar toe Steenbokkie praat, vind Aspoester dat hy ook gladnie vriendelik was nie.

„Ek dink, broer Rinkals,” sê Steenbokkie, „jy het die volste reg om hom te byt. Dis jou geaardheid om mense te byt en jy sou jou plig versuim as jy dit nie doen nie.”

„Wag-wag-wag,” skree Aspoester, wat nou baie bang was, „hoe kan jy so onbarmhartig wees? Is dit dan regverdig om soiets toe te laat?”

„Wat praat jy van regverdigheid?” sê Steenbokkie. „Was dit regverdig om my dogtertjie te skiet en nogal met lopers op die koop toe? Regverdig … ek dink hy het die volste reg om jou te byt.”

„Toenou,” sê Rinkals en hy maak sy bek oop om ’n goeie byt te neem, „daar het jy dit. Algar sê dis my plig. En ’n slang moet nooit sy plig versuim nie. Dit weet jy so goed soos ek. Buk nou of lê plat op die grond. As ek jou die eerste skoot mis, kan ek dan weer probeer?” [30]

„Nee, asseblief tog!” soebat Aspoester. „Laat ons nog iemand vra. Steenbok is ook nie onpartydig nie, want hy het sy dogtertjie verloor en ek het eintlik niks daarmee te doen gehad nie.…”

„Wat van die wildsboutjie wat in jou kombuis hang?” vra Steenbok.

„Ag die … die het neef Bokkom my gegee.… Ek weet regtig nie waar dit vandaan kom nie.”

„Dis die linkerbout van my oorlede dogtertjie,” sê Steenbokkie en hy gebruik weer sy voorpote om sy trane af te vee. „In die fleur van haar jeug afgemaai deur ’n loper! En jy praat van regverdigheid!”

„Ek simpatiseer met jou,” sê Aspoester, wat ’n bietjie skuldig gevoel het, want hy het geweet dat Steenbokkie die waarheid praat. „Maar jy is tog partydig. Ek dink …”

„Ek dink ons moet nou ’n end daaraan maak,” sê Rinkals. „Lê plat.…”

„Ag nee a,” sê Aspoester. „Moenie so vinnig wees nie! Gee ’n man ’n bietjie tyd! Kom ons vra nog een … nog net maar een. As hy dieselfde sê, dan gee ek in … ek sweer dit … toe tog …”

„Nouja,” sê Rinkals. „Ons sal nóg iemand vra. Maar dis dan ook die laaste. As dit weer teen jou gaan, dan moet jy buk of platlê.”

Toe hulle wegstap sê Aspoester:

„Netnou het ek gedink ons Hantamse wêreld is die mooiste wêreld op aarde en dat daar niks is wat ’n mens daarin sou wil verander nie, maar nou sien ek dat daar selfs te veel steenbokkies is.”

„Wat sê jy?” vra Rinkals. „Maak tog jou mond wyd oop as jy praat, man. Dié gemompel kan ’n slang mos nie verstaan nie.” [31]

„Ek sê maar,” antwoord Aspoester, „ek sê maar dat dit lyk of hier byeneste onder die klippe is.”

„Dit kan jy vir jou hou,” sê die rinkals. „Heuning is ’n vrot kos as daar klein uiltjies, vet na die winter reëns, te kry is. Hulle glip in soos melk en ek sê vir jou dis die lekkerste kos wat jy jou kan verbeel.”

Hulle het weer ’n end verder geloop en toe sien hulle ’n witborskraai, wat op ’n miershoop sit.

„Daar is nou iemand,” sê Rinkals. „Ons sal hom vra en as hy dieselfde sê as die ander, dan moet jy platlê. Ek is nou moeg van die saak.”

„Maar sou ’n kraai iets weet oor sulke dinge?” vra Aspoester. „Sal ons nie verder loop totdat ons ’n verstandige iemand teëkom nie?”

„Vervlaks nie!” sê Rinkals. „Ek sê jou, ek is moeg en sat van die saak. Daar moet nou ’n end aan gemaak word.”

„Dis tog ’n nare ding om so onregverdig te wees,” sê Aspoester. „Jy sal vir jou hele lewe lank berou hê, as jy so handel—teen beterwete ook. Ek sê jou, dis nie mensliewend nie. Dit is teen al die beginsels wat jy van kleinsaf-aan geleer het.”

„Ek gee nie om nie,” sê Rinkals. „Maar hier is broer Kraai. Sal jy vir hom sê, of sal ek?”

„Nee, ek sal hierdie skoot praat,” sê Aspoester. „Ek kan die saak beter voordra, want my oorlede vader was parlementslid en het baie te doen gehad met vergaderings.”

„Nou toe dan,” sê Rinkals, „Maar moenie te lank besig wees nie.”

Die kraai het na hulle staan en kyk, asof hy nie reg geweet het om weg te vlieg of te bly sit nie, maar eindelik het hy tog besluit, om hom maar kordaat te [32]hou. Hy het toe eers gemaak of hy niks van hulle gesien het nie.

„Ka-ka-ka,” sê hy, „die wêreld hier herinner my aan wat ek daarbo in die noordelike distrikte gesien het. Volop groen en baie miershope, maar min kos vir ’n respektabele kraai. Nie eers ’n dooi skaap nie! Ek sê tog … en mag ek vra wat ek vir julle twee kan doen?”

„Ons kom om raad te vra, Kraai,” sê Aspoester. „Ons het ’n moeilike vraagstuk wat ons aan jou wil voorlê.…”

„Hy bedoel dit is ’n allermaklikste vraagstuk,” sê Rinkals.

„’n Moeilike vraagstuk,” sê Aspoester en hy kyk Rinkals verwytend aan. „Ons verwag eintlik ’n Salomo, maar ons weet dat jy baie slim is, Kraai.…”

„Baie vriendelik, baie vriendelik,” sê die kraai en hy stryk oor sy vlerke met sy sterk, skerp bek. „Dankbaar vir die eer—vleiend … alte vleiend … maar verdien, ofskoon ek dit self sê … altyd eerste in vliegklas … hoogste graad sertifikaat vir opvreet van dooi skape … eerste klas dieto vir rispers vang.…”

„So het ons besluit om maar na jou te kom,” sê Aspoester. „Die saak is ’n baie gewigtige saak. Dit is ’n kwessie van lewe en dood.…”

„Nee,” sê Rinkals. „Nou oordryf jy dit. Net maar ’n saak van byt. Niks anders nie.”

„Moenie vir my in die rede val nie,” sê Aspoester. „Is dit ek of jy wat aan ons geleerde vriend die vraag voorlê?”

„Jy talm so lank,” sê Rinkals.…

„En jy is te gulsig om te byt!” sê Aspoester. „Maar om aan ons vriend die saak duidelik te maak, so en so is dit. En nou wil ons weet.…” [33]

„Nee,” sê die kraai „jy sê dis so en so, maar jy beduie nie vir my hoe dit was nie. Ek verstaan die saak nog gladnie.”

„Dis so eenvoudig soos jy maar kan dink,” sê Aspoester. „Soos ek sê, ek het hierdie … hierdie rinkals onder ’n klip gekry. Ek het die klip opgetel en hom verlos van honger en doodgaan en hy wil my nou doodbyt. Is dit …”

„Maar ek verstaan nog nie goed nie,” sê Kraai. „Onder ’n klip, sê jy? Nogal onder ’n groot klip? Eienaardig! Ongelooflik, sou ek sê!”

„Nee, daar’s niks ongeloofliks in die saak nie!” sê Rinkals. „Ek was onder die klip. Hoe ek daar gekom het, weet ek nie, maar ek was daar en ek sou van honger vergaan het as hierdie … hierdie Tweebene my nie verlos het nie. Dit erken ek.”

„En tog,” sê Kraai, en hy dink ’n bietjie na. „Ek sê, Rinkals,” sê hy dan, „jy praat van honger doodgaan. Hoe het ek dit dan? Het jy nie volop vleis nie? Stukkies rot en meerkat, en so meer nie?”

„Nee, broer Kraai,” sê Rinkals en hy skud sy kop. „Jy weet dit is nie so maklik om hier teenswoordig goeie kos te kry nie.”

„So het ek gedink,” sê Kraai en hy bekyk Aspoester sydelings. „En hoe staan dit met jou, Tweebene? Daar is seker baie afval in die kombuis? Stukkies skaapvleis … kaiings en wat dies meer.…”

„Volop!” sê Aspoester. „Die hoenders het ’n rojale tyd by my. Hulle lewe soos konings.”

„As dit nie vir die aaklige honde was nie,” sê die kraai, en hy kyk weer so skuins na Aspoester, „sou ekself graag die werf besoek.…”

„Die hond is gewoonlik in die eetkamer as daar … [34]besoek is,” sê Aspoester, want hy was slim genoeg om te sien wat die kraai bedoel.

„Ag ja,” sê die kraai, en hy word sommer ernstig. „Dit is nou eintlik nie ter sake nie. Ek is nog nie duidelik op één punt nie. Verstaan ek goed dat ons vriend Rinkals onder die klip was?”

„Ja,” sê Rinkals. „Ek was daaronder. Dit gee ek toe.”

„Onder—nie boöp nie?” vra Kraai weer, en hy kyk ernstig, en skud sy kop.

„Ja,” sê Aspoester. „Hy was onder die klip en hy kon dit nie roer nie. Die klip was te swaar vir hom. As ek hom nie daaruit gekry het nie, dan sou hy nou nog daar wees.…”

„Met permissie,” sê die kraai, „met permissie, dit kan ek werklik nie glo nie.”

„En tog was dit so!” sê altwee.

„Nee,” sê die kraai. „Ek moet dit eers met my eie oë sien, voor ek dit kan glo. Neem my nie kwalik nie, maar dit is te veel geverg van ’n mens se geloof. Onder die klip sê jy, onder … nee” en hy skud weer sy kop.

„Maar ek sê mos vir jou dit was so!” sê die rinkals.

„En tog, met permissie,” sê die kraai, „ek kan dit nie glo nie. Maar ons kan dit maklik toets. Wys my die plek waar die eienaardige gebeurtenis voorgeval het. Is dit ver hiervandaan?”

„Omtrent ’n myl,” sê Aspoester. „Ons kan daarnatoe gaan as jy wil.”

„Kom dan,” sê die kraai. „Ek wil graag dit sien. Onder die klip, sê julle … merkwaardig … hoogs merkwaardig! Nog nooit van so iets gehoor nie … buitengewoon is geen naam daarvoor nie!… Onder die klip!” [35]

„Kom ons sal hom wys,” sê Rinkals. „Ek word moeg van al die gesanik. Ons sal hom wys waar dit gebeur het en dan kan jy gaan platlê, dat ek vir jou kan byt.”

Die drie het toe teruggegaan. Broer Kraai het stadig vooruit gevlieg, maar af en toe het hy verby Aspoester gevlieg en aan hom gefluister: „As ek jou kom besoek, sal die hond seker in die eetkamer wees?” En Aspoester het gesê: „Ek sal sorg daarvoor.”

„Wat brom julle twee so baie?” vra Rinkals, wat dit nie gehoor het nie.

„Ek sê maar net,” sê Aspoester, „ek sê maar net vir broer Kraai dat die reën nie veraf is nie. Dit steek al op in die ooste.”

„Daar gee ek niks voor om nie,” sê Rinkals. „Reën of mooi weer is dieselfde vir my, as ek maar iets te vreet kry.”

Toe hulle by die plek kom waar Aspoester die rinkals verlos het, wys hy vir die kraai die klip waaronder die slang gelê het.

„Regtig ’n baie groot klip,” sê die kraai en hy spring daarop en kyk of daar niks te eet was nie. Maar al die goggatjies het al weer weggekruip en daar was niks nie.

„Alte groot vir so ’n slang,” sê die kraai. „Ongelooflik! En tog, jy sê, hy was onder hierdie klip?”

„Ja!” sê hulle altwee.

„Sou u so goed wees om weer te gaan lê,” sê Kraai aan Rinkals. „Net soos u daar voorheen gelê het. Ek kan dit waarlik nie glo, tensy ek dit met my eie oë sien nie.”

„Wat ’n gedoente oor ’n kleinigheid,” brom Rinkals en hy rol hom op in die holtetjie waar die klip [36]gelê het. „Waarom kan ek hom nie maar byt nie, dan is die saak mos afgedaan. Maar so het ek gelê. Die klip was natuurlik bokant my.”

„So,” sê die kraai en hy kyk weer skuins na Aspoester. „En die klip was boöp jou. Merkwaardig!… buitengewoon merkwaardig! Ongeloofbaar! Ek sou graag wil sien of dit so is. Rol tog asseblief die klip boöp hom, Tweebene.… So … merkwaardig.…”

Aspoester het die klip boöp die slang gesit en die slang het dadelik begin te kerm, want die swaar klip het op hom gedruk.

Broer Kraai het sy kop eenkant-toe gesteek en geluister.

„Kan u werklik nie uitkom nie?” vra hy. „Merkwaardig … probeer tog!”

„Nee, ek kan nie!” skree Rinkals en sy stem was flou, want hy had dit baie swaar onder die klip. „Jy moet die klip optel.…”

Aspoester wou dit net doen.

„Kyk, so het ek hom opgetel,” sê hy en hy buk oor die klip, maar broer Kraai pik sy hand.

„Wat dan?” vra Aspoester.

„Hy wou jou mos gebyt het,” sê broer Kraai. „Laat hom nou maar bly waar hy is, dan kan hy jou mos nie byt nie.”

„Maskas, maar dis reg!” skree Aspoester. „Dankbaar, Kraai, dankbaar.”

En hy spring sommer van blydskap drie voet vier duim in die lug en val amper terug op Kraai.

„Bedaar, bedaar!” sê Kraai. „Ons sal hom nou maar hier laat staan en jy kan huis-toe gaan. Môre, so omtrent sonop, sal ek op die werf wees. Ek dink die vroeë môrelug is ongesond vir honde.…” [37]

„Ja,” sê Aspoester, wat nou regtig dankbaar was, „Floors het ’n bietjie rumatiek, want hy is al oud. Ek sal sorg dat hy warm in die kombuis bly as jy kom.”

En daarna het Aspoester huis-toe gestap.

„Ons Hantamse wêreld,” sê hy vir homself, „is tog baie mooi. En een van die mooiste dinge hier is die witborskraaie. Eerste klas voëls, daardie, wat behoort beskerm te word.” [38]

[Inhoud]

V.

Die Klappertjie.

Die bontgekleurde Koelies was druk besig om die kiste weg te dra. In die pakhuis was dit warm en bedompig, want dit was in die middel van die somer en die nartjiebome—wat nartjies so klein soos okkerneute dra—was al amper aan die bloei. Die blou eentjies het sedig rondgeswem tussen die groot wit waterlelies, wat op die water van die agterplaas-fontein gedryf het. „Warm is dit, baie warm,” het die klappertjie gesug, want hulle het net die rooi papier om hom vasgeplak en hom saamgebind met die agt dosyn ander klappertjies wat ’n pakkie sou uitmaak.

„Dis tog benoud hier, met so baie ander mense heeltemal teen jou,” het die klappertjie gekerm. „Alleen sou ek dit kan dra, maar so vas gebind en nogal met bamboestou, maak ’n mens gedaan. Waar gaan dit nou na toe?”

Die stadige ou mandaryn, aan wie die fabriek behoor het, het op en af geloop om te sien dat sy Koelies goed werk. Sy swart kophaar was gevleg in ’n lang stert, wat tot agter sy voete op die grond geval het, met ’n wit sydraad daardeur gevleg en op sy blou petjie was die kraalknoop, wat bewys het dat hy ’n edelman van die soveelste rang was.

„So ’n mandaryn sou ek tog graag wil wees,” het die klappertjie gesê, want hy het nie geweet dat die mandaryn aan hartkwaal ly en die lewe maar baie ongerieflik vind nie. „Dit moet prettig wees om so ryk te wees en soveel goed te besit.”

„Ek weet nie,” sê die voetsoekertjie, wat hom gehoor het en wat nog sonder sy papieromhulsel was, „ek weet [39]nie. Vir my is die vryheid die beste—om rond te spartel soos jy wil, net soos die goue vissies onder die lelies daar in die fontein swem.”

„Elke mens het tog sy beskikking,” sê die vuurpyl, wat klaar vir inpak was. „Hoe hoër jy gaan, des te beter vind jy dit. My oupa het my dit gesê en hy het tot tweehonderd voet in die lug gespring.”

„Ek weet van jou oupa,” sê die voetsoekertjie en trek sy neus op. „Hy het verongeluk op ’n bruilof in Pekin. Nie alte welvarend nie, na my vertel is. Hy het net maar ’n stok agtergelaat.”

„Dit doen ons algar,” sê die vuurpyl. „Ons rykdom steek in ons geskitter. Dan sien jy wat ons werd is.”

„Julle kan tog nie kompeteer met die sterrereën nie,” sê die voetsoekertjie, wat snipperig was. „En wat van die groot vuurwerke? Daarby kom julle nooit nie. Ek het een gesien wat amper driehonderd tree lank was en wat vir ’n halfuur staan en brand het. Dit noem ek sukses.”

„Wat dink jy sal van ons word?” vra die klappertjie, want die voetsoekertjie het met so ’n gesag gepraat, dat hy gedink het dat sy tog iets moet weet. Dit is die indruk wat baie praterige mense maak, totdat jy uitvind dat hulle net maar praterig is en nie van ondervinding kan praat nie.

„Dit weet ek goed,” sê die voetsoekertjie. „As daar êrens pret is, dan word ons gebruik. Ek hoor die keiser sal aanstaande week ’n groot kermis hou. Allerhande vermake sal georganiseer word. Dertien rowers sal onthoof word op die markplein. Dit sal ’n pret wees.…”

„Daarby wen ons niks,” sê die vuurpyl. „Dit sal mos by daglig geskied.”

„Nee, maar in die aand kry ons ’n beurt,” sê die [40]voetsoekertjie. „Ek hoor daar sal honderdduisend kerse aangesteek word en miljoene klappers sal afgeskiet word. Miskien is jy een daarvan.…” en sy knik die klappertjie welwillend toe.

„Maar hoe ’n soort ondervinding is dit nou?” vra die klappertjie, wat nog gladnie geweet het hoe dit met hom sou gaan nie. „Dis mos ’n soort uitmekaarspat, nie waar nie?”

„Natuurlik,” sê die vuurpyl, voordat die voetsoekertjie kon antwoord. „Dit is die mooiheid daarvan. Jy kan jou nie verbeel, hoe plesierig dit is as jy boontoe reis nie. My oupa het my herhaalde male daarvan vertel. Ek sien dit met belangstellende vreugde tegemoet.”

„En nog meer,” sê die voetsoekertjie. „Daar sal tafels wees, vol gelaai met gemmerkoek en gekonfyte suurlemoene en daar sal volop spanspekpitte wees, vir algar om van te eet. Ek hoor die keiser sal met sy hele hof teenwoordig wees. Wat ’n eer vir ons!”

„Maar ek sien nie in,” sê die klappertjie, „ek sien nie in dat dit vir ons iets sal baat nie. Ons eet tog nie spanspekpitte nie en die keiser sal nie notiesie van ons neem nie.…”

„Van my seker!” sê die vuurpyl, trots. „Hy sal moet opkyk as ek losbars. Daar is sewentig goue sterre in my en ’n halfdosyn groen sterre, so groen soos die seewater. Hy sal moet opkyk, dit beloof ek jou.”

„En van my ook,” sê die voetsoekertjie, hoogmoedig. „Ek sal langs die grond seil en vir hom ’n lied sing. Ek het dit eergister gedig, toe hulle my volgelaai het met kruit. Dis ’n baie mooi gedig. Ek kom van ’n famielie van digters. Wil julle dit hoor?”

„Asseblief,” sê die vuurpyl, wat altyd hoflik was. „As dit nie te lank is nie.…” [41]

„Langdradig is ek nooit,” sê die voetsoekertjie en sy begin opsê:

Waar die sterre in die groen van die helder middernag

En die pronk’rige planete naas die suiderkruis staan wag,

Waar die melkstraat soos ’n paling deur die hemelleegtes kronkel

En die bruidsluier van komete met ’n duisend liggies fonkel,

In die wye hoë ruimte van die helder middernag

Sal ons skitter soos die sterre met ons eie sterreprag.

„Nie jy nie!” sê die vuurpyl, wat ’n bietjie jaloers was, ofskoon hy hom altyd hoflik gedra het. „Jy sal mos op die grond spartel. Ek, soos my oupa, gaan boontoe.”

„Maar jy sal tog op die grond val,” sê die voetsoekertjie, ’n bietjie bitsig. „Alles kom terug op die grond. Dis waar ons algar vandaan kom en ons gaan algar terug daarheen. Ofskoon ek geen oupa het nie, weet ek dit tog.”

„Elkeen het ’n oupa,” sê die vuurpyl. „Sommige weet net nie wie hulle oupa is nie. As jy daaromtrent twyfel, vra dan maar aan die oubaas daar.”

Die mandaryn, met die kraalknopie op sy pet, het verby gestap.

„Wat maak al die vuurwerk hier?” vra hy, kwaad. „Dit moet al lank verpak gewees het. Hulle wag daarop by die markplein. Die hofmeester van die keiser het my al daaroor gevra. Dra dit weg, gou!” [42]

Die Koelies het sommer die voetsoekertjie in ’n pakkie gemaak en die vuurpyl saamgebind met ’n halfdosyn ander vuurpyle. Die voetsoekertjie het bly sing, totdat sy agter die papier was. Selfs toe kon jy haar nog hoor:

In die wye hoë ruimte van die helder middernag

Sal ons skitter soos die sterre in ons eie sterreprag.

Die klappertjie het hulle ook in ’n pakkie gemaak. Hy was nou in die donker en dit was nie plesierig nie, want hy was vasgebind aan sy maats en hulle was algar slaperig en wou nie praat nie. Maar die klappertjie was vol moed en gladnie vaak nie.

„As ek net maar kon sien, wat daar omgaan,” sê hy. „Ek sou graag die keiser en sy hofstoet te sien kry. Ek hoor hy is ’n mooi vet kêrel. En daardie rowers ook. Dit moet aaklig wees om ’n rower te wees en jou kop te laat afkap. Dan wil ek liewerster bars, want dan maak jy tog ’n geluid en die mense skep daar plesier in. Maar geduld is ’n deug en ek sal maar geduldig wag tot ek iets te sien kry. So kan dit mos nie vir altyd aanhou nie.”

Die Koelies het die pakkies weggedra na die groot kanaal. Daar het die kanaalbote gelê en daarop het die klein seuntjies, algar in wye lang broeke, met stertjies—die seuntjies natuurlik, nie die broeke nie—en met bontgekleurde jassies. As daar ’n wit lyntjie in die seun se kophaarstert ingevleg was, dan het jy dadelik geweet dat hy nog nie getroud was nie; as daar ’n rooi lyntjie ingevleg was, dan het jy ewe dadelik geweet dat hy getroud was. Want in daardie land trou die seuns baie jonk. [43]

O, wat ’n drukte was dit daar op die kanaal. Die seuntjies het dit selfs baie druk gehad, want hulle moes vinnig wegswem vóór die groot kanaalbote, wat dwars heen en weer oor die water roei, en die swawels moes ewe vinnig of nog vinniger vlieg om die bye te vang wat uit die byeneste op die bote kom. Want sommige van die kanaalbote was klein dorpies, met tuintjies daarop en prieeltjies. Aan die kant van die rivier het baie mense geloop en besigheid gedryf of gespeel, want in daardie land speel die oumense ook en nie net die kinders nie. Daarom noem die mense dit ook die Hemelse Ryk. Ja, dit was druk daar op die kanaal. Vanaand sou die groot kermis wees en algar was van plan om dit by te woon. Jy hoef niks te betaal om die kermis by te woon nie en oud en jonk, ryk en arm, was welkom daar. En iedereen het reeds geweet van die rowers wat daar sou onthoof word. Dit sou vir jou ’n pret wees.

Op die kleiner bootjies het die langnekkige dartervoëls slaperig gesit, elkeen met ’n ring om die nek, want hulle was makvoëls wat gebruik word om vis te vang. Die vissers was aan slaap, want dit was middag en dit was baie warm. Op die groter kanaalbootjies het die mense tee gedrink. Dit doen hulle daar elke dag, of hulle op die kanaalbootjies is of nie.

Die Koelies het die kiste vuurwerk op die bote gelaai en die mandoor het met groot letters die adres op die kiste geverf. Met ’n kwas en ’n stuk ink, want die ink is daar hard en moet eers in water gevryf word, om die vloeibaar te maak. En die letters wat hulle gebruik is baie koddig. Elkeen lyk asof hy te veel mos gesuip het en dus dronk is—smoor dronk. En een letter is ’n hele woord. [44]

Dus het die mandoor maar glo A B C op die kiste geskryf, wat beteken:

Aan die Hofmeester van die Allermagtigste en Alombekende Grootbaas, die Roemryke Keiser van die Hemelse Ryk; vuurwerk; moenie naby die warmte van die stoomketel sit nie. Anders ontplof dit. Gelewer deur die firma Heng-Shu-Ling, vuurwerkmakers vir sy Allerhoogste die Keiser.

Duisende kerse het gebrand en duisende lanterns. Dit was algar papierlanterns, gemaak van rooi, en blou, en grasgroen, en goudgeel papier, en daar was sommige van bont papier, waarin die kleure soos dié van ’n reënboog was of soos die kleur wat in die binneste van ’n seeskulp sit. Die lig het dof deur die papier geskyn, maar algar tesame het genoeg lig gegee om die markplein helder te verlig.

Die markplein was nie eintlik die markplein nie, want dit was buite die keiserstad, myle ver buite, waar die grond afgedaal het, afdraand na die groot rivier, wat nou en dan soos ’n bruisende berg binne gestoot het. Hier op die groot plein het hulle jaarliks kermis gevier en op die tye van kermis het die keiser en sy hof altyd die plesierighede bygewoon, om te toon dat hulle tog ook maar mense was, wat kon geniet en voel soos ander mense. Maar die keiser het altyd op ’n verhoog gesit, alleen, met sy eerste minister; ’n mandaryn van die eerste rang wat die voorreg geniet om ’n kristalknopie op sy pet te dra, twee trappies onder hom. Die keiser het altyd ’n waaier gehad, net soos elke ander persoon wat op die markplein was, om hom te waai en koel te hou. En hy het altyd tee gedrink. Eersteklas tee wat die karavane bring van die verre hoëlande, tee wat lyk soos buskruit en wat ’n goudgeel [45]tee maak, wat die keiser sonder melk en suiker gedrink het. Koppiesvol! ’n Mens kon vra waar hy plek gekry het vir al die tee wat hy ingeslurp het.

Dit was nou eenmaal die keiser se liefhebbery—om tee te drink. Toe hy gebore was, het hy daarmee begin. In plaas van melk, het hy tee gedrink. In plaas om aan ’n bottel te suie, het hy tee ingesluk uit ’n klein porseleinkoppie, wat so groot soos ’n eier was en so dun soos ’n seepblasie. Dis seker daarom dat hy so goedhartig was. Want goedhartig was hy. Vir ’n keiser nogal baie goedhartig. As hy ’n rower moes veroordeel, om onthoof te word, het hy altyd bygevoeg:

„En sorg dat hy ’n lekker koppie tee kry, voordat sy kop afgeslaan word!”

Wat ’n bewys is van sy goedhartigheid, want anders sou hy nie soveel oorgehad het, om aan die rower se plesier te dink nie. Volgens die keiser was die grootste plesier in die lewe om tee te drink.

Die twede grootste was om vuurwerk te sien afskiet.

Om die twede plesier te geniet, het hy die aand na die markplein gekom om hom aan sy duisende onderdane, in die lig van die duisende lanterns, te vertoon.

„Lon-sin,” sê die keiser, „as ek my sestiende koppie tee opgedrink het, kan jy maar vir hulle sê dat hulle die vuurpyle moet afskiet.”

Lon-sin was die eerste minister en het self ’n pakkie klappers in sy sak gehad, wat hy van plan was om self af te skiet. Want in daardie land neem die oumense eweveel lus in klapperskiet as die kinders, en soms nog meer.

„Lon-sin,” sê die keiser weer, „as ek my twintigste koppie in het, kan jy vir hulle sê dat hulle nou maar die rowers kan laat onthoof.” [46]

„Ek slaan my beentjies stukkend op die Allerhoogste,” sê Lon-sin—want op die eienaardige manier was dit die gewoonte om die keiser toe te spreek.—„Ek slaan my beentjies stukkend. Hierdie niksbeduidende stukkie vleis sal dadelik bevel gee, dat die eerbare rowers hulle nie-te-waardeerde koppe verloor.”

„Dit sou goed wees, Lon-sin,” sê die keiser, „as hulle ’n bietjie nader vorentoe kom. Dan kan ek beter sien, wat daar met hulle gebeur. Nie dat ek nie dit reeds al baie male gesien het nie, maar om te kyk of dit alles stigtelik afloop.”

„My ingebore lamlendigheid van verstand,” sê Lon-sin, „laat my vermoed dat die geëerde rowers dit stigtelik genoeg sal vind. Ek kruip op my onaansienlike buikie om die Allerhoogste se bevel te volbring.”

Dit was maar so ’n manier van praat, want Lon-sin se buikie was gladnie onaansienlik nie. Dit was soos ’n stikvat, want hy was taamlik vet.

Toe die rowers tevoorskynkom en agter hulle die skerpregters met hulle skeermesskerp-sabels, het die keiser sy vyftigste koppie tee ingesluk. Hy was toe nog goedhartiger as ooit tevore.

„Gee hulle ’n koppie tee,” sê hy, vriendelik „en ’n klappertjie om af te skiet. Dit sou tog alte wreed wees om hulle kop af te slaan, voordat hulle ’n bietjie plesier gehad het.”

Juis op die oomblik het die Koelies aangekom met die kiste. Die hofmeester het die kiste dadelik oopgemaak en ’n paar pakkies klappers na die verhoog gebring, waarop die keiser gesit het. Daaronder was die pakkie waarin die klappertjie was.

Toe die eerste minister die papier van die pakkie stukkend skeur, het die klappertjie die geleentheid gekry om te sien wat daar gaande was. Hy het al die [47]lanterns gesien, en gedink dat hulle tog baie mooi was. Hy het die vet meneer Lon-sin gesien en dadelik gedink dat dit die keiser was.

„Nou is ek tog in goeie hande,” sê hy. „Ek sien nie alleen die keiser nie, maar ek word gehanteer deur die keiser. Wat ’n eer! Die voetsoekertjie sal van isegrimmigheid vrek as sy daarvan hoor.”

Maar die voetsoekertjie was al klaar. Hulle het haar afgeskiet en sy het gesis dat dit ’n pret was. Maar dit het maar ’n rukkie geduur, want sy was gou uit.

Lon-sin het ’n paar van die klappertjies losgemaak en aan ’n bediende gegee om dit aan die veroordeelde rowers te gee. Een van die klappertjies was dié klappertjie.

„Nou wat sal gebeur?” vra die klappertjie verwonderd. „Ek wil tog liewerster by die keiser bly.”

Maar die rower het hom al in die hand en die rower kom vorentoe, totdat hy voor die keiser staan en begin te praat:

„Allerhoogste,” sê die rower, „my beentjies breek ek stukkend op Allerhoogste se genade”—wat weer maar so ’n manier van praat was, want hy sou die eerste gewees het wat teen so ’n brekery sou geskree het. „Die minderwaardige skepseltjie wat voor jou staan sou graag nog ’n bietjie langer sy onnuttige lewe wil geniet.”

Die keiser knik vriendelik.

„Dit kan ek goed verstaan,” sê hy. „Selfs ek, niksbeduidende keiser wat ek is, sou in soortgelyke omstandighede my ewe waardelose lewe ’n bietjie wil uitrek. Maar die volk is nou hier om te kyk, hoe jy kop afgeslaan word, en dit sou te naar wees om die volk teleur te stel. Ek vrees dat die genot van jou prysenswaardige bestaan nou sal moet ophou.” [48]

„Daaraan val nog te twyfel,” sê die rower, „as ek my so mag uitdruk. Volgens die leer van die beroemde Konfu’tse—op wie se gedagtenis ek ootmoedig wat daar oorbly van my agste klas soort beentjies in flenters slaan—is daar niks wat seker is nie.…”

„In hierdie geval,” sê die keiser sag, „dink ek selfs die beroemde Konfu’tse sal met my instem, dat die sekerheid van die ophou van jou bestaan, hoe eerbaar die bestaan ook is, ’n saak is wat nie aan twyfel onderhewig is nie. Die skerpregter sal dadelik die sekerheid bevestig deur ’n klein houtjie op jou eersteklas nek te gee met sy skeermesskerp-sabel.…”

„As ek die astrantheid mag hê,” sê die rower, „as ek die astrantheid mag hê om die deur-die-wêreld-benyde Allerhoogste in die rede te val, wil ek net maar opmerk, dat die begrip van sekerheid soos opgevat deur die blinkende verstand van die beroemde Konfu’tse en die ewe skitterende geestesvermoë van die Allerhoogste, nie akkordeer met dié van hierdie misvormde skepseltjie nie. Ek wou maar sê dat hierdie aanstootlike mensie, wat die eer het om voor die Allerhoogste sy beentjies te breek, gladnie kan toegee nie dat daar ’n volkome sekerheid bestaan omtrent die onmiddellike ophou van sy onbetwisbaar niksbeduidende lewe nie.”

„Dit is mos nou wysgerigheid,” sê die klappertjie, wat alles aangeluister het. „As dit langer duur, sal ek baie slim word. ’n Mens leer altyd iets, al is dit per abuis.”

„Nee!” sê die keiser. „Alhoewel my stompsinnigheid van verstand dit onmoontlik vir my maak om die fynheid van jou ongetwyfeld leersame redenasie volkome op te vat, skyn dit vir my dat, in die benarde omstandighede waarin jy jou op die oomblik bevind, dit ewe seker is, dat jy nou sal doodgaan as dit seker is, [49]dat daardie klappertjie wat jy in jou benydenswaardige mooi hand hou, sal bars as jy hom aansteek.”

„Nou het hulle dit met my te doen,” sê die klappertjie. „Ek wens dat die voetsoekertjie hier was om te hoor. Magtig, sy sou van isegrimmigheid uitgebrand het.”

„In dié geval,” sê die rower, „sou hierdie alles-behalwe-plesierige ek aan die luisterryke Allerhoogste voorstel, dat, as die sekerheid omtrent die bars van die klappertjie wat ek in my kinderagtige hand hou, bewys word, nie ’n sekerheid te wees nie, my potsierlike lewe nog ’n kans gegee word, om ’n poging te maak om tot die toestand van deeglikheid, waarvan die oralsbeminde Konfu’tse elders praat te geraak.…”

„Wat bedoel die vent, Lon-sin?” vra die keiser, wat nou sy vyf-en-sewentigste koppie tee ingesluk het en ’n bietjie dromerig geword het.

„Ek breek my beentjies op u,” sê Lon-sin, „maar as ek die agbare rower goed verstaan—en selfs so ’n nietige skepsel soos ek, kan nog staatmaak op sy alte verroeste verstand—dan sê hy dat, as die klappertjie aangesteek word en nie bars nie, dit ’n bewys lewer, dat dit nie so uitgemaak seker is, dat die klapper sal bars as hy aangesteek word nie.”

„En wat dink jy daarvan, Lon-sin?” vra die keiser, besig met sy ses-en-sewentigste koppie tee.

„Dit is wat die mense logika noem, Allerhoogste,” sê Lon-sin. „Ek breek my beentjies—wat daar van hulle oorbly—weer en ek sê dit is logika.”

„In dié geval,” sê die keiser, „kan ons ’n proef neem. Steek maar die klappertjie aan, agbare rower.”

Daar die rower geketting was, kon hy dit nie so maklik doen nie, maar eintlik het hy tog die lontjie van [50]die klappertjie aan brand gesteek en die brandende klappertjie voor hom op die grond gegooi.

„Nou bars ek,” sê die klappertjie. „Sies—die lont ruik nie lekker nie. Ek wonder hoe dit sal voel as ek bars. Maar dis tog ’n heerlike iets om te bars om die logika te bewys.”

Hy het nie geweet wat logika was nie, maar dit was maar weer net so ’n manier van praat. Baie van ons het dit.

Die lont het uitgebrand maar die klappertjie het nie gebars nie. Dit het op die grond bly lê, dood.

„Onder die benarde omstandighede,” sê die rower, „soos Allerhoogste self aan hierdie niksnuts skepseltjie gesê het, is die sekerheid van die bars van hierdie vervlakste klappertjie bewys as ’n onsekerheid, en die woorde van die alom geprysde Konfu’tse bewaarheid deur die gebeurtenis.”

„Dit skyn vir my of die vent reg het, Lon-sin,” sê die keiser en hy slurp sy tagtigste koppie tee in.

„Dit is logika, Allerhoogste,” sê Lon-sin, wat die hele gedoente vervelig vind, omdat hy self sy klappertjie wou gaan afskiet.

„In dié geval kan jy maar trap, agbare rower,” sê die keiser. „Daar bly genoeg oor van jou maters om vir die volk plesier te gee.”

Die klappertjie het op die grond bly lê. ’n Druppeltjie bloed van een van die rowers wat onthoof is, het op hom gespat, maar hy het dit nie gevoel nie, want hy was dood. Die aand, toe die kermis oor was, het een van die seuntjies met die wye broeke hom opgetel.

„Hier’s ’n dooi klappertjie,” het hy gesê. En hy het hom oopgebreek en die kruit binne aan brand gesteek. [51]

„Ss-sssis,” sê die klappertjie en dit was die laaste wat hy gesê het.

En nie eers die vuurpyl het geweet dat die klappertjie ’n man se lewe gered het, omdat hy nie ’n goeie klappertjie was nie.

Die keiser het sy tweehonderd-en-veertigste koppie tee gedrink en toe gaan slaap. [52]

[Inhoud]

VI.

Gogga en Gorra.

In die ou, ou dae, toe daar nog geen gewone mense, soos ek en jou pa, of jy en jou sussie, ou seun, hier op die aarde was nie, toe was daar twee goed wat op die plek gelewe het, wat ons nou Pretoria noem.

In die heerlike Oktobermaande het hulle daar gelewe. Want, selfs in die ou, ou dae, toe daar nog geen gewone mense op die aarde was nie, was dit lekker in die sonskyn en die geur van die duisende doringbome, wat juis in dié tyd wolke van goudgeel dons in die lug laat rys het, om aan algar te wys hoe rojaal hulle kon omgaan.

Dis waar, daar was nie jakarandas nie en die mooi blou van die bloeisels het ’n mens nie kon sien nie. Maar die lug was ewe blou bo, en diep in die bosse—want daar was bosse toe op die koppies—het die lied van die groot kokkewiet, wat in die dae so groot soos ’n arend was, getril.

Nou, in die ou, ou dae het daar twee goed gelewe.

Die een se naam was Gogga en die ander s’n was Gorra.

Ek weet nie, ou seun, wie vir hulle hierdie name gegee het nie en dit kom ook nie daarop aan nie, want dit is al so lank gelede, dat hulle tog nie sal omgee as ’n mens hulle verkeerd noem nie.

Gogga was nog snaakser as Gorra en altwee van hulle was so snaaks, dat as jy hulle vandag vir die eerste maal op die straat sal aantref, jy jou amper sal doodlag. So koddig was hulle. Potsierlik, soos oom Andries sê.

Gogga was klein en tingerig, met beentjies wat soos spinnekop-beentjies lyk en wat skaars drie duim lank [53]was. Op sy kop het hy horings gedra, tweemaal so lank as sy beentjies, waarmee hy gevoel het. Sy een oog was op die end van sy neus, wat amper so lank as een van sy beentjies was. En behalwe die voelhorings, die beentjies en die neus met die een oog, was daar amper niks van hom te sien nie, want sy lyfie was so pieperig, dat jy baie hard moes kyk om dit raak te sien. En wat kop betref, was syne net so groot soos ’n klein speldekoppie.

Gorra, daarteen, was baie groot. Hy was so groot soos ’n olifant, wat vet geword het en dus groter, ou seun, as ’n gewone olifant. Sy bene was kort en dik en sy bors was soos ’n stikvat en het gedreun soos ’n groot tamboer. Sy bokbaard—want hy het ’n bokbaardjie gedra, waarop hy nogal baie trots was—was net onderkant sy oë, en sy mond was bokant, op sy voorkop. In plaas van voelhorings, het hy ’n lang stert gehad, waarmee hy in die rondte geswaai het om die warm-as weg te dryf. Selfs in dié dae was die warm-as maar lastig op die plek waar Pretoria vandag is.

Maar dis nie die moeite werd om vir jou alles te sê hoe Gorra en Gogga daar uitgesien het nie, ou seun. Al gaan ek aan vir ’n halfuur om hulle te beskryf vir jou, sal jy tog nie vir jou kan verbeel hoe hulle gelyk het nie, want hulle was eenvoudig so komieklik soos ’n nagmerrie wat jy van agterstevoor bekyk.

En jy weet dit is so snaaks dat dit soms vir jou amper bangmaak, veral as jy alleen slaap.

Gogga was die jongste, ofskoon hy hom altyd gedra het asof hy die oudste was. Vir so ’n klein skepseltjie was hy nogal parmantig en daar het baie slimmigheid gesteek in daardie speldeknop-koppie van hom.

Gorra, die oudste, was gladnie so gevat nie. Tussen ons, hy was maar wat die mense vandag sê, „sonder [54]een van sy varkies.” Jy kon hom maklik om die hoekie gelei het, want hy sou alles geglo het, wat jy hom maar ook vertel het. Hy was sag geaard, soos groot mense, wat baie groot is, gewoonlik is en het baie verdra. Jy kon perd-perd op sy rug ry, as jy in die dae daar gewees het, ou seun, en hy sou nie vir jou met sy stert weggedryf het nie soos hy die warm-as weggedryf het.

Gorra het baie van seepsop gehou en Gogga van wilde heuning.

Dit moet jy onthou, my liewe ou boetietjie, want die hele geskiedenis wat ek vir jou vertel draai uit op seepsop.

Jy weet tog wat seepsop is. Jy maak dit van seep en water en dan kry jy ’n strooitjie en blaas daar seepballe van. As jy handig genoeg is, kan jy aan elkeen van die seepballe ’n klein mannetjie met ’n vlaggie in die hand vasmaak en die balle dan in die lug laat swewe, en kyk hoe mooi die mannetjies rondreis.

Dit kon jy nie in Gorra en Gogga se dae gedoen het nie.

In die eerste plaas, jy was nie daar nie, en in die twede plaas, daar was toe geen seep nie. In die derde plaas, daar was nie ’n mannetjie nie en dus sou jy nie geweet het om ’n mannetjie uit papier te sny nie, want jy sou nie geweet het hoe hy moet lyk nie.

Wees dus maar bly, ou boet, dat jy nie toe gelewe het op die plek wat nou Pretoria is nie.

Maar Gogga en Gorra het daar gewoon en Gorra was, soos ek gesê het, baie lief vir seepsop.

Omdat ek nou gesê het, dat daar in die dae nie seep was nie, dink jy, wysneus klein seuntjie, dat ek verkeerd het. Hoe kan Gorra nou van seepsop gehou het as daar nie seep was nie? [55]

Sit daar op jou hurke en ek sal jou die ding duidelik maak.

Ofskoon daar in die dae nie seep op die aarde was nie, was daar tog baie seep in die see. Die branders het dit op en neer geslaan en die seepsop het die skuim boöp die branders gemaak. Dit maak dit vandag nog, maar intussen het die see so sout geword, dat jy nie meer met daardie seepsop kan was nie. En Gogga was die oorsaak daarvan, dat dit so sout geword het. Wag, ek sal jou vertel.

So op ’n heerlike Oktoberdag—hulle het natuurlik nie geweet dat dit Oktober was nie, en hulle het die maand glo iets anders genoem, wat ek noual vergeet het—ontmoet Gogga vir Gorra. Hy kon Gorra met sy een oog—wat op die punt van sy neus was—sien, maar om sekuur te wees (want ’n mens se oë bedrieg jou soms) het hy vir Gorra oor en oor gevoel met sy voelhorings.

„Buk, Gorra,” sê hy, met sy pieperige stemmetjie, „ek wil jou voel om te weet of dit regtig jy is.”

Gorra het toe gebuk en Gogga het hom orals gevoel. Dit het ’n lang tyd geneem voordat Gogga klaar was, want daar was so baie van Gorra om te bevoel, maar eindelik, na vier uur, was hy klaar.

„Jy kan nou weer opstaan, Gorra,” sê Gogga, „want nou weet ek dat dit regtig jy is. My oog het my nie bedrieg nie. Maar dis altyd beter om sekuur te wees, nie waar nie? Jy kon miskien ’n boomstam gewees het, of ’n swerm bye of so iets. My pa het altyd gesê, wees versigtig as jy met die onbekende te doen het.”

„Jy kon my mos maar gevra het,” sê Gorra, wat amper styf was, omdat hy so lank gebuk het, want hy was swaar.

„Daaraan het ek nie gedink nie,” sê Gogga. „Maar [56]dit maak nie saak nie. Dis altyd die dom mense wat met die maklikste begin.” En hy vrywe sy voelhorings teenmekaar.

„Wat kom jy nou hier uitrig, Gorra?” vra hy weer, „Ek het jou vir ’n lang tyd nie gesien nie en het gedink dat die groot likkewaans jou beetgekry het.”

„Nee, Gogga,” sê Gorra, „ek gee niks om vir die groot likkewaans nie. Eergister het ek een opgevreet. Ek was ’n bietjie moeg en wou ’n stukkie biltong kou, maar ongelukkig het ek my biltong vergeet. Toe het ek net ’n likkewaan sien verbygaan en ek het hom maar opgevreet.”

„En wat kom jy nou soek?” vra Gogga.

„Ek kom kyk of jy nie seepsop het nie,” sê Gorra. „Ek verlang so baie na seepsop. Ag, Gogga, jy weet nie hoe aaklig dit is om sonder seepsop te lewe nie. Man, dis ’n naarheid. Smôrens as my oë oopgaan, dan verlang ek na seepsop. Saans as ek gaan slaap, kry ek bitter swaar, omdat daar nie seepsop is nie. Ons is so ver van die see, dat ek gladnie meer van die goed kan kry nie. Ek het gedink jy en ek moet ’n plan maak.”

„Nou ja,” sê Gogga, „as jy my wil help om wilde heuning bymekaar te maak vir die winter, sal ek probeer om ’n plan te maak om die see hier te bring. Dis ’n moeilike saak, maar ’n slim mens soos ek sal darem nog ’n plan kan maak, as ek my daarop toelê.”

„Dis wat ek gedink het,” sê Gorra. „Daar’s heuning in oorvloed, want die bye werk goed, en ek sal vir jou soveel neste uithaal as jy maar verkies. Daar is ’n groot nes onder die vyeboom daar.”

„Dis al bestel deur die duiwelby,” sê Gogga, „en met hom wil ek nie gaan baklei nie.” [57]

„Ag nee a,” sê Gorra, „hy beteken niks nie. Hy’s sommer ’n mot.”

„Ja, so sê hulle,” sê Gogga, „maar ek vertrou die saak nie. As hy my aan die horings beetkry, kom ek miskien sleg daarvan af.”

„Hy kan mos nie byt nie,” sê Gorra. „Maar in alle geval, ek sal jou heuning genoeg laat kry, as jy my maar daardie plan uitwerk, waarvan ons gepraat het.”

„Dis maklik genoeg,” sê Gogga. „Ons moet net maar ’n voor maak om die seewater hierheen te lei. Die naaste see is daar by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem. Vandaar moet ons die water hiernatoe bring.”

„Maar dit is mos baie ver,” sê Gorra. „En hoe sal ons die voor maak?”

„Kyk,” sê Gogga, „jy het mos ’n stert. Jy moet net platlê op die grond en met jou stert teen die grond slaan. As jy aanhou klop, sal jy gou ’n voor hê. Dan gaan jy verder af lê en klop weer met jou stert op die grond. Dan nog ’n end verder en so voort, totdat die voor kant en klaar is van hierso tot by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem.”

„Hoe lank sal dit neem, dink jy?” vra Gorra.

„As jy nie gaan slaap nie,” antwoord Gogga, „sal dit maar ’n kort tydjie neem, sê tweehonderd jaar of so. Maar dan moet ons noual begin.”

„Tweehonderd jaar is darem lank,” sê Gorra, mismoedig. „So lank sou ek amper nie kan wag nie.”

„Daar begin jy al met jou gesanik,” sê Gogga. „Moet nou nie so kleingeestig wees nie. Onthou, dit het duisende jare geneem om daardie seepsop in die see te kry. Loop haal nou eers vir my ’n bietjie heuning en dan kan jy dadelik met die voor begin.”

Gorra het toe die byenes loop uithaal en met ’n hele [58]klomp heuningkoeke teruggekom, wat hy aan Gogga gegee het.

Gogga het toe smaaklik van die heuning geëet en hom toe opgekrul onder ’n anyswortelblaar.

„Ek neem nou so ’n klein dutjie,” sê hy, „jy kan maar aangaan met die voor. Sodra ek wakker word sal ek jou kom help.”

En hy begin sommer snork.

Gorra het toe op die grond gaan lê en hard met sy stert geklop. Dit was vermoeiende werk en die grond was baie hard, sodat hy nie veel uitgerig het nie. Buitendien, hy het altyd rumatiek in sy stert gehad, en binnekort was dit te seer vir hom om aan te hou met die voorgrawe. Hy het toe gedink hy sou maar ’n bietjie rus, maar net toe hy ophou, word Gogga wakker.

„Op so ’n manier kom jy nooit by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem nie,” sê Gogga. „Jy rus te gou. Toe ek so oud soos jy was, kon ek nooit rus voordat ek klaar met my werk was nie. Jy sal moet werk.”

Die arme Gorra het weer begin en die werk was so hard en sy stert het so seergekry, dat die trane in sy oë gestaan het. Die trane, wat baie sout was het in die voortjie gerol en daar gebly. Die son het hulle opgedroë en ’n laag sout agtergelaat.

Vir tweehonderd jaar het Gorra so moes werk, sonder seepsop. Elke dag moes hy eers heuning soek en dan moes hy met sy rumatieke stert op die grond klap. Op so ’n manier het hy dit eintlik reg gekry om ’n diep voor te grawe van die plek wat nou Pretoria is tot waar nou Delagoa-Baai is. Die apies het kom kyk hoe hy werk en hulle het in die sloot gespeel, ofskoon daar so baie sout in was dat hulle versigtig moes wees om nie onder die sout begrawe te word nie. Want die [59]arme ou Gorra het elke dag baie, baie trane gestort, omdat sy rumatieke stert hom so seergemaak het.

„Dis ’n mooi begin,” sê Gogga, wat weer heuning geëet het. „Dis nou nie juis ’n reguit voor nie, want dit kronkel en slinger geweldig, maar dis tog ’n voor. Ons sal dit die Apiesvoor noem. Gaan maar voort, ou maat.”

Toe Gorra sy voor ’n paar myle verder gegrawe het, het die krokodille kom kyk wat daar te doen was. Hulle was baie nuuskierig en het so rondgespeel in die voor dat hulle dit groter en wyer gemaak het.

Gogga was eers kwaad daaroor, maar later het hy gesien dat dit goed was dat die voor groter gemaak word.

„Dan kry ons meer seewater, ou maat,” sê hy. „Dis mooi van die krokodille dat hulle ons help. Ons sal die gedeelte van die voor maar Krokodilvoor noem. Gaan maar aan, ou stertklapper.”

Eindelik het die arme ou rumatieke Gorra sy voor klaargehad tot in die wêreld wat nou anderkant die wildtuin van die Sabie lê. In dié dae was dit glad anders as nou en die grond was baie sag daar, sodat Gorra mooi vordering met sy sloot gemaak het. Maar dit was nou al eenhonderd-twee-en-negentig jaar wat hy aan die werk was en sy stert was so afgeslyt dat ’n mens dit nie meer as ’n stert kon beskou nie. Dit was maar net ’n skaduwee van ’n stert—’n skaduwee wat vol met die rumatiek was.

Toe Gorra dit sien, sit hy op die kant van die sloot en begin te huil. Hy het so hard gehuil dat die trane die voor gevul het en self ’n pad gemaak het na die see.

„My maskas,” sê Gogga, toe hy dit sien. „Ons het mos die sloot afdraand in plaas van opdraand gemaak. [60]Nou kry ons nooit die seewater hiernatoe nie. Ons sal weer ’n plan moet maak.”

„Ek het genoeg van jou planmakery,” sê Gorra, mismoedig. „Ek sal nou maar hierso doodgaan sonder seepsop.”

En hy het ook daar doodgegaan, maar voor hy doodgegaan het, het hy so baie trane gehuil dat die sloot vol sout was.

Later het die reëns gekom en die sout afgespoel, seetoe. En dít is die rede waarom die see vandag so sout is.

So tenminste sê die mense wat van Gogga en Gorra iets afweet. Ek was nie daar nie, ou seun, en ek vertel jou maar die storie soos hulle dit aan my vertel het.

Wat van Gogga geword het weet ek nie. Sy kinders en sy kleinkinders lewe nog om die sloot—wat nou die Krokodilrivier is—en hulle is soms baie lastig as ’n mens nie seepsop het nie. [61]

[Inhoud]

VII.

Die Stout Seun.

Dit was in Sjiena, jare gelede.

Die seun se naam was Ah-ling. Wat dit beteken weet ek nie, want ek ken nie Sjinees nie. Maar jy weet nie eers wat jou eie naam beteken nie, Pierewiet.

„Dis mos Pieter, nie Pierewiet nie.”

Maak nie saak nie. Jy weet nie wat dit beteken nie. Elke naam het sy betekenis en joue beteken Klipsteen, want dis die Grieks vir klip.

„Daar glo ek niks van nie.”

Omdat jy so dom is. Frikkie se naam beteken „Geelbaard.”

„Dit kan ek glo. Oom Andries het mos ’n vos baard.”

Maar oom Andries is mos sy pa, swaap. As jy nou nie vir my wil glo nie, dan kan ons maar loop slaap.…

„Vertel maar van die stout seun. Ek het nog nie vaak nie.”

Nouja. Ah-ling was sy naam en hy het in Sjiena gelewe, jare gelede. Sjiena is die land waar die meeste dinge van papier gemaak is. Die huise is van papier—of was van papier in dié dae; die vensters was van papier, en die mense het met papier geëet.…

„Daar glo ek niks van nie.…”

Weer omdat jy dom is, Klipsteen. Kyk, hulle het die papier opgerol en daarvan stokkies gemaak en die stokkies het hulle gebruik om mee te eet, net soos ons vurke en lepels gebruik.

„Hoe het hulle dan hulle sop geëet?”

Ook met die stokkies. Ek het dit self gesien en ek het ook so probeer eet, maar dit het nie gegaan nie, [62]want ’n mens het oefening nodig om die stokkies te hanteer. Maar Ah-ling kon dit goed doen, want hy het van sy babetjietyd met die eetstokkies omgegaan.

„Ek dink dis sommer so wysmaak.…”

As jy dit dink kan jy maar loop slaap. Maar hierdie Ah-ling nou. Sy vader was baie ryk, want hy was ’n mandaryn van die derde klas.…

„Wat is ’n mandaryn?”

’n Mandaryn is ’n edelman … iemand wat hoog staan. Die hoogste man in Sjiena is die keiser, wat in ’n porseleinpaleis, met vensters van papier, woon. Dan kom sy eerste minister, wat ’n mandaryn van die eerste klas is, en wat ’n diamantknopie op sy mussie dra. Elke mandaryn dra so ’n soort knopie, wat sy rang wys. Die twede klas mandaryn dra glo ’n rooi kristalknopie; die vierde klas dra blou, die derde klas groen en die vyftiende klas geel. Ah-ling se pa het dus ’n groen knopie op sy mussie gedra en hy was skatryk, want hy het hondjies vir die keiser vetgemaak.…

„Hoekom?”

Omdat die keiser, net soos elke Sjinees, baie gek na gebraaide hondjie was. Die vetste en lekkerste hondjies het Ah-ling se pa vetter en lekkerder gemaak en die het hy aan die keiser gestuur, wat hom baie geld daarvoor betaal het. So het hy skatryk geword en ander besighede begin, wat hom nog ryker gemaak het.

Ah-ling was sy enigste kind en hy was baie trots op Ah-ling en het die seun ’n bietjie verwen. En Ah-ling was lui. Hy was ’n goeie seun, maar hy was vreeslik lui. Hy wou nie sy versies leer nie en ’n Sjinese seun moet baie versies leer. Vir sy matriek moet hy seshonderd-duisend twee-en-negentig versies pront uit sy kop ken en kan opsê.…

„Dit glo ek nie!” [63]

Miskien is dit seshonderd-duisend drie-en-tagtig; ek weet nie presies nie, maar dis ’n geweldige getal versies, al glo jy dit nie. En as hy één fout maak dan druip hy. En as hy druip, dan is dit ’n baie groot skande vir hom en vir sy hele famielie, net soos dit vir my is, as jy sewentiende in jou klas kom, Klipsteen.…

„Ek was nog nooit sewentiende nie.…”

Maar jy was al twaalfde, wat amper net so erg is. Nou, Ah-ling wou nie sy versies leer nie. Hy wou die hele dag speel en visvang, en vlieërs laat vlieg, want in Sjiena speel al die mense met vlieërs. Sy pa was so druk besig met sy besigheid, dat hy nie baie tyd gehad het om na Ah-ling te kyk nie en hy het die seun maar aan sy meesters oorgelaat. En een dag kom die meester na hom toe en maak ’n buiging voor hom en sê:

„Pong-lo”—want dit was Ah-ling se pa se naam—„Pong-lo, hierdie armsalige bog wat die eer het om jou eersteklas seun onderwys te gee, kom met ’n bedrukte hart na jou toe.”

Eintlik het hy gesê „bedrukte maag,” maar die betekenis is dieselfde.

„Wat is dit dan, hoogs gewaardeerde meester?” vra Pong-lo.

„Dit is omtrent jou eersteklas seun,” sê die meester. „Hy is, om dit met waarheid uit te druk, nie geneig om sy eersteklas kop te gebruik as hy my niksbeduidende sommetjies moet maak nie, en nog minder is hy geneig om die armsalige versies wat vir sy bogterige matriek nodig is uit die hoof te leer.”

„En waarvoor betaal ek my waardelose geld aan jou dan?” vra Pong-lo, „as dit nie is om hom te dwing om te leer nie?”

„Hierdie vermetele vent,” sê die meester, en hy trek sy skouers op, „het dit al probeer. Om die waarheid [64]te sê, hierdie ongeskikte leermeester het al sover gegaan om die lat op jou seun se vereerde sitplek te gebruik, maar die gevolge het nie die kraginspanning, wat daartoe noodsaaklik was, geregverdig nie. Dit is hierdie ellendige vent se plig om aan jou edelagbare te sê, dat hy geen kans sien om die slim eersteklas seun van jou deur sy matriek te kry nie.”

„Maar by dit en dat,” skree Pong-lo, wat nou baie verontwaardig was, amper net soos ek toe jy twaalfde in jou klas gekom het, Klipsteen.…

„Dit was mos omdat ek pampoentjies gehad het. Ons wil van Ah-ling hoor.”

Goed. Baie verontwaardig was. „By dit en dat,” skree Pong-lo, „ek sal hom leer.” En hy slaan op die ghong wat naas hom gestaan het.…

„Wat’s ’n ghong?”

Dis die klok wat die Sjinese gebruik—’n stuk metaal waarop hulle slaan en daardeur ’n geluid maak. Toe die kneg inkom, sê die kneg:

„Vereerde Pong-lo, die hondjies het al …”

„Dis nie oor die hondjies wat ek jou geroep het nie,” skree Pong-lo. „Loop sê vir my lui seun dat hy dadelik hier moet kom.”

Kort daarna het Ah-ling binnegekom. Hy het platgeval op sy gesig op die tapyt voor sy pa en sy voorkop op die vloer op en neer gevryf. Dis die manier waarop die seuns in Sjiena hulle eerbied vir hulle ouers bewys.

„Ek breek my beentjies op jou,” sê hy, want dit is die manier waarop ’n seun sy vader toespreek in Sjiena.

„Ek sou amper joue kan breek!” snou sy vader hom toe. „Wat is dit wat ek van jou hoor? Dat jy lui is en nie wil leer nie. Hoeveel versies ken jy al?” [65]

„Ek weet nie reg nie,” sê die seun, „maar verlede week het ek dit tot die sewehonderd-en-sestigste gebring.…”

„Allematties!” skree die oubaas. „En aanstaande maand is die matriek. Dink jy ooit dat jy dit kan maak as jy maar so min versies ken? Maskas, maar jy is lui!”

„Ek kan maar probeer,” sê Ah-ling. „Ek kan maar probeer.”

„Ja en druip,” sê Pong-lo. „Dankie hartlik. Die skande wil ek nie deurlewe nie. Jy het tyd genoeg gehad. Luister nou wat ek vir jou sê. So ’n seun soos jy wil ek nie meer hê nie. Trap! Van vandagafaan is jy nie meer my seun nie. As jy terugkom met ’n duisend pond—eintlik het hy gesê „taels”—dan kan jy weer my seun wees, maar voor die tyd wil ek niks met jou te doen hê nie. Ek skraap jou naam uit my geslagsregister en as jy langer as ’n jaar wegbly, dan neem ek ’n ander seun aan, want ek moet tog iemand hê wat my kan begrawe as ek doodgaan. Trap!”

Ah-ling was bitter bedroef, maar hy het geweet dat sy pa nie sy besluit sou verander nie, want die oubaas was baie hardkoppig. Hy het toe weer sy voorkop op die tapyt gevryf en agteruit gegaan, totdat hy by die deur van die kamer kom. Daar het hy ’n diep buiging gemaak, opgestaan—want tot daar moes hy agteruit kruip om sy eerbied vir Pong-lo te bewys,—en uitgegaan.

Hy het sy goedjies bymekaar gepak, maar hy het sy versies vergeet en die versboekies—daar was ’n duisend van hulle—het agtergebly. In die kombuis het hy ’n bietjie padkos gekry—’n bietjie gekookte rys en ’n stukkie gebraaide hondjie, en ook ’n paar worsies wat van hondevleis gemaak was en wat baie lekker smaak [66]as jy van die soort vleis hou. Toe het hy vir hom ’n groot strooihoed gekry, die huis uitgeloop en die groot pad, wat oor die land, tussen die rysveld gaan, gevat.

Hy het die dag ver geloop en hier en daar het hy op ’n klip gaan sit en gehuil, want hy het werklik nie geweet wat nou van hom sou word nie. Maar hy het gou-gou gesien dat die huilery hom niks sou baat nie en het toe weer opgestaan en verder geloop. Laat in die middag het hy by ’n riviertjie gekom, waar ’n ou kêrel by gestaan het. Die ou kêrel was baie oud en baie swak en het op ’n kierie geleun, en nou en dan het hy sy toontjies in die water gesteek, kastig om daardeur te gaan, maar altyd het hy dit weer teruggetrek, want die stroom in die rivier was sterk en die ou kêrel was maar swak.

Toe hy vir Ah-ling sien, sê hy:

„Seun, jy lyk groot en fris. Dra my asseblief deur hierdie rivier en ek sal jou beloon.”

Ah-ling het dit gedoen, want die ou kêrel was baie lig. Hy het die ou kêrel deur die rivier gedra en toe hulle op die anderkant kom, sê die ou man:

„Dankie. Ek gaan hierdie kant-toe en jy moet maar daardie ander pad neem. Ek het nie geld om jou mee te beloon nie, maar neem hierdie kierie van my. Dit kan jou te pas kom en as jy werklik in die nood is, sê dan maar ‚Kierie, asseblief tog.’ ”

Ah-ling het hom bedank en die kierie geneem en voortgestap met die regterhandse pad. Die oubaas het die linkerhandse pad geneem.

Ah-ling het dié dag tot die aand hard geloop. Nou en dan het hy ’n rukkie gerus en ’n paar ryskorreltjies geëet, saam met ’n stukkie van die gebraaide hondjie.

En so omtrent die tyd wat in daardie land sonsondergang [67]beteken, het hy by ’n klein huisie gekom, met ’n klein tuintjie daarvoor. Die huisie was van papier, op bamboesstokke en die vensters was van papier en die dak van papier, oorlê met sand en gras. Die tuintjie was maar verwaarloos, want al wat daarin was was daikon of radys en die was ook al in saad en voos, want niemand het na hulle gekyk nie.

Voor die huisie het ’n kêrel gesit. Hy was ook ’n Sjinees en het dus ook ’n stert gehad, en hy was omtrent vyftig jaar oud. Hy was glo bysiende, want hy het ’n sterk horingbril opgehad en het glad geen notiesie van Ah-ling geneem nie, selfs toe die seun ’n tree ver van hom af was nie.

„Ek wou maar sê,” sê Ah-ling, nadat hy reeds viermaal ’n buiging gemaak het en tweemaal goeienmiddag gesê het op die beleefdste manier wat aan hom bekend was. „Ek wou maar sê, dat hierdie verstote en uit-sy-vader-se-huis-weggejaagde deugniet ’n nagverblyf soek.”

Die man met die horingbril het niks geantwoord nie.

„Hy moet doof wees,” dag Ah-ling. „Ek sal maar skree.”

„Kan ek hier nagverblyf kry?” skree hy toe, so hart soos hy kon.

Die man met die horingbril het ’n bietjie verwonderd opgekyk en geknik. „Jy hoef nie te skree nie,” sê hy. „Ek is mos nie doof nie. Ek is net besig om versies te maak. Op die oomblik is ek vererg, omdat ek nie goeie rymwoorde kan kry nie. Verbeel jou, ek soek ’n rymwoord vir ‚snel.’ ”

„Daar’s mos baie,” sê Ah-ling.

„So? Ek kan maar net twee kry—wel en kwel,” sê die meneer. „En geeneen daarvan is geskik nie.”

„Daar’s hel—en vel, en manel, bel, tel, optel, opstel, [68]vertel,” sê Ah-ling, „en glo nog ses of sewe meer …”

„Wag, wag!” sê die kêrel en hy skryf sommer op. „Allerdankbaars! … veral vir manel. Dit kom goed van pas. Sou jy ook miskien ’n digter wees, of nie?”

„Nee!” sê Ah-ling. „Ek is maar ’n jong seun wat sy matriek nooit sal deurkom nie.”

„Dan sal dit sleg met jou gaan in die lewe,” sê die meneer, wat ’n digter was. „Maar ek dink dit is maar jou beskroomheid wat jou dit laat sê. ’n Man wat sulke rymwoorde kan vind, kan maklik sy matriek deurkom. Ek self het jare gelede my matriek gemaak en toe kon ek werklik nog geen gedigte maak nie.”

„Maar Meneer het seker toe al versies uit Meneer se kop geken,” sê Ah-ling.

„Natuurlik. Amper driehonderd-duisend,” sê die digter. „Hoe meer versies jy uit die kop ken, des te beter vir jou. Kyk, kom maar by my bly, seun. Ek sal vir jou losies en kos gee, as jy vir my help om rymwoorde te vind.”

Ah-ling was tevrede met die aanbod, want hy het niks beters in oog gehad nie. Die digter, wie se naam Nata-ki was, het hom nie baie gesteur aan kos of woning nie, ofskoon hy taamlik ryk was. ’n Ou vrou het elke dag na die huisie gekom om vir hom rys te kook, en nou en dan het hy ’n stukkie vis bygekry, maar hy was alte druk besig met sy gedigte om na sy kos te kyk. Ah-ling het dit gou-gou ingesien. Hy het toe sake in sy eie hand geneem. Hy het die tuin omgespit en beplant, lekker kos in die kombuis gekry, en gesien dat alles in orde was. Die eetmale was nou eersteklas, maar Nata-ki het niks omgegee nie en alles geëet net asof dit maar saagsel was. Al wat hy om getraak het was sy gedigte, of liewers sy gedig, want daar was maar één, waaraan hy reeds vir tien jare gewerk [69]het. Die gedig was nou al sover soos die vyfde reël en die nag nadat Ah-ling by hom gekom het, het hy die sesde reël klaargemaak, wat met „manel” geëindig het. Daarna, met behulp van sy nuwe kneg, het hy ’n nuwe reël elke dag klaargemaak.

Die digter was ryk en sy geld het orals in die huis sommer rondgelê. Ah-ling kon daarvan neem wat hy nodig gehad het om kos te koop en ook meer, want Nata-ki het nie eers geweet hoeveel geld hy gehad het nie. Maar die lui seun was ’n eerlike seun; hy het die geld bymekaar gemaak en veilig weggesluit in ’n ou kis wat in een van die kamers gestaan het en later het hy nog geld bygesit, want hy het sy groente uit die tuin verkoop en daardeur wins gemaak.

Toe hy nou amper ’n maand so gelewe het, sê Nata-ki eendag vir hom: „Oormôre is die groot verjaardag van die keiser. Dan word al die digters uitgenooi om ’n verjaardagvers vóór hom te gaan opsê. Ek dink ek sal ook probeer.”

„Maar wêreld-beroemde Nata-ki,” sê Ah-ling, „as hierdie bogterige niksnuts die vryheid mag neem om iets tot die uiters-interessante gesprek by te dra, sou hy graag wil opmerk, dat sy blinde oë totnogtoe geen speur van ’n gedig van die wêreld-beroemde Nata-ki gesien het nie.”

„Dis in my kop,” sê die digter. „Skryf is ’n lastige ding. Dis alles in my kop, maar ek vertrou op jou, dat jy my hier en daar met ’n rymwoord sal help. Moenie vergeet nie.”

„Mastag!” dink Ah-ling, „die ding sal sleg afloop. As ons vóór die keiser verskyn en my oubaas hakkel met sy gedig, word die keiser miskien kwaad. En dan laat hy ons miskien ’n bietjie gesmelte lood drink, wat, [70]soos ek hoor, gladnie lekker smaak nie. Ek sal ’n plan moet maak.”

Hy het toe die saak oordink en eindelik het hy probeer om self ’n gedig te maak. Dit was sy eerste probeerslag en sy gedig was nie alte mooi nie, maar dit was tog ’n gedig, want die endwoorde het opmekaar gerym:

Beroemde keiser van Sjiena,

Wat hierdie dag verjaar,

Ek het vir my konsertiena

’n Lied van gelukwens klaar.

’n Lied wat die goue vissies

Sing as hulle pronkerig swem;

’n Lied wat die rooi-geel rissies

Sing as hul die tak omklem.

Ek felisiteer die Keiser;

Ek wens hom soveel hy wil hê,

Dat hy magtiger, ryker, wyser,

Regeer tot die mense sê:

Die roemryke keiser van Sjiena

Is die grootste wêreld-baas.

En dan stryk ek my konsertiena

Tot al sy snare raas.

Dit was nou nie ’n eersteklas gedig nie, maar Ah-ling het gedink dat dit maar moet deug.

Hy het toe mismoedig met Nata-ki na die paleis gegaan. Die paleis was mooier en pragtiger as wat hy hom ooit kon voorstel, en hy was so verbaas om al die rykdom te sien dat hy sy gedig glad vergeet het. [71]

Sy baas en die ander digters moes in die troonsaal wag, totdat die keiser klaar was om al die verjaardaggediggies aan te hoor. Daar was duisende van die digters en toe Ah-ling hulle algar sien, het hy weer ’n bietjie moed gevat, want hy het gedink: „Die keiser sal tog nie algar laat lood drink nie.” Hy het nog meer moed gekry toe hy die eerste paar honderd gediggies aangehoor het. Hulle was sleg—slegter as sy eie versie, en tog, die keiser het elke digter beloon en was blykbaar in sy skik met wat die versies gesê het.

Toe dit nou Nata-ki se beurt was, het hy vorentoe gestap en aan Ah-ling gefluister: „Help my met die rymwoorde.” Maar Nata-ki het so gehakkel dat die keiser ’n bietjie ongeduldig geword het.

„Hierdie digter,” sê die keiser, „is een van die nuwe soort. Hy dig die vrye verse, en sny sy lyne in stukkies. En hy rym nie. Miskien kan sy kneg iets voordra?” en die keiser kyk goedgunstig na Ah-ling.

Ah-ling het toe sy oë toegemaak en vinnig sy versie opgesê, so vinnig dat hy die lyne inmekaar gerol het. Maar die keiser het dit tog verstaan, en vriendelik met sy kop geknik.

„Ek hou daarvan,” sê die keiser. „Ofskoon ek nie reg weet wat ’n konsertiena is nie. Dit skyn vir my dat ’n seun wat soiets kan dig baie beter sal maak as hy soldaat word. Kyk, seun, ek bevorder jou tot soldaat van my lyfwag.”

Ah-ling was hoogs in sy skik en ofskoon Nata-ki geprotesteer het, het niemand hom aan die digter se protes gesteur nie, maar hulle het vir Ah-ling na die soldate gebring en hom ’n sabel en ’n borsharnas gegee. En twee dae later moes sy resjiment optrek teen die seerowers. Ah-ling, wat nog nooit in sy lewe geveg het nie, was baie bang, veral toe hy die skietery van [72]vèr-af hoor, maar hy het hom dapper gedra en het daarin geslaag om een van die seerowers te vang.

Die keiser het hom toe korporaal gemaak en daarna generaal.….

„Dit glo ek nie. Jy moet mos eers sersjant word en dan majoor, en dan kolonel, voordat jy generaal kan word.…”

Dis maar die gewoonte met julle padvindertjies. In Sjiena in dié dae was dit anders. Daar kon jy toe van korporaal sommer na generaal spring, en dit is ook wat Ah-ling gedoen het. Maar toe hy generaal was, het hy dit nie maklik gehad nie. Hy moes baie veg en sy soldate was maar vrot, want hulle het gewoonlik weggehardloop as daar moes geveg word en dus het hy alles self moes doen. En eenmaal het hy dit so hard gekry dat hy amper doodgemaak was deur die seerowers. Toe het hy aan sy kierie gedink en sodra hy sê „Kierie, help my!” spring die kierie by en verslaan al die seerowers.

„Dis darem ’n eersteklas stok, hierdie,” dag Ah-ling, en hy gaan stadig terug na die keiser se stad. Toe hy daar aankom, hoor hy dat hulle al vir die keiser vertel het dat hy morsdood was. Die keiser was bly om hom weer te sien en toe Ah-ling hom vertel het hoe dit gegaan het, sê hy:

„Dit moes die spook van my oorlede oupa gewees het wat jou daardie kierie gegee het. Ons het so ’n kierie in die famielie gehad, maar my oorlede oupa, wat self keiser was, het dit met hom saamgeneem toe hy gesterf het. Dit is nie betaamlik dat jy die famieliekierie besit nie. Kyk, ek sal jou drieduisend taels daarvoor gee en jou bevorder tot veld-maarskalk, as jy die kierie aan my wil afstaan.”

Dit het Ah-ling gedoen, en met sy drieduisend taels [73]het hy verlof vir ’n paar weke gekry. Dit het hy gebruik om huis-toe te gaan.

Toe hy by sy ou huis kom, sien hy dat alles daar agteruit gegaan het. Hy self was nou so deftig gekleed, in die mondéring van ’n Sjinese veld-maarskalk, dat die mense orals vir hom padgegee het. Selfs sy ou vader, wat nie geweet het wie hy was nie, het vorentoe gekruip en hom gegroet soos ’n mens ’n vername persoon groet, deur sy voorkop heen en weer op die grond te vryf.

„Hoe gaan dit, Pong-lo?” vra Ah-ling, wat nie eers wou sê wie hy was nie.

„Ag, beroemde Veldmaarskalk,” sê Pong-lo, „so-te-sê maar beroerd. Die hondjies, wat my inkomste was, het algar die griep gekry. My mandoor het my besteel en ek is vandag amper bankrot.”

„En vroeër was jy dan so ryk,” sê Ah-ling.

„Ja,” sê Pong-lo. „Al my moeilikhede het gekom van die tyd toe ek my seun weggeja het.”

„Hoekom het jy dan jou seun weggeja?” vra Ah-ling.

„Hy was so lui,” sê Pong-lo. „Hy wou nie sy versies leer nie en sou dus nooit sy matriek gemaak het nie. Dit sou ’n skande vir my en my famielie gewees het as my seun in sy matriek gedruip het.”

„Maar as hy dit nou verder as matriek gebring het?” vra Ah-ling. „Sê as hy dit nou sover gebring het dat hy ’n vriend van die keiser geword het.…”

„Daarvoor was hy te lui,” sê Pong-lo en vryf weer sy voorkop in die sand. „Ek sê dit met jammerte, maar hy was altyd ’n lui seun.”

Toe het Ah-ling, wat altyd ’n goeie seun was, ofskoon hy lui was, dit nie oor sy hart gekry om nog [74]langer sy vader so te sien spartel nie. Hy het die oubaas opgetel en omhels en gesê:

„Ek is Ah-ling. Ek bring drieduisend taels in plaas van eenduisend en ek breek my beentjies op jou.”

Pong-lo was natuurlik amper flou van blydskap. Hy het sy laaste vet hondjie—die enigste een wat oorgebly het—laat slag, en die aand het hulle lekker hondekerrie geëet, met baie rissies daarin, sodat jou mond daarvan gebrand het.

Die verder geskiedenis van Ah-ling sal jy later hoor, Klipsteen. [75]

[Inhoud]

VIII.

Waarom die See Huil.

„Ma, waarom huil die see elke aand?” het die klein seuntjie gevra.

Hy het in ’n riethuisie op die strand gewoon, want sy vader was ’n visser, wat die vis wat hy gevang het en nie self opgeëet het nie, gedroog het en aan die smouse verkoop het as bokkems. Allerhande soorte visse, wat middelmatig klein was, want die groter visse was nie geskik vir bokkems nie. Die moes hy oopsny, insout, en in pekel lê en as hulle klaar was, dan het hy hulle mootjies genoem. Die mootjies is baie sout, want hulle het die pekel ingesuip vir dae lank, maar die mense maak daarvan visbredie en smoor dit met uie en ertappels, nadat hulle dit eers vir ’n paar ure in vars water geweek het.

Die klein seuntjie was maar ses jaar oud en sy naam was Natter. Eintlik het hulle hom Nathaniël gedoop, maar die naam was te lank en dus is hy gewoonlik Natter genoem, of nog korter, Nat. Hy was ’n skraal seuntjie, met hare wat amper wit was, so bleek was dit, en met ’n gesigsvel wat altyd sproete gebrand het. Dié soort seuntjies, so sê die mense, is sterk, maar daar kom nooit baie reg van hulle nie.

Ek weet nie of dit waar is wat die mense sê nie.

Waar Nat se huis gestaan het, was die wêreld maar ellendig lelik, want in die omgewing was daar niks anders as sandduine en suurvye nie. Jy kon nie eers die see sien nie, want dié was agter die duine. Jy kon hom net maar hoor. Dag-in dag-uit kon jy sy geraas en gesuis hoor, eentonig, so eentonig dat dit jou amper moedeloos kon maak. Duskant die duine was daar ’n [76]pan, waarop die eendvoëls geswem het en duisende seemeeue, en in die water van die pan was daar springers, wat ’n baie lekker soort vis is—lekker om te eet en lekker om te vang. Agter die pan, veld se kant-toe, was daar ruigte en skaapbossies, want dit was ’n plat wêreld, woes en onbewoon. Net na die reëns het die suring pragtig gegroei onder die skaapbossies en die veld was groen, met duisende heuningpotjies waarop die miere met plesier rondgekruip het. Nat het ook van die heuningpotjies gehou. Jy steek die punt van jou pinkie daarin en haal so die heuning uit. Die heuning is goudgeel en stroopsoet, met net ’n suur bysmakie as jy te veel daarvan eet. As ’n mens die duine oorklim, dan moes jy nog sowat honderd-en-vyftig tree stap voordat jy die strand, die eintlike strand, bereik het. Nat se pa het sy huis agter die duine gebou, omdat hy ’n bietjie van die see moeg en sat was; hy wou so min daarvan sien as moontlik en het meer van die kaal, geel duinsand gehou as van die groen, altyd op- en afgaande see. Hy was dag-in dag-uit op die see; dit was sy broodwinning, die see, en ’n mens vind jou broodwinning soms vervelig. Daarom het hy sy huis agter die duine gebou.

Dit was ’n klein huisie, van riet gemaak, met rietmure, gepleister met die swart modder van die pan en met ’n rietdak, oorgroei met die maarblom se rooi en geel bloeisels. Daar was eintlik nie vensters in die huis nie; net maar twee deure en ’n gat in die dak, wat as skoorsteen gedien het in die koue winterdae as Nat se ma die konfoortjie in die voorkamer aansteek. Die kombuis was ’n aparte huisie, ’n paar tree verder af en die woonhuis het net maar twee kamers gehad. Meer was ook nie nodig nie, want Nat se pa was byna elke dag uit om vis te vang en niemand het ooit vir Nat se [77]ma kom besoek nie. En daar was nie ander kinders nie, behalwe Nat. Vroeër was daar ’n ander kind. Dit was Nat se sussie, Triena, maar Triena het verdrink in die panwater, toe sy nog so-te-sê ’n babetjie was, en van die tyd was daar net Nat.

Hy het dus maar alleen gespeel, daar op die duinsand, waar hy nie die see kon sien nie, maar dit gedurig kon hoor. Sy maat was Mokkie, die klein half-Boesmantjie, wat die kind was van outa Adoons wat vir sy pa help visvang het. Mokkie was net so klein soos hy, maar baie ouer, met ’n gesiggie wat so gerimpel was soos seewater, waarop die wind waai. Hy was egter ’n taamlik goeie maat, want hy het baie geweet en het altyd „Kleinbaas” gesê teen Nat, en was nooit astrant nie.

Dit was Mokkie wat die byeneste gevind het, ver agter die pan, in gate in die grond, onder die skaapbossies. Dit was hy wat hulle uitgehaal het, sonder dat die bye hom steek en die mooi stukke jong bye, wat soos vars amandels smaak, huis-toe gebring het, en ’n stukkie van die koek agtergelaat het vir baas Heuningvoël, wat op die skaapbossies sit en sy vlerkies met plesier klap, want hy weet dat hy sy aandeel sal kry.

Dit was Mokkie wat osse en waens van die suurvyeblare gemaak het en potkleimannetjies uit die sagte witklei wat hier en daar by die pan kon gevind word. Dit was hy wat die osse algar name gegee het—Swartland hierdie een, Troe-troe daardie een, en Geelmoggel die ander, Bleskol die hotagter een en Kasman die haaragter een. En die potkleimannetjie was baas Ewert, en die ander een met ’n swart-gesmeerde gesig was outa Perskie wat moes touvat, maar wat altyd omgeval het, omdat sy bene nie gelyk was nie.

Dit was Mokkie wat geweet het, waar die beste plek [78]was om springers te vang. En dis nie so maklik om springers te vang nie, veral as jy maar ’n kort seilgaretjie het en ’n ou hoek, waarvan die punt afgebreek het. As jy nie presies weet hoe om die saak aan te lê nie, dan sal jy nooit ’n springer met so ’n koddige hoek beetkry nie. Maar Mokkie het geweet hoe om dit te prakseer en waar om die aas te kry—klein krefies, wat onder die sand lê of onder die vuil en halfopgedroogde seegras, of wurms wat hulleself in kassies ingemessel het vas aan die skaapbossies.

En dit was Mokkie wat kon sê waar die vaal korhaan, wat daar op die laagte rondloop en net vlieg as jy hom opja, omdat hy meer hou van loop as van vlieg, sy nes sou maak hierdie jaar. Dit was hy wat vir Nat die nes gaan wys het, versigtig, want as jy aan die eiers raak dan is broer korhaan kwaad en dan wil hy niks meer met die eiers te doen hê nie. Wat tog ’n treurigheid sou wees, want die kleintjies is baie mooi en koddig as hulle so astrant in die gras rondloop en doodstil lê as hulle hulle verbeel dat iemand hulle wil pak.

Dit was Mokkie wat Nat leer swem het, want Mokkie kon goed swem, en die panwater, waarin Triena verdrink het, was makwater as ’n mens kon swem. Net as jy nie kon swem nie was die panwater kwaai en het dan sy bes gedoen om jou onder te kry en om vir jou dood te maak. Dís waarom dit vir Triena beetgekry het, toe sy nog maar ’n babetjie was.

Heerlik was dit om in die late namiddag daar in die panwater rond te swem. Dit was so stil en so warm maar tog so fris dat jy dit moes geniet, al was jy ook isegrimmig. Jy kon stadig op en neer swem en probeer om die eentjies, wat altyd naby die ruigtepolletjies geskuil het, beet te kry, maar dit was uiters moeilik, ofskoon [79]Mokkie nou en dan dit reggekry het. En dan kon jy platsit in die water, stil sonder om jou te roer en voel hoe die swerms klein vissies jou kom ondersoek en hoe hulle probeer om jou vel te byt. Dit was kielierig as hulle teen jou rug met hulle neusies stoot, en dit was ’n pret om hulle skrik te maak deur sommerso om te draai en met jou hande in die water te klap.

En die mooiste, die pragtigste van alles, ofskoon nòg Nat nòg Mokkie baie daarna gekyk het, was die sonsondergang daar op die pan. Dit het dan gelyk asof daar honderde reënboë gebreek het bo in die lug, en die kleure het algar afgeval op die panwater en daar bly steek, terwyl ’n paar van hulle, rooi, groen en violet, bo in die lug uitgebrei het, totdat die hele hemel bo jou daar in die weste ’n geruit van bont was. Dan kon jy, in die vroeë somernamiddae die geur van die sandlelies en die bobbejaantjies bespeur, wat opgestyg het van onder die skaapbossies en wat jou laat dink aan die fyngestampte pypkaneel wat die mense in kollewyntjies sit.

Elke dag het Nat die see gaan bekyk, want hy was gek na die see en het baie gehou van sy pa se skuit. Nou en dan het hy en Mokkie saamgegaan met sy pa en met outa Adoons as hulle gaan visvang. Die eerste skoot was dit gladnie plesierig nie, want Nat het naar geword, maar later het hy dit lekker gevind, want die skommel van die skuit op die water het hom nie meer mislik gemaak nie. Maar sy pa het gesê dat hy in sy pad was en het hom nie baie keer saamgeneem nie.

Die see was nooit stil nie. Dit het nooit geswyg nie. Dag-in, dag-uit en die hele nag deur het dit op en af geskuif en sag gesing. Nat het bly luister saans as hy op sy klein duikerkarossie lê, na die sang van die see en het probeer om dit te verstaan, maar hy moes altyd [80]dit opgee, want die see het hom gou-gou in slaap gesus. Nou en dan het hy van die see gedroom, maar die drome was nie altyd plesierig nie, want soms het hy gedroom dat hy en Mokkie in die see spartel en nie kon uitkom nie. En dan het hy met ’n gil wakker geword en sy ma het hom kasterolie ingegee, want sy het gedink dat hy te baie uintjies geëet het.

„Ma, waarom huil die see so?” het Nat gevra.

Hy het al die vraag gestel aan Mokkie, wat nie daarop kon antwoord nie. Ook outa Adoons het nie goed geweet wat om te antwoord nie.

„Dis maar sy manier, my Kleinbasie,” het Outa gesê. „Dis maar die vuilis se manier,” want outa Adoons het die see nie lief gehad nie, miskien omdat dit sy broodwinning was.

„Die see,” het die outa gesê, „die see, Kleinbasie, moenie tog vir hom vertrou nie. Hy verneuk jou, Kleinbasie en jy kan nie op hom staatmaak nie, nooit nie, my Kleinbasie.”

„Maar waarom huil hy, Outa?” het Nat gevra, en die outa het sy kop geskud.

„Dis sommer sy manier, my Kleinbasie,” het hy geantwoord, „net soos ditte myne is om te pruim, my Kleinbasie. Ons het almal ons eie maniere, my Kleinbasie en dis syne om lawaai te maak as ’n mens wil slaap, my Kleinbasie.”

Maar Nat was nie tevrede met dié verklaring nie en hy het altyd gedink: „Die see moet tog iets makeer, anders sal dit mos nie so huil nie.”

Toe het hy vir sy pa gevra, maar sy pa was besig om die net, wat stukkend was, reg te maak en was vererg omdat die netnaald afgebreek het.

„Moenie sulke onnosele vrae vra nie, Nat,” het hy kortweg gesê. „Dis mos nie huil nie; dis maar die [81]geraas van die branders teen die strand. Sal jy dan nooit iets leer nie?”

En sy pa het hom weggeja om water te gaan haal uit die put.

„Hoekom huil die see so, Ma?” het Nat gevra, en sy ma, wat besig was om gho-koffie te brand, het ongeduldig geword.

„Hoe weet ek dit?” sê sy ma. „Moenie met die gho-boontjies peuter nie, Nat; jy weet mos hulle is giftig. Loop speel met Mokkie as jy niks anders te doen het nie.”

Toe het Nat maar met Mokkie gaan speel, maar hy het gedurig gedink aan die huil van die see. En toe Mokkie na die pondokke gaan, het Nat na die strand geloop en daar op die wit sand, waar die klein, fyn blou skulpies opspoel as dit storm is, gesit en na die see gekyk.

Dit was al laat in die namiddag en die son was halfpad onder, agter die pan. Die weste het al sy geruit van bont kleure aangetrek en die hitte van die dag was alreeds afgekoel. ’n Sagte windjie het oor die see gewaai, ’n windjie wat ver van die suide kom, waar die groot ysberge rondswem en waar die robbe snags in die lig van die groen ys, wat die skyn van die sterre weerkaats, met mekaar speel. Brandertjie na brandertjie het teen die sand gespoel en elkeen het, as hy spoel, ’n geluid gemaak. Nat het gesit en wonder wat die geluid sou beteken, want hy het gedink dat dit tog praat moet wees en praat kon ’n mens tog verstaan. Maar dié soort praat kon hy niks van uitmaak nie.

En toe hy daar sit, bespeur hy dat die brandertjies vol klein liggies was. Die son was nou onder en dit was skemeraand en hier en daar was reeds ’n ster te sien in die lug. In die skemer was die blink liggies [82]in die brandertjies baie mooi, want hulle het gefonkel soos vuurvliegies wat in die winter bo die ruigte van die pan speel. Die liggies was van allerhande kleure; groen, en pers, en wit, en rooi, en die kleur van die kanaänse druiwe, wat Nat eenmaal op die dorp aan ’n prieel gesien het. En daar was nog baie ander kleure wat hy nie geken het nie en wat hy dus nie die naam van geweet het nie, maar algar was blink en het geskitter soos sterretjies daar in die deurskynende groen van die branders. As die branders teen die sand platslaan, dan het die liggies uitgegaan, en Nat het gesien dat ’n hele boel klein dingetjies op die sand rondkruip. Eers het hy gedink dat dit maar klein krappies was. Daar is baie klein krappies op die strand daar by die panne. Hulle kom saans uit hulle gate, wat bo die waterkant is en jaag in duisende oor die nat sand, sodat hulle ’n geraas maak soos ’n swerm bye wat hoog bo jou in die lug vlieg.

Maar dit was nie krappies nie, hierdie skoot.

Dit was die klein volkies wat in die diepte van die see lewe, en wat verwant is met die dwergies en kaboutertjies wat in die klowe van die berge woon. Nat het dit nie geweet nie, want hy was nog maar dom en jonk en niemand het hom ooit van die dwergies vertel nie.

Maar nou, toe hy al die klein volkies sien, was hy eers amper bang. Hy het nog nooit sulke dingetjies teëgekom nie. Hulle was algar ’n kwartduim hoog, elkeen met ’n paar beentjies wat amper net soos die van ’n toktokkie was en met armpies wat skaars so lank soos ’n koringkorrel was. Elkeen was net gekleed in ’n groen baadjie en groen kortbroekie, wat, koddig genoeg, gladnie nat was nie, ofskoon hulle algar net nou uit die branders gekom het. Hulle het rondom Nat geswerm, honderde van hulle, duisende, en nog altyd [83]het daar meer en meer uit die branders strand-toe gekom.

Nat wou eers padgee, want hy het die vrede nie vertrou nie, maar die mannetjies was so vriendelik, dat hy weer moed gevat het en besluit het om maar ’n bietjie te bly kyk wat hulle sou doen. Dit was al laat en hy het geweet dat hy moes huis-toe gaan, want sy ma het reeds die gho-koffie klaar gemaak, en dié aand sou hulle in die riethuisie pampoenpap en gebraaide vis hê en hy was baie gek na pampoenpap. Maar die mannetjies was so koddig, dat hy tog maar ’n tydjie wou bly.

Tot sy verbasing het hy gevind dat hy goed kon verstaan wat die klein mensies sê. Dit was nou nie juis Afrikaans wat hulle gepraat het nie, maar dit was tog verstaanbaar genoeg en hy kon uitmaak, wat die wat naaste by hom was, sê. En dit is wat hy gehoor het:

„Hierdie seuntjie,” sê die een, „is mos die seun wat altyd vra waarom die see huil en hoekom.”

„Ja,” sê die ander. „Ek hou van seuns wat vra waarom, maar wat die hoekom betref, dit gaan bo al ons vuurmaakplekke. Dis ’n alte lastige vraag, daardie en as ’n seuntjie daarmee begin, dan is dit tyd dat ’n mens hom suurlemoensop gee.”

„Sou ons hom dan nie inligting kan gee nie?” sê die ander een weer. „Dis mos maklik genoeg.”

„Ek dink ons moet wag tot die Koning hier is,” antwoord die ander. „Hy is aan die kom, want ons gaan mos vanaand die groot dansparty daar in die seegraskuiltjie op die rotse hou, en hy sal met die Prinses dans.”

„Dit weet ek goed,” sê die ander. „Ek en jy kom mos ook om te dans. En dit herinner my dat ons nog baie te doen het. Ek weet nie eers of daar kos genoeg sal wees vir ons algar nie.” [84]

„Moenie bang wees nie,” sê die ander. Daar is vanmôre al kos bymekaar gebring. Daar is volop kreefslaai en seeslakpastei en seegraskonfyt, en ek weet nie al wat nie.”

„Maar die drank … wat van die drank?” vra die een. „As ’n mens dans dan kry jy geweldig dors en ek hou altyd van ’n stukkie iets as ek dors het.”

„Daarvoor is ook gesorg,” sê die ander. „Daar is wyn uit ’n verongelukte skip en vir diegenes wat goeie tempeliere is, is daar moerbeistroop. Maar wag, hier kom die Koning.”

Toe sien Nat dat daar uit die branders uitklim ’n koddige klompie van die klein mensies. Vooraan het twee kleintjies gekom wat altwee in groen gekleed was, met hoë mussies van groen seegras op die kop. Agter hulle het ’n hele ry gekom wat algar in rooi was, en daarna weer ’n halfdosyn wat in goudgeel was. Daarna het uitgestap ’n mensie wat ’n kwartduim hoër was as enige van die ander wat om hom was. Hy was pragtig gekleed in ’n blou pakkie, waarom hy ’n rooi mantel, gevoer van binnekant met spierwit, dra. Op sy kop was ’n kroon van goud, met groot pêrels om die kant en in sy regterhand het hy ’n skepter gehou van ’n visgraat aan die punt waarvan ’n klein diamantjie fonkel. Die lang sleep van sy mantel word gedra deur twee klein mannetjies wat in spierwit gekleed was en agter hom het ’n vyftal trompetters gekom, wat algar op skulpe blaas en wat ’n hele boel lawaai opskop.

Dit was die Koning, en Nat het sommer onplesierig begin voel, maar die Koning het vriendelik na hom toe gestap en met een spring op sy knie kom sit. Toe het hy Nat aangeraak met sy visgraatskepter en sodra die diamant Nat se baadjie aanroer, het Nat gevoel asof hy springlewendig was. [85]

„Ek hoor,” sê die Koning, „ek hoor, seuntjie, dat jy wil weet waarom die see huil?”

„Asseblief … Oom, … Meneer,” sê Nat, wat nie reg geweet het hoe hy die Koning moes noem nie.

„Sê maar gerus Oom of Omie,” sê die Koning. „Ek is bly om te verneem dat daar nog seuntjies is wat iets wil leer.”

„Ek ken al my A B C,” sê Nat, wat ’n bietjie trots op sy geleerdheid was, veral omdat hy daarmee teen Mokkie kon spog.

„Dis nie alles wat jy behoort te weet nie,” sê die Koning. „Jy het seker nooit gedroom dat daar sulke mense soos ons in die see lewe nie, nè?”

„Nee,” antwoord Nat. „My pa sê daar’s net visse in die see.”

„Visse is daar genoeg,” sê die Koning, „maar daar is ook baie ander dinge, waarvan julle mense nie droom nie. Groot slange byvoorbeeld, en die See-Prinses, waarmee ek netnou sal gaan dans. Maar jy wil eintlik weet waarom die see so huil, nie waar nie?”

„Ja,” sê Nat. „Pa sê dis maar die geraas van die branders, en Ma weet nie, en Mokkie ook nie en outa Adoons sê dis maar die see se manier.”

„Hulle is almal reg en hulle is almal verkeerd,” sê die Koning. „Die see huil nie, want dit het niks om oor te huil nie. Wat jy huil noem, is die lied wat hy sing. Dit is elke dag en elke nag dieselfde, maar dit is nooit dieselfde nie, want dit is altyd nuut. Daar is weemoed in en blydskap, en berou en blye verwagting, en daar is vreugde in en pyn. Dit kan jy nou nie verstaan nie, seun, maar as jy ouer word sal jy dit leer verstaan, want jy lyk my ’n verstandige seun en nie sommerso ’n swaap nie.”

„Ek kan al swem,” sê Nat, wat nie geweet het wat [86]die Koning bedoel nie, maar tog dink dat hy iets moes sê.

„Dis ook goed,” sê die Koning en knik sy kop so vorentoe, dat Nat bang was dat die kroon sou afval. Maar hy hoef nie bang te gewees het nie, want die kroon was vasgelym aan die Koning se kop en word nooit afgehaal nie. Die Koning gaan selfs daarmee slaap en om dit vir hom maklik te maak, het hy ’n besonder kussing van dik seegras met ’n holtetjie daarin waarin die kroon rus.

„Dis ook goed,” sê die Koning, en hy knik weer. „Hou jy van die see?”

„Ja, Omie,” sê Nat. „Baie.”

„Dis reg so,” sê die Koning. „Die see is die enigste wat ’n mens van kan hou. Dit is allenig die enigste wat jy op kan staatmaak.…”

„Outa Adoons sê dat die see ’n mens verneuk,” sê Nat.

„Dis maar outa Adoons se manier van praat,” antwoord die Koning. „Die see sal jou nooit in die steek laat nie. Dis die enigste vertroubare vriend wat jy sal hê in jou lewe, as jy dit liefhet en dit nie haat nie. As jy dit haat, is dit iets anders, want die see vergeet nie en die see kan wreed wees. Baie, baie mense het hy doodgemaak, mense wat hom nie liefgehad het nie, en mense wat hom liefgehad het, want hy het geweet wat die beste vir hulle is. Hulle dooi bene lê gestrooi op die vloere van die see, duisende en tienduisende van hulle en daar lê juwele en rykdomme in oorvloed, die weelde van verongelukte skepe wat die skatte van konings en keisers gedra het, maar wat die see ingesluk het. Dis dit wat die see se lied soms weemoedig maak, want dit was alles verniet wat die goed vergaan het. Dit baat niemand iets nie, selfs nie vir die see nie. [87]Maar elke dag gee die see sy water aan die wêreld, wat as reën neerval op die aarde en die land verkwik, sodat die koring kan groei en die graan weelderig opspring. Dis die see wat die wêreld, jou wêreld waarin julle mense lewe, groen maak. Hy gee van sy eie groen, waarin die sterre snags afgespieël word en die wit wolkies by dag, aan die wêreld en hy laat alles groei wat groei by julle. Dis hy wat die koelte gee aan die aarde en die wind laat waai. As daar nie see was nie, dan gaan julle algar dood en alles om julle. Ja, die see is ’n vriend, die beste vriend wat julle het. Jy kan dit voel as jy in hom swem, as hy met sy sagte streling jou lyf vorentoe stoot en opbeur in sy groen water, as hy sy seegras slinger om jou naakte been en die sneeuwitskuim van sy brandertjies as donsies op jou nat hare laat neerval. Van alles weet hy, want hy spoel die uiterste grense van die wêreld met sy water. Die palmbome in die koraal-eilande van die groot see, wat altyd stil is, omdat dit so groot is, ken hom, en die tortelduiwe wat in leërskare vlieg oor die verre vleilande van Suid-Amerika groet hom as hulle by duisende bo sy branders swewe. Die wit ysberge van die noorderwêreld, waar die noorderligte die lang, lang winternagte verlig en waar die yskoningin in haar slee, wat van ysblokke gemaak is en deur die vinnige rendiere getrek word, hom bemin, want hy is hulle vriend. En die middel van die wêreld, waar die vuurspuwende berge hulle rook na die hemel uitblaas, weet van hom, want dis hy wat hulle stoom gee en krag om te bars. Omdat hy so veel weet en soveel verantwoordelikheid op hom het, sing hy die hele dag en nag deur. Dit gee hom afleiding en dit maak hom sag, want in sy hart is hy wreed en hy weet dit, maar hy kan dit nie help nie. Maar nou word dit tyd dat ek na die dansparty gaan.” [88]

En die Koning spring af, so vinnig dat sy kroon sou afgeval het as dit nie vasgelym was op sy kop nie.

Nat het toe maar huis-toe gegaan. Die pampoenpap was al opgeëet en sy pa het hom net ’n sny brood en ’n koppie gho-koffie gegee.

„As jy laat kom,” het sy pa gesê, „dan is dit jou eie skuld as jy niks te eet kry nie. Loop slaap nou maar.” [89]

[Inhoud]

IX.

Waar die Reënboog vandaan kom.

Mooi onder die kranse het die alwyne gebloei, pragtig rooi teen die grys van die kliprand en oor hulle het die bye ’n dowwe gedreun gemaak.

„Daar’s baie heuning hier—daar’s baie heuning,” het die ou bye gesê.

„En dis maklik om te kry—dis maklik om te kry,” het die jongeres gesê, want hulle was ’n bietjie lui, omdat dit so warm was.

„En die mooiste van die grap is,” sê die bergswaels, wat hoog in die lug swewe, „die mooiste van die grap is, daar is so baie goggatjies wat die alwyne kom besoek, dat ons ook volop te vreet het.”

Nog mooier was die groot sandlelies daar onderkant by die vlei. Mooier, omdat hulle so rein, so skoon was, sonder ’n vlek op die rooskleur van hulle fyn blomblare. Elke kelk het oop gestaan vir die lug, die warm middaglug wat in wasem teen die kliprand opgerys het, om daarin te kom speel. En ewe mooi was die groot waboombosse, waarin die langstert-suikerbekkies boer, om die honderde goggatjies, wat die bossiestroop se soetigheid kom steel het, te vang.

Daar was twee veral, van die langstert-suikerbekkies wat dit danig besig gehad het. Hulle was man en vrou en hulle nessie was in ’n wilde tabakboom by die lopie wat van die krans kom en wat deur die vlakte kronkel om ’n pad te kry na die rivier. Daar was nog geen eiers in die nes nie, want dit was vroeg in die somer, maar die sagte dons was al gelê, waarop die eiers later sou moet rus en die ingang van die nessie [90]was al klaar gemaak, sodat dit net groot genoeg was om die wyfie toe te laat om binne te kom.

„Volop ete hier, vrou,” het die mannetjie-suikerbekkie gesê. Onder die suikerbekkies het hy die naam gedra van Korring, en sy vrou het hulle Korra genoem, maar jy het nooit die name gehoor nie. Dit was altyd maar net „Tjerptjik,” wat baie beduie. Volgens die uitspraak wat jy daarvan gee, natuurlik. Die suikerbekkietaal is nie maklik om te verstaan nie, maar ’n mens kan dit tog baasraak as jy vroeg in die môre opstaan en jou daarop toelê om die uitspraak, so sleg of so goed soos jy kan, na te maak.

„Ja, maar” sê Korra, „ek het al so baie van die torretjies gevreet, dat ek nou maar sal ophou. Die sysie sê mos dat te veel torre ’n voël buikpyn gee, en daarmee is ek nie gedien nie.”

„Ag wat,” sê Korring, „die sysie eet mos nie torre nie. Wat weet hy daarvan? Môre is die goed weg. Ons moet ons kans waarneem. Ek bly nog hier.”

„Net soos jy verkies,” sê sy vrou. „Vir my part, ek gaan daar na die alwyne. Die bergkanaries is daar, en ek wil ’n bietjie met hulle gesels.”

Die wyfie-suikerbekkie het toe na die krans gevlieg. Daar het sy ’n klompie bergkanaries en geelsysies aangetref, wat druk aan die praat was. Hulle het haar vriendelik gegroet en plek gemaak op die takkie vir haar en sy was maar alte bly om te gaan sit, want sy was moeg, nie alleen van die warmte nie, maar ook van die baie torretjies wat sy ingesluk het.

„Verbeel jou,” sê die oudste bergkanarie, „verbeel jou. Daar is ’n seun, so hoor ons, wat gaan probeer om uit te vind waar die reënboog begin.”

„Dis ’n kordate onderneming,” sê die blink spreeu, wat juis aangevlieg het. „Ek het ook al baie oor die [91]saak gedink. Sover ek weet is daar geeneen van ons voëls wat weet waar die reënboog begin nie.”

„Ek sou so sê,” tjirp die sysie. „Niks het mos nie ’n begin nie en die reënboog is mos niks. Sommer ’n kleur en daarmee uit.”

„Dit glo ek nie,” sê die blink spreeu. „So ’n geweldige groot ding moet tog iets hê. Hy kan nie sommer so in die lug staan nie. Ons moet probeer uitvind.”

„Ek sê vir jou hy’s niks,” antwoord die sysie. „Ek het mos dwarsdeur hom gevlieg en hy het net ’n kleurtjie op my vlerke gemaak, anders was daar niks nie—glad niks nie.”

„Dit kon in één geval gebeur het,” merk die blink spreeu op. „Ek sê nie dat dit ’n misverstand was nie, vriend Sysie. Maar ek hou vol dat daar tog iets moet wees—iets wat ’n mens kan beetkry en wat selfs ’n voël kan beetkry as hy kans het.”

„Ons voëls is algar slimmer as die mense,” sê die bergkanaries. „Hulle kan mos nie vlieg nie. Wat verbeel jy jou?”

„Vlieg is nie die enigste ding nie,” sê die blink spreeu, wat verstandig was en gladnie verwaand nie, want hy het al baie van die wêreld gesien, en hoe meer jy van die wêreld sien, hoe minder dink jy dat jy al die wysheid beet het. Die wêreld is so groot en daar’s so baie dinge in, dat dit jou nadenkend maak, as jy verstandig is en nie verwaand nie.

„Vlieg is nie die enigste ding nie,” sê die blink spreeu. „Ek sê nie dat dit nie iets goeds is nie, maar dis nie die enigste goeie ding nie, dit beweer ek en julle kan daar niks teen inbring nie. En wat die reënboog betref, ek het selfs daarin en daar rondom gevlieg en ek het niks bespeur nie, maar dit bewys nog gladnie [92]dat daar niks is nie. Hierdie alwyne het ’n maand gelede geen blomme gehad nie. Vandag is hulle vol blomme. Daar moet tog iets wees, as jy my goed verstaan.”

„Dit skyn vir my,” sê die ou uil, wat tot hiertoe stil onder die klip gesit het, want sy oë kon nie goed die lig verdra nie, „dat dit alleenlik ’n saak van soek is. Tot hiertoe het hulle nie noukeurig gesoek nie. As ’n mens—ek wil sê, ’n voël—soek, dan vind hy. Dit is ten minste my ondervinding.”

Daar oom Uil—wat al amper oud genoeg was om oupa Uil te wees—baie rondgereis het in die wêreld, het hy baie ondervinding opgedoen. Dit het elke voël geweet en daarom het hulle met eerbied na sy woorde geluister.

„Sou hierdie seuntjie nou een wees wat dit kan loop soek?” vra die spreeu.

„Dit weet ek nie,” sê oom Uil. „Hy is glo ’n padvinder en die seuns is ondernemend, maar of hulle volharding het, dit staat nog te sien. Ek sê maar ’n mens—ek wil sê ’n voël—sou kan uitvind. Mits jy volharding het en nie omgee wat jou oorkom nie.”

Toe die voëls nou so praat, het die klein seuntjie, waaroor hulle gepraat het, hom klaargemaak om op reis te gaan. Hy was nie meer so ’n klein seuntjie nie, want hy was al oor die sestien jaar oud en het die vorige jaar reeds sy matriek gemaak. Daaruit kan julle sien dat hy taamlik slim was. Nog meer, hy het Duits en ’n bietjie Frans geken en nie alleen vir eksamens gewerk nie. Hy het gewerk en geleer om te leer en hy het reeds so baie geleer dat hy geweet het, dat hy nog baie onvolleerd was.

Ook was dit nie waar nie, dat hy van plan was om te gaan sien waar die reënboog vandaan kom nie. Dit het [93]hy al geweet. Hy het geweet dat die reënboog maar die weerkaatsing en verbreking van die lig is deur miljoene reëndruppeltjies, waardeur die lig straal. Hy het geweet dat as jy ’n straal-lig opbreek jy dan die mooi kleure kry wat jy in die reënboog kan sien. Wat kleur is, het hy nie geweet nie en hy wou dit baie graag uitvind, maar om dit uit te vind moes hy nog baie, baie aanleer.

En daar was nie meer geld nie. Sy pa was dood en sy ma het nie meer genoeg gehad om hom op skool te hou nie. Ook was daar geen plek meer vir hom op die skool nie. Hy moes, as hy wou leer, na die uniwersiteit gaan.

Die seun, wie se naam Roelfs was, het ’n ou vriend in die dorp gehad. Die ou vriend was ’n ou prospekteerder, wat op sy ou dag ’n broodwinning verdien deur as skoenmaker te werk. ’n Prospekteerder is iemand wat rondgaan om te kyk of daar goud of silwer of edelgesteente in die kliplae te vind is. Dit is ’n interessante soort werk, maar dit verg baie van die man wat dit onderneem en as hy nie geluk het nie, dan laat dit hom baie min oor vir sy ou dag. Dit het ou meneer Jors—want dit was die oubaas se naam—ook uitgevind, en in sy ou dae was hy maar alte bly dat hy in sy jong dae geleer het, hoe om ’n skoenmakersels te gebruik.

Vir hom het Roelfs nou opgesoek en aan hom het hy die saak vertel.

„Dit is ook nie nodig dat jy na die uniwersiteit gaan nie,” sê die ou skoenmaker. „Ek was nooit na ’n uniwersiteit nie en as jy nagaan sal jy sien, dat die beste en grootste manne waarvan die geskiedenis praat ook nie uniwersiteit-toe gegaan het nie. Noudat jy sover is, behoort jy jouself op te werk. Dit is maklik genoeg. [94]Gebruik jou oë, lees so veel jy maar kan en leer waar jy maar ’n kans kry.”

„En wat van die kos?” vra Roelfs.

„Daarmee kan ek jou help,” sê die ou. „Hier het net aangekom ’n meneer wat na die wilde bosse gaan. Hy gaan om orgideë te soek. Jy weet mos wat ’n orgidee is, nè?”

„Nee,” sê Roelfs. „Ek weet nie.”

„Ek ook nie,” sê die ou kêrel. „Ek weet net maar dat dit ’n soort blom is, van die soort wat ons moederkappies noem. Maar in die wilde bosse groei hulle op die boomstamme en nie op die grond nie. Hoe warmer en ongesonder die streek is, des te mooier is die orgidee. Nou, die meneer wil graag ’n handlanger hê, wat iets verstaan van plantkunde. Hy weet dat ek ’n prospekteerder was en het my kom vra of ek nie van iemand weet nie. As jy wil kan jy met hom saamgaan. Dit sal ondervinding vir jou wees en jy sal iets van die wêreld sien en jy sal baie leer, want die professor is ’n geleerde man en sou jou baie kan help.”

Roelfs het die saak oordink, en besluit om mee te gaan. Daarom was hy juis aan pak toe die voëls oor hom praat.

In die wilde bosse was dit baie mooi en baie bedompig en baie eensaam. Elke dag het dit gereent en alles was waternat. In die dag kon jy byna nie die son sien nie, want die bome was so dig en het so teenmekaar boontoe gegroei dat hulle ’n soort van gewelf gemaak het, waardeur die lig nie kon dring nie. Snags was dit egter mooi lig, want ofskoon jy nie die sterre te sien kon kry nie, was daar so baie vuurvliegies, en vuurkewers, wat nog baie groter as die vliegies was, wat die omgewing helder gemaak het. Daar was ook swerms muskiete en gifgoed genoeg in die bos, maar [95]daarteen kon ’n mens een of ander maatreël neem. Roelfs het die reis baie geniet en hy het baie geleer. Die professor, sy baas, wat regtig ’n geleerde kêrel was, het hom allerhande dinge vertel oor die blomme en veral oor die orgideë. Hy het hom gesê wat eintlik ’n orgidee is—en dit is nie so maklik om te sê wat ’n orgidee is nie, want om dit duidelik te maak, moet jy Latyn en Grieks praat wat dié saak nog onduideliker maak. Maar Roelfs het verstaan dat ’n orgidee eintlik ’n soort blom is waarvan die saaddraadjies algar saamgevleg is en in ’n klein stammetjie binne in die blom, wat die kolom heet, en dat die beste orgidee nie in die aarde groei nie maar op boomstamme. Hy was verbaas om te hoor dat sommige soorte baie skaars was en dat sommige soorte baie op prys gestel word.

„Ja,” het die professor gesê, „daar is baie soorte. Hoeveel soorte weet ek eintlik nie, maar ek vermoed so omtrent twaalfduisend. Daar is kleintjies, byna nie groter as ’n pinkie nie en omtrent twee duim hoog, met blommetjies so groot soos ’n speldeknop en met maar een of twee blommetjies aan die steel. Daar is grotes, so groot soos ’n kruiwa, met duisende blomme aan die steel en met elke blom drie duim groot van kant tot kant. Daar is alle soorte van kleure, en alle soorte van gedaantes onder die blomme op te merk, want die orgideë is die koddigste blomme wat ons ken. En wat die kosbaarheid betref, daar is ’n paar wat jy nie vir ’n duisend pond sal kan koop nie.”

„Nie eers een plantjie nie,” antwoord die professor. „’n Halwe plantjie van een soort is onlangs verkoop op ’n publieke veiling vir oor die vierduisend pond. Die oorspronklike bol van die blou orgidee het vyfduisend pond gekos vir sy twede eienaar. Nog baie meer eintlik, want dit het die lewe van verskillende mense [96]gekos. Soos jy sien, dit is nie maklik om dié soort blomme te kry nie. Hulle groei in plekke waar dit baie gevaarlik is, weens die koors en die ongedierte, om te gaan snuffel in die kreupelhout.”

Die twee het lank weggebly, maande lank, en altwee het koors gekry. Toe Roelfs weer huis-toe kom, was hy taai en groot, want hy het baie deurgemaak, en genoeg geld by hom gehad om nou na die uniwersiteit te gaan. Die blink spreeu het hom gesien huis-toe kom en het dadelik die nuus aan die ander voëls gaan vertel.

„Die seuntjie is terug,” sê die blink spreeu.

„So,” sê die bergkanarie. „En wat van die reënboog?”

„Die het hy nie meegebring nie,” sê die blink spreeu. „Tenminste ek het dit nie gesien nie. Hy het net ’n hele boel ou stukkies gedroogte hout meegebring, wat daar in die agterplaas in die son lê.”

Die blink spreeu het nie geweet dat die stukkies droë hout die bolle van die kosbare orgideë was nie. ’n Mens verwag ook nie dat blink spreeus iets van plantkunde afweet nie.

Maar oom Uil was ’n bietjie slimmer.

„Ja,” sê oom Uil, „ek dink hy het uitgevind waar die reënboog vandaan kom. Hy was mos in die wilde bosse. Daar reën dit elke dag en die reënboog word elke middag daar gebore. Hy het baie kans gehad om dit te sien. En wat meer is, hy het van die reënboog meegebring. Daardie droë stukkies hout sal later algar reënboogkleure hê. Glo vir my.”

Maar die voëls het dit nie geglo nie, want hulle het dit nie gesien nie, en wat hulle nie sien nie, glo hulle ook nie. Net soos sommige mense wat alles eers wil sien, voordat hulle dit glo. [97]

Roelfs het later self professor in die botaniek geword. Die blink spreeu het in ’n wip bly vassteek en die klonkies het hom gebraai, want hulle het nie omgegee om hom op te eet nie ofskoon hy baie taai was. [98]

[Inhoud]

X.

Die Arme Spook.

„Regtig?”

„Ja, man, regtig. Ek het dit netnou gehoor.”

„Maar van wie het jy dit gehoor?”

„Van die portier. Hy vertel my dat daar ’n kennisgewing binnekort op die voordeur sal geplak word.”

„Nou vóór ek hier op die deur daardie kennisgewing lees, glo ek daar niks van nie. Dit sou alte onregverdig wees.”

„Daar stem ek nie met jou saam nie. Hoekom sou dit onregverdig wees?”

„Hoe kan jy so praat, man? Sou dit nie onregverdig wees, om my broodwinning weg te neem, nadat ek vir jare dit gehad het nie? En sommer vir niks nie. As dit nou was dat ek te sleg was vir die werk, of te oud, dan sê ek niks.…”

„Ek sien nie hoe dit ’n broodwinning kan wees nie. Ons het mos nie brood nodig nie en ons het eintlik ook geen rede om te werk nie.…”

„Ag, loop na die hoenders. Jy weet tog dat ons ’n tydverkorting nodig het, iets wat ons moet doen. Leegloop is nie goed nie, nòg vir ’n kind nòg vir ’n ou mens. Ek is noual jare aan die gang en nou vertel jy my dat ek niks meer moet doen nie.”

Die gesprek wat hier kortliks weergegee word, het plaasgevind in die donker êrens in die distrik van Prins-Albert, maar wáár weet ek nie reg nie, want daardie distrik is groot. Daar was twee mense wat die gesprek gevoer het—of liewerster dit was twee „ietse,” want mense sou jy hulle nie eintlik kon genoem het nie. [99]Hulle gedaantes was so onstandvastig as ’n miswolk en daar was niks van hulle wat jy met jou hand kon vat nie. Hulle lyf, hulle klere, hulle skoene en hulle gebare was algar maar net soos wat jy in ’n spieël sien; sonder wese en glad, net maar ’n weerkaatsing.

Dit was dan ook nie so snaaks nie, want altwee was spoke.

Die eerste een was taamlik oud. In sy lewe moet hy ’n oom van sowat vyftig jaar oud gewees het, ’n bietjie isegrimmig en kort gebaker, sterk en gesond wat liggaam betref, maar nie alte slim nie. Die twede een was baie kleiner, korter en dunner; hy was nou, net soos hy in sy lewe gewees het, net maar ’n graat, ’n geraamte met vel bedek en tog, nieteenstaande die dunnigheid, het hy altyd maklik gelag en was altyd in die beste humeur. Dit op sigself was ’n bietjie wonderlik want dun, geraamteagtige mense is gewoonlik nie so goed gehumeur nie.

Om julle nie langer op te hou nie, die naam van die ouer spook was Johannes, en die van die maer spokie, Klaas. Vanne het hulle nie in die spookwêreld nie.

Johannes en Klaas was besig om ’n gerug te bepraat. Dié gerug was amper net so spookagtig soos hulleself. Gerugte is gewoonlik van so ’n aard. Hierdie gerug het Klaas eers aan Johannes vertel.

„Verbeel jou,” sê hy, „hulle sal van oormôre vir ons belet om meer te gaan spook, waar en met wie ons wil. Ek hoor die plan is nou om vir elkeen van ons ’n besonder werkkring te gee, waaraan ons ons moet hou.”

„Nee, wrintig nie!” het Johannes gesê.

„Ja,” sê Klaas. „En nog mooier—ofskoon jy dit nie sal glo nie—ons moet ons gedra, as ons aan die werk is, net soos die ouerwetse spoke in die stories.”

„Dit doen ek vervlaks nie!” sê Johannes. „Ek [100]sleep geen ketting met my mee nie en ek sal nooit my kop onder my arm dra nie.”

„In jou geval sou jy jou kop op jou nek kan dra,” sê Klaas. „Ek glo jy het mos griep of so iets gehad. Die kopdraers is algar mense wat kopafgesny was en dus gewoonlik uit die ou dae.…”

„Hier was ’n jong seun die anderdag,” sê Johannes, „wat rondgespog het met sy kop onder sy linker-elmboog.…”

„Ja, ek het hom gesien. Hy was een van die mense wat in die oorlog sy kop verloor het deur ’n bom. Maar die gevalle is selde. Soos ek sê, die regulasies sal nou verander word en ons sal nie meer kan doen en laat wat ons wil nie, soos ons vroeër gedoen het.”

Klaas het sy kop geskud, toe hy dit gesê het en Johannes het suur gekyk.

„Ek dink dis ’n fout wat ons komitee maak,” sê Klaas. „Hulle behoort ons eers te vra, voordat hulle nuwe regulasies optrek.”

Die twee spoke het toe maar verder gestap en oor ander dinge gepraat. Maar nog dieselfde aand het Johannes ’n briefie gekry van die Spookkomitee.

„Waarde heer,” so het die briefie gesê—„My komitee sal bly wees as u môre so omtrent teen twaalfuur voor hulle kan verskyn. U dienswillige dienaar—” en daaronder was die naam van die sekretaris, wat ook geen van gehad het nie.

Die volgende dag, so omstreeks twaalfuur, het Johannes voor die komitee verskyn. Die komitee was algar spoke en dus algar ewe wolkerig as hyself. Die ou baas wat aan die koppenent van die lang tafel gesit het, was ’n bekwame spook, wat jare en jare lank in een van die oudste kastele in Europa reeds sy werk verrig het. Die visevoorsitter was die spook van die [101]Roomse keiser wat nou en dan die mense in verskillende dele van die wêreld bangmaak. Die ander lede van die komitee was ewe interessant. Daar was die dame wat in die huis van die Duitse vorste spook; sy was, soos gewoonlik, in wit gekleed en het haar nie baie aan die verrigtinge gesteur nie, maar het deurentyd Duitse bier gedrink. Daar was die spook van kaptein Vanderdekken, wat in sy skip rondreis om die wêreld en die spook van Hendrik Hudson, wat ewe ver gereis het; hulle was altwee besig om ’n verslag van hulle laaste reis op te trek. Dan was daar die spook Aboe Fas’l, wat die eerste minister van Keiser Akbar was en wat nou en dan in die Oosterse lande ronddwaal, maar een van die sagsinnigste en gemoedelikste spoke wat ’n mens kan aantref, is. Daar was nog ’n paar ander spoke wat nie veel beteken nie en die bediendes in die kamer was algar pontianaks—die snaakse spokies wat in die bome woon in die Oosterse eilande, en wat op die kleure van blomme teer en nou en dan geniepsig kan knyp.

Johannes het sy buiging gemaak en gewag. As jy voor die komitee is, dan wag jy totdat die komitee jou aanspreek. Jy is nie astrant nie en praat nie eerste nie.

„Meneer Johannes,” sê die Roomse keiser, „ons het nou ’n nuwe reglement opgetrek. Ons vind dat jy tot hiertoe jou eie gang gegaan het in … in watter distrik ook weer?”

„In Prins-Albert,” sê kaptein Vanderdekken. „Lengtegraad 23, breedtegraad 34 sover ek kan uitmaak, maar dit is binnelands en die kaart is sleg. Ek sou nie op die berekening vertrou nie.”

„In Prins-Albert,” sê die Romeinse keiser. „Kan jy die komitee inligting gee, meer of min, in watter rigting jou bedrywigheid tot hiertoe uitgespat het?” [102]

„Ek spook in ’n ou meulhuis in die Mieliedraai,” sê Johannes.

„Waar is dit?” vra die Duitse dame, en sy drink weer ’n teug bier.

„Dis ’n end uit die dorp,” sê Johannes. „Die mense sê dat daar een of ander iets voorgeval het in die ou dae, en hulle hou nie daarvan om in die meulhuis te gaan na sononder nie.”

„Daarin het hulle ook niks te soek nie,” sê die voorsitter. „Dit is die grootste bog wat ek ooit van gehoor het. Dit bewys, dames en here, die noodsaaklikheid vir ons nuwe reglement. Soos dit nou toegaan, word ons spoke net maar so stadigaan geminag deur die mense. Hulle sien ons nie en dus glo hulle nie in ons nie. Dit word tyd dat ons ons gesag ’n bietjie handhaaf.”

„As die komitee dit goedvind,” sê kaptein Vanderdekken, wat altyd bars was, „sal ek met my Vlieënde Hollander in die Ghoup verskyn.…”

„Hulle sal net maar dink dat dit ’n nuwe vertoning vir die bioskoop is,” sê die Romeinse keiser. „Bly maar liewers in die buurt van Drie-Ankerbaai.”

„Soos ek sê,” vervolg die Romeinse keiser, „dit word tyd dat ons organiseer. Sonder organisasie kom ons nie verder nie. Nou in jou geval, Johannes, het die komitee besluit dat jy daar in Prins-Albert weggegooi is. Jy is al taamlik oud en jy het baie ondervinding—te veel om te verroes in ’n meulhuis. Jou werk sal moet wees om die mense te oortuig dat daar spoke is.”

„Dit sal swaar gaan,” sê kaptein Hendrik Hudson. „Hulle glo nie eers dat ek vandag nog rondseil in my bootjie om ’n weg deur die ysblokke te vind nie.”

„Die matrose glo vas aan jou,” sê die Duitse dame, [103]„net soos die hofliede aan my, ofskoon ek vir jare nie my verskyning in die paleis gemaak het nie.”

„Ja, jy is ’n geskiedkundige figuur, net soos ek,” sê Aboe Fas’l. „Ons het tenminste ’n bestaan in die volksoorlewering, net soos neef Hudson hier.”

„En wat dan van my?” vra kaptein Vanderdekken, isegrimmig.

„Jy staan nie op so ’n vaste voet nie,” sê die Romeinse keiser. „Dis waar, hulle het ’n toneelstuk oor jou gemaak, maar in die Karo weet hulle nie van jou nie. Dus het jy nog geen wêreldroem nie. Ek het dit.”

„Dis niks om oor te spog nie, die soort roem wat jy het,” sê kaptein Vanderdekken, nog meer uit sy humeur.

„Here,” sê Aboe Fas’l, „moenie rusie maak nie. Ons is hier om vriend Johannes se saak te bespreek.”

„Nouja,” sê die voorsitter. „Die komitee het jou saak in onderhandeling gehad en besluit, dat jy voorlopig op ’n plaas in die Hantam sal gaan spook.”

„Mag ek vra waar en vir wie?” vra Johannes, wat gladnie in sy skik was nie, want hy het nie eers meer geweet waar die Hantam was nie.

„Die plaas se naam is Koekemoerskloof,” sê die voorsitter, „en die eienaar daarvan is ’n seker meneer Giel Gouws, wat die bynaam het van Glo-nie Giel. Daaruit kan jy self sien watter soort kêrel hy is.”

„Dit sal maar swaar gaan om daardie kêrel te oortuig,” sê kaptein Vanderdekken. „Ek dink ek moet liewerster self gaan met my skip. As daar ’n skip in sy slaapkamer rondswerwe sal hy sy opienie verander.”

„Nee, Kaptein,” sê die voorsitter. „Ons het besluit dat die taak aan vriend Johannes opgedra sal word. Hier is dus jou orders, Johannes. Jy moet nog vanmiddag [104]aftrek na Koekemoersfontein.…”

„Kloof,” sê die Romeinse keiser, wat baie op kleinighede gestel was.

„Ekskuus. Koekemoerskloof,” sê die voorsitter. „Wat jy daar moet doen, laat die komitee heeltemal aan jou oor. Ons wil net hê, dat jy meneer Glo-nie Giel aan die verstand bring, dat daar dinge is wat bo sy vuurmaakplek gaan. Die komitee is van gevoelens dat hulle die saak gerus aan jou eie ondernemingsgees kan oorlaat. As jy hulp nodig het, kan jy ons maar laat weet, maar ons sal dit op prys stel as jy die saak afhandel, sonder om ons verder lastig te val.”

„Sal ek moet kettings dra en my kop onder my arm vat?” vra Johannes.

„Nee,” sê die voorsitter. „Ons laat die manier van optree heeltemal aan jou oor. Jy kan maak en doen net wat jy wil, mits jy nie alte ver gaan nie. Ons wil die kêrel net ’n les leer en ons wil hom nie so-te-sê seermaak nie.”

„En jy weet net so goed soos ons,” sê Aboe Fas’l, „dat ons hom nie kan seermaak nie. Jy weet net so goed soos ons dat ons algar maar dons is en dat ons geen wesenlike bestaan het, behalwe in die gedagte van die persoon wat ons sien nie.”

„Dit is al,” sê die voorsitter. „Koekemoersrand

„Kloof,” sê die Romeinse keiser weer.

„Ja, waarlik, Koekemoerskloof is agter die Hantamberge,” sê die voorsitter. „Dit sal jou omtrent twee sekonde neem om daar te wees. Dan het jy nog oorgenoeg tyd om te sien hoe jy die saak moet aanlê. Bly daar ’n week of twee en laat ons dan weet hoe dit gaan. Goeiendag.”

Johannes het goeie dag gesê en het dadelik weggesmelt. Hy het weer bymekaar gekom, omtrent drie [105]sekonde later, bo op die Hantamberge en vandaar het hy rondgekyk, om te sien in watter rigting Koekemoerskloof lê. Dit het hom nie lank geneem, om tot die besluit te kom, dat die plaas waarop hy moes gaan spook die plaas was, wat net reg onder die berg gelê het nie. Daar was ’n paar geboue op die plaas, omring deur groot populier- en eikebome en hy kon maklik sien, dat die grootste huis die woonhuis was; die ander huisie was die kafhok en stal en die derde een was die meulhuis, want hy kon die meulsloot sien, en hy kon ook sien hoe die meulrat stadig draai as die water daaroor val. Hy het toe weer weggesmelt en weer tesame geraak in die voorkamer van die huis, wat maklik genoeg vir hom was.

In die voorkamer, waar hy in ’n ligstraal bly staan het, sodat niemand hom kon sien nie, was daar ’n ou kêrel wat besig was om spanspek te eet. Hy was ’n stewiggeboude ou baas, met ’n verslete ferweelbroek en baadjie, en met ’n volbaard wat halfgrys was. Dit was maklik vir Johannes om dadelik te sien, dat die ou kêrel ’n man wat nie bang was nie, was. Hy kon dit bespeur uit die vaste houding en dit kordate manier, waarop die oubaas spanspek eet. Hy het dit met pitte en al ingesluk. Net ’n kêrel wat nie bang is nie sou soiets waag.

Dié nag het Johannes sy verskyning gemaak in die ou se slaapkamer. Die ou het gaan slaap in sy onderbroek en het ’n groot nagmus op sy kop gesit. Hy was blykbaar alleen in die huis, want daar was niemand anders in die kamer nie. En skaars het hy sy kop op die kussing gesit, of hy was hard aan die snork.

Johannes het ’n bietjie gewag en toe het hy versigtig die deken opgelig en die oubaas se voete gekielie. Eers het die ou net maar sy voet teruggetrek, maar Johannes [106]het bly kielie, met die gevolg dat die ou wakker word. Daar was so ’n bietjie maanlig, wat in die kamer ingestroom het deur die oop venster en in die maanlig kon hy vir Johannes sien. Johannes was aan die voetenent van die bed, en het fratse getrek dat dit ’n naarheid was.

„Naand Neef,” sê ou Giel. „Ek het jou nie hoor inkom nie, maar as jy nagverblyf soek, is jy welkom.”

Johannes begin te kreun en maak nog meer fratse.

„As Neef siek is,” sê ou Giel, en hy klim stadig uit die bed en steek die kers op, „kan ek Neef ’n bietjie rooileventel gee. Of ’n soet sopie as Neef dit verkies.”

Johannes het nog nooit iets van dié aard in sy spooklewe teëgekom nie. Sy ondervinding was dat hy net moes kreun en dan was die kamer leeg. Gewoonlik het die mense nie eers gewag totdat hy gekreun het nie.

Hy het toe harder gekreun.

„Mastag,” sê die ou. „Dit kan ’n knoop in die derm wees. Verlede jaar het daar ’n Hotnotjie van my daaraan gevrek. Hy het net so gekreun en gesteun. Wag, ek haal die leventel.”

Die ou loop uit die kamer en kom gou terug met ’n bottel in die hand. Hy gooi daarvan ’n paar druppels in ’n glas en reik dit toe aan Johannes, maar sy hand, met die glas en al, het sommer dwarsdeur Johannes se lyf gegaan.

„Mastag,” sê die ou kêrel, „hoe het ek dit dan?”

Johannes het harder gekreun en so baie fratse getrek, dat sy gesig daarvan moeg geword het.

„Dit moet die pampoenkoek wees, of miskien die spanspek,” sê die ou en hy kyk nadenkend na Johannes. Toe kom hy nader en neem die kussing op en slaat daarmee teen Johannes. Dit was ’n geweldige slag en ofskoon die kussing dwarsdeur Johannes gegaan [107]het en hom eintlik nie seergemaak het nie, het dit hom tog baie geskok. Soiets het nog nooit met hom gebeur nie. Hy het toe so hard gekreun as hy maar kon.

„Dis wrintig die spanspek,” sê die ou. „Maar dit lyk tog koddig om hier op my bed ’n kreunerige ou bywoner te sien.…”

„Ek was nooit ’n bywoner nie,” skree Johannes, verontwaardig. „Ek het my eie plaas gehad en ofskoon daar ’n verband op was, het ek tog altyd vorentoegeboer. Jy moenie ’n mens so beskinder nie.”

„Hemel,” sê die ou baas. „Nou praat dit. So ’n nagmerrie het ek nog nooit tevore gehad nie. As ek nie so slaperig was nie, sou ek dit kon sit en aankyk, maar dis tog maar ’n nagmerrie.”

En die ou gaan weer lê en in ’n omsientjie het die kamer gedreun met sy snork. Johannes was baie mismoedig. Hy het gesit en kreun en kreun, maar die ou het bly slaap en as hy die ou se voete kielie dan het die ou sy voete net maar weggetrek en nou en dan geskop, wat gladnie vir Johannes plesier gegee het nie. En douvoordag het Johannes weggesmelt en anderkant die kafhok weer bymekaar gekom.

„So sal dit nooit gaan nie,” sê hy. „Hierdie Glo-nie Giel is alte astrant. Ek sal hom moet leer, dat hy nie so goedsmoeds met ’n spook kan omgaan nie.”

Hy het toe in die voorkamer gegaan en gewag, totdat die oubaas se ete op die tafel was. Daar was gebraaide wors en hardgekookte eiers, en hy het dadelik die wors laat uitspring uit die skottel en in die lug laat rondloop. Toe die oubaas inkom, gewaar hy die kaskenades van die wors en vryf sy oë.

„Lieflot,” roep hy sy Hotnot, „kom kyk wat hier gaande is met die gedit en datte wors.” [108]

Lieflot het dadelik binnegehol uit die kombuis en die wors aangestaar met oop mond en groot oë.

„Dis towery, Oubaas,” sê hy en hy trek agteruit, maar die oubaas was nie so bang nie. Ou Giel het in die lug gespring en die wors gegryp, en dit dadelik op sy bord gesit en sy vurk daarin gesteek.

„Towery of nie towery nie,” sê hy, „ek eet dit. Dè, kyk nou of jy kan loskom.”

Maar net toe hy dit sê, begin Johannes, wat in ’n hoekie van die kamer staan, weer te kreun. Dit het Lieflot so verskrik, dat die Hotnot omspring en hardloop, totdat hy by sy pondok was. Maar die oubaas het hom nie aan die gekreun gesteur nie. Hy het smaaklik sy wors opgeëet.

„Dis darem koddig,” sê die ou, „hoe lank die spanspek op ’n mens se maag kan bly lê. Ek sou amper sê dat ek geluide hoor hier in die kamer.”

Johannes het nou probeer om hom met die hardgekookte eiers te gooi, maar die oubaas het hulle handig gevang, afgeskil en opgeëet.

„Dit spaar my die moeite om oor die tafel te reik,” sê hy.

Toe het Johannes maar die saak opgegee.

„Wag, ek sal jou vanaand kry,” sê hy en hy het sommer in die oubaas se bed gekruip en daar bly lê tot die aand.

Toe die ou in die bed wou klim, het Johannes hom onderstebo gegooi, maar die oubaas was rats en weer gou-gou op die been.

„Dis nou weer die varkspek wat ek vanaand geëet het,” sê die ou. „Wonderlik watter uitwerking dit het. ’n Mens sou werklik sê dat daar iets in my bed was.” [109]

„Daar is ook,” skree Johannes, wat nou geweldig verontwaardig was.

„En wie sou dit dan wees?” vra die ou, ewe bedaard.

„Ekke,” sê Johannes en smelt same, sodat die ou hom kan sien. Hy het weer sy beste fratse getrek en so bangmakerig soos moontlik gelyk, maar die ou het hom aangekyk asof hy ’n toktokkie was.

„Ek het nie my bril nie,” sê die ou, „en dus kan ek jou nie mooi sien nie, maar dit skyn vir my dis dieselfde bywoner wat my gisteraand kom stoor het.…”

„Ek het jou al gesê ek is geen bywoner nie,” sê Johannes. „Ek is die spook van ’n welvarende boer, wat jou kom bangmaak.”

„Maak dan maar,” sê die ou. „Maar ek wil in my bed lê en spook of nie spook nie, daaruit hou jy my nie.”

En die ou het ewe bedaard in die bed geklim, die dekens na hom toe getrek en vriendelik na Johannes gekyk.

„Jy is maar slegte spysvertering,” sê die ou op minagtende toon, „te wyte aan spanspek of varkspek. Niks anders nie.”

„Ek is ’n spook,” skree Johannes, wat nou werklik kwaad was. „As jy nie bang word nie sal ek … sal ek.…”

„Nou ja, wat sal jy doen,” vra die ou. „Bang is ek nimmer en nooit nie.”

Johannes het gekreun so hard soos hy kon, en hy het weggesmelt en weer bymekaar gekom om die ou te imponeer, maar die oubaas het bedaard al sy kaskenades aangekyk en eindelik gegaap en gesê:

„Al maak jy nou wat jy wil, ek weet tog dat jy niks anders as slegte spysvertering is nie. Môre neem ek koeksoda en dan is jy oor.” [110]

En die ou het bedaard aan slaap geval en gelê en snork.

Die volgende dag het Johannes teruggegaan na die spookkomitee.

„So,” sê die Romeinse keiser. „Ek sien jy kom onverrigter sake terug. Is ou Giel werklik nie bang nie?”

„Ag Keiser,” sê Johannes, „dis net ’n naarheid. Hy wil niks glo nie. Ek kom om hulp soek.”

„Bang sal hy moet word,” sê die voorsitter, „anders is ons gesag na die maan. As dit eers bekend word dat ons niks anders is as slegte spysvertering nie—wat word dan van ons?”

„Onder die omstandighede,” sê Hendrik Hudson.…

„Jy mag sê die benarde omstandighede,” sê die Romeinse keiser.

„Gaan jou gang maar, Hendrik,” sê die voorsitter.

„Wat ek wou sê is dit,” sê Hudson. „Ons vriend hier is te goedhartig. Hy kon die ou regtig bang gemaak het.…”

„Julle het mos gesê ek moet hom nie seermaak nie,” brom Johannes.

„Nie juis seermaak nie,” sê Hudson. „Maar jy kon hom tog skrikgemaak het.”

„Ek glo nie die hele komitee sal hom skrikmaak nie,” sê Johannes.

„Dis ’n goeie voorstel,” sê die Romeinse keiser.

„Hoe sou dit wees as ons algar saamgaan met ons vriend?”

„Dit is glad benede die waardigheid van hierdie komitee,” sê die voorsitter beslis. „Ek is verwonder dat jy soiets voorstel, Keiser. Wat ek sou aan die hand gee is, dat ons ’n geraamtespook met ons vriend [111]saamstuur. Die twee sou miskien meer indruk kan maak.”

„Ek sekondeer,” sê die Duitse dame.

Johannes het toe vertrek met die geraamtespook. Die geraamtespook was werklik ’n narigheid, want hy was nie eers vel en been nie; hy was sommer pure been, en jy kon dwarsdeur sy kop sien, want daar was ’n gat agter waar hy in sy lewe met ’n kielhouer geslaan was.

Dié aand het die geraamtespook bymekaar gekom aan die koppenent van die bed net soos die oubaas wou inklim en het geraas met sy bene, terwyl Johannes aan die voetenent staan en kreun.

„Liewe tyd,” sê ou Giel, en hy kyk van die een na die ander. „Hier is nou twee van julle en dit nieteenstaande die koeksoda. Wat op aarde kom julle nou hier uitrig?”

„Ons kom jou bangmaak,” sê die geraamtespook en hy klapper met sy kop teen die muur.

„Stadig,” sê die ou. „As jy so aangaan sal jy die pleister losmaak en ek het dit net verlede maand gewitkalk.”

„Dit maak nie saak nie!” sê die geraamtespook, so kwaai as hy maar kon praat—en dit was baie kwaai—„Ons kom jou bangmaak.”

„Maak dan maar,” sê die ou, ewe gerus. „Ek weet tog julle is net maar onverteerde kos wat swaar op die maag lê.”

En hy kruip in die bed en begin te slaap.

Johannes en die geraamtespook het alles gedoen wat hulle kon, maar hulle het die ou nie eers wakkergemaak nie. Die geraamtespook het ou Giel met sy beenderige hande gekielie, en op en neer op sy deken geskuif en Johannes het in sy oor kom kreun, maar die ou het [112]net sy kop geskud en gemaak asof hy ’n vlieg wou doodslaan, maar hy het soos ’n kind bly slaap.

„Weer niks uitgerig nie?” vra die Romeinse keiser, toe Johannes met sy maat voor die komitee verskyn. „Dis tog alte jammer.”

„As ons hom maar kan seermaak,” sê Johannes, „dan het ek nog moed. Maar hy gee niks om vir dreigemente nie. So ’n soort skepsel het ek nog nooit ontmoet nie. Hy maak my mismoedig.”

„Ek herinner my ’n dergelike geval,” sê kaptein Vanderdekken. „Dit was ’n matroos. Ek het telkens voor hom verskyn en hy het altyd beweer, dat dit maar sy grog was. Die here kan hulle nie verbeel, hoe gekleineer ’n spook hom voel as hy vir ’n grog uitgemaak word nie.”

„Dis nie erger as wanneer hulle sê, dat jy slegte spysvertering is nie,” sê die geraamtespook, „veral as jy niks het om te verteer nie. Ek kan sê dat ek ooreenstem met vriend Johannes. Die ou Giel is ’n snaakse mens. Hy glo aan niks nie.”

„Daaraan moet nou ’n end gemaak word,” sê die voorsitter. „Ek dink ons sal julle twee versoek om weer na Koekemoersdrif.…”

„Kloof,” sê die Romeinse keiser.

„Ek bedoel kloof,” sê die voorsitter, ’n bietjie driftig, „te gaan, en ons sal iemand anders met julle saamstuur. Wie dink die here sal ons stuur?”

„Hoe sou dit wees om die kêreltjie wat sy kop ronddra te stuur?” vra die Duitse dame.

„Hy is te jonk,” sê die voorsitter. „Ons moet iemand hê met rype ondervinding.”

„Dan stel ek voor,” sê die Romeinse keiser, „dat ons die spook van die hond Serberus saamstuur. Soos die here weet, hy is al taamlik oud, maar hy het glo [113]sewe koppe en hy lyk naar genoeg om die dapperste mens skrik te maak.”

„Dis ’n goeie voorstel,” sê die voorsitter. „Laat hom weet dat hy hom moet klaar hou, om met die here saam te gaan, môre.”

Die volgende nag het Johannes met die geraamtespook en Serberus in die ou se slaapkamer gewag. Serberus was werklik ’n hond wat jou kon skrikmaak. Sy sewe koppe was een nog leliker as die ander en sy slagtande was so groot, dat hulle jou aan die van ’n bosvark laat dink het. Hy het in die middel van die bed gaan sit en begin blaf dat dit ’n naarheid was.

Toe die oubaas inkom, sien hy dadelik die drie.

„Ek gee nie om vir julle nie,” sê hy, „maar hierdie vervlakste hond wil ek nie op my deken hê nie.” En hy gryp sommer sy kierie en slaan geweldig los op die arme Serberus, wat nog nooit in sy lewe so ’n behandeling ondervind het nie. Die houe het natuurlik algar deur hom gegaan en op die deken te land gekom, maar die belediging was so groot, dat die hond onder die bed weggekruip het. Hy was so verbouereerd, dat hy nie eers daaraan gedink het om weg te smelt nie.

„So,” sê die oubaas. „môre gaan ek dorp-toe en kry medisyne van die dokter. Dis nou eenmaal te erg dat die slegte spysvertering so lank aanhou.”

Johannes en die geraamtespook het die nag alles gedoen wat hulle kon dink om die oubaas bang te maak, maar hy het glad geen notiesie geneem nie. Hulle het volhard tot hy wakker geword het in die môre.

„Mastag,” sê hy. „En julle is nog daar? Waar is julle hond?”

Johannes was so mismoedig dat hy nie eers geantwoord het nie.

Toe die drie weer terugkom voor die komitee, het [114]Johannes gesmeek dat hulle hom maar weer sou toelaat om in Prins-Albert te gaan spook.

„In die Hantam is daar niks uit te rig nie,” sê hy.

„Ek dink ook so,” sê kaptein Vanderdekken. „Ons sal jou maar na jou ou meulhuis stuur. Een dag as ek tyd het, sal ek self vir ou Giel gaan bangmaak.”

Maar tothiertoe het geen spook weer Koekemoerskloof besoek nie. [115]

[Inhoud]

XI.

Die Onnosele Boerseun.

„Daar word niks van hom nie,” het die skoolmeester gesê, toe hy met Jan se pa oor Jan gepraat het. „Hy is alte onnosel.”

„Maar daarom stuur ek hom mos skool-toe,” sê Jan se pa, en hy krap agter sy oor, soos sy gewoonte was as hy vererg was.

„Ek kan niks met hom uitrig nie,” sê die skoolmeester. „Hy het dit tot tweemaal tien gebring, maar verder kom hy nie. Verlede week was die inspekteur hier, en ek het my amper moes skaam. Hy kon die eenvoudigste vrae nie beantwoord nie!”

„Maar hoekom het hulle hom dan inspekteur gemaak, as hy so dom is?” vra Jan se pa.

„Nee, ek bedoel nie die inspekteur nie,” sê die skoolmeester, nou ook ’n bietjie vererg, omdat hy geweet het dat hy fout gemaak het. „Ons praat mos van jou seun.”

„Ek dink, meester,” sê Jan se pa, „dat hy maar lui is. Hy is nie so onnosel soos jy dink nie.”

„Dis nie net luiheid nie,” sê die skoolmeester, „ofskoon ek toegee dat hy ook lui is. Hy het al genoeg pakgekry, maar daar is niks aan te doen nie. Hy kan eenvoudig nie leer nie. Oom moet hom maar uit die skool neem.”

„Nouja,” sug Jan se pa. „As hy dan niks kan uitrig nie, sal ek hom maar uitneem. Stuur hom maar vanaand terug, en ek sal met hom afreken.”

Jan, wat ’n kosleerling was, het dié aand huis-toe gekom, en sy pa het met hom afgereken. Die ou was [116]eers van plan om sy sambok te gebruik, maar hy het daarvan afgesien, want hy het gedink, as Jan werklik onnosel is dan sou dit tog nie regverdig wees om hom te piets nie.

„Kyk, seun,” sê hy, so bedaard hy maar kan, „die meester vertel vir my dat jy baie onnosel is. Dit is nie iets wat in my famielie is nie, onnoselheid. My oupa was prokureur, en jou ma se broer is advokaat, en my swaer se oom is parlementslid, so kan jy nie sê dat dit iets is wat jy van ons geërf het nie. Maar ek sien tog in dat jy nie so skrander as Gert is nie. Hy is nog maar tien en hy is al in die vierde standerd, en jy is al vyftien en jy is maar nog in die twede standerd. Ek dink jy moet maar iets anders probeer. Dit kos geld om jou op skool te hou, en ek het nie te veel daarvan om sommer so weg te gooi nie.”

„Ja Pa,” sê Jan, wat altyd ’n gehoorsame seun was.

„Nou goed,” sê sy pa. „môre moet jy na die dorp gaan. Ek het met Van As gepraat, en hy sal jou aanneem as handlanger in sy moterkarwinkel. Jy kan dan leer om ’n moterkar te dryf, en mettertyd daaruit ’n broodwinning verdien.”

„Ja Pa,” sê Jan.

„Jy sal by Van As loseer,” sê sy pa, „en ek sal kyk dat jy klere het. Vir die eerste paar maande kry jy nie loon nie, maar later sal hy jou iets gee, as jy dit werd is.”

„Ja Pa,” sê Jan weer.

„En ek hoop jy sal jou goed gedra,” gaan sy vader voort. „Jy is tog nie so onnosel soos die meester sê nie, en die werk sal lig genoeg wees. Later sal ons sien wat uit jou te make is.”

„Ja Pa,” sê Jan, en hy kyk op sy skoene.

Die volgende môre het Jan dorp-toe gegaan, en die [117]eerste ding wat Van As hom gegee het om te doen was om ’n moterkar skoon te maak.

„Was daardie kar af,” sê die baas van die winkel. „Neem daardie slang en was hom goed, en dan vryf jy hom met die seemsleer-doek totdat hy blink.”

„Ja Omie,” sê Jan, en hy gaan na die agterplaas waar die kar staan, want hy was ’n gehoorsame seun.

Maar waar hy ook soek, hy kon nie ’n slang vind nie.

„Dis nou snaaks dat ’n mens ’n slang moet gebruik om ’n kar te was,” sê hy. „Ek weet ook nie waar ek een kan kry nie. Ek sal maar in die veld loop soek.”

Hy het toe van die agterplaas gegaan en buite op die veld, buitekant die dorp gaan soek. Dit was nie lank nie, of hy sien ’n pofadder onder ’n kraalbos. Die pofadder was aan slaap, want hy het net die môre ’n streepmuis ingesluk, en die beste manier om dit te verteer is natuurlik om daarop te gaan slaap. Dit was dus vir hom baie onaangenaam toe Jan hom met ’n stok wakker gemaak het. „Wat op aarde wil jy nou van my hê?” sê die pofadder. „As jy my nie met rus laat nie, dan byt ek jou in jou hakskeen.”

„Ag nee a,” sê Jan. „Ek het jou nodig om meneer Van As se motorkar te was. Hy het mos gesê ek moet die slang gebruik.”

„Daarvan het ek nog nooit in my lewe gehoor nie,” sê die pofadder, wat regtig verwonder was. „Maar as jy my werklik nodig het, sal ek saamgaan en vir jou help. ’n Mens moet altyd hulpvaardig wees, selfs vir sy vyande.”

„Ja,” sê Jan.

„Maar dan moet jy vir my dra,” sê die slang. „Ek is te vol om agter jou aan te seil.”

„Jy moenie vir my byt nie,” sê Jan, wat ’n bietjie [118]bang was, en liewerster ’n dooi slang wou geneem het as ’n lewendige.

„Nee,” sê die pofadder, „dit sal ek nie doen nie, as jy my nie seermaak nie. Tel my op by my stert en dra my versigtig sodat my kop altyd net bo die grond is. Ek hou van die sand.”

Jan het toe die pofadder versigtig opgetel en hom gedra aan sy stert. Toe hy in die agterplaas kom, was Van As net daar om te sien hoe ver die kar-skoonmaak gevorder het. Toe hy Jan sien aankom met die slang, spring hy boöp die kar en gaan tekeer.

„Maak daardie vervlakste slang dood,” skree hy. „’n Groot pofadder! Het jy in jou lewe soiets gesien? En hy bring dit nog hier! Maak die ding dood!”

„Maar Omie het mos gesê ek moet die kar skoonmaak met die slang,” sê Jan.

„Magtig, maar die vent is onnosel!” skree Van As. „Die slang is mos daardie ding waardeur jy die water pomp. Maak die ding dood.…”

Jan was so verbouereerd dat hy die pofadder losgelaat het, en die slang het dadelik weggeseil, want hy was amper net so bang soos die baas van die moterkar.

„Nee, nou weet ek dat jy werklik onnosel is,” sê Van As. „Dis te gevaarlik om jou hierso te gebruik, maar ek sal jou nog ’n kans gee. Loop gooi nat die perskebome daar in die boomgaard. Dit kan jy tenminste doen sonder om fout te maak.”

Jan het mismoedig weggestap na die boomgaard, maar hy kon nie sien waar die water was nie. Hy het toe maar aan een van die Kaffers gevra, en die het hom gesê dat die water in die blikke in die winkel was, want die Kaffer het gedink dat hy die water vir die moterkarbatterye wou hê. Jan het na die winkel gegaan. Dit was juis die middaguur, en al die mense was weg om te [119]gaan eet. Jan het orals rondgesnuffel, maar water kon hy nie kry nie. Daar was egter baie blikke, en hy het een daarvan oopgemaak en gesien dat dit vol met iets was wat net soos water gelyk het. Dit het wel anders geruik, maar daaraan het hy hom nie gesteur nie. Hy het ’n dosyn van die blikke, één vir één, na die boomgaard gedra, en die water uitgegooi onder die perskebome. Net toe hy besig was om die laaste blik uit te gooi, kom Van As in die boomgaard. Sodra hy sien wat Jan doen, gaan hy vreeslik te keer.

„Jou dit en dat,” skree hy, „dis mos my petrol wat jy daar vermors! Hemel en aarde, wat moveer jou om soiets te doen.…”

„Maar Omie het mos gesê dat ek die perskebome moet nat maak,” sê Jan. „Dis die water wat ek in die winkel gevind het.…”

„Twintig pond na sy grootjie!” sê Van As, woedend. „Jou pa sal my daarvoor moet betaal, dit sê ek vir jou. En wat van die perskebome? As hulle doodgaan dan eis ek skadevergoeding, so waar as my naam Van As is, en al moet ek jou pa dagvaar in die rondgaande hof. Maar jy is nou eenmaal te gevaarlik. Loop, ek wil niks meer met jou te doen hê nie!”

Nog mismoediger as tevore het Jan huis-toe gestap. Die plaas was ’n goeie drie uur van die dorp, en hy het geweet hy sou nie vóór sonsondergang daar aankom nie, so het hy maar stadig geloop, veral omdat hy gedink het dat sy pa nie in sy skik sou wees om hom terug te sien kom nie.

Op pad het hy ’n koddige kêrel ontmoet. Hy het eers gedink dat die kêrel ’n smous was, want hy had ’n pak op sy rug, maar toe hy naby kom, sien hy dat die pak net maar ’n veerbed was.

„Goeie middag,” sê die kêrel. „Kan jy my nie ’n [120]bietjie met hierdie veerbed help nie? Ek sal bly wees.”

„Ja,” sê Jan, „ek kan dit vir Oom dra. Waar gaan Oom na toe?”

„So-te-sê, nêrens nie,” antwoord die man. „Ek is hier alleenlik om te kyk hoe die wêreld lyk.”

„Maar waarom dra Oom dan die veerbed?” vra Jan, wat nou en dan nuuskierig was, soos elke gesonde seun is.

Om op te slaap as ek die wêreld wil bekyk,” sê die man. „‚’n Veerbed,’ so het my oorlede ma gesê, ‚is altyd die beste om op te slaap.’ ”

Jan het gedink dat dit tog wonderlik is dat ’n mens sy beddegoed met hom ronddra, maar hy was te beleef om meer aanmerkings te maak. Hy het dus maar voortgestap, en gedink wat hy aan sy pa sou sê as hy tuiskom.

„Dit skyn vir my,” sê die kêrel, wat nou besig was om biltong te sny, waarvan hy nou en dan ’n stukkie vir Jan gegee het, „dit skyn vir my dat jy nie, so-te-sê, ’n alte skrander seun is nie. Ek oordeel maar na jou uiterlike. Sou jy my miskien kan sê hoeveel ag-maal elf is?”

„Ek is nog maar by tienmaal twee,” antwoord Jan, wat ’n bietjie skaam gekyk het.

„So!” sê die man. „Nou tweemaal tien is ook al goed. Wat was was voordat was was was?”

„Dit weet ek,” sê Jan, bly om iets te hê wat hy kon beantwoord. „Dit was mos iets wat die bye uit die blomme kry.”

„Nie alte ver raak nie,” sê die man. „En van raak gepraat, as jy ’n bok skiet wat wil jy liewers, dat jy amper mis of amper raak skiet?”

„Amper raa—” sê Jan, en toe bedink hy hom en sê vinnig: „Nee, ek wou sê amper mis, Omie.” [121]

„Dit kom daarop aan of jy die arme dier wou kwes,” sê die man. „En as jou oom se broer nie jou oom is nie, wat is hy dan?”

„My oom se broer nie my oom is nie,” sê Jan, maar my oom het mos maar net één broer, Oom.”

„Ja, en as hy nie jou oom is nie?” vra die kêrel, en gee hom nog ’n stukkie biltong.

„Hy’s mos my pa,” sê Jan, wat ’n bietjie in die war was.

„Dis heeltemal moontlik,” sê die kêrel, met ’n glimlag. „En as ’n seuntjie honderd nartjies het, en vyftig appelkose, en dertig tameletjies, en twintig stukke koek en hy eet die helfte daarvan, wat sal hy dan hê?”

„Dan is hy mos baie gulsig,” sê Jan. „Maskas, Oom, glo mos buikpyn.”

„Dit glo ek ook,” sê die kêrel. „En nou ons van buikpyn praat, as jy ’n gat deur die buikplank van ’n wa boor, boor jy dan ondertoe of boontoe?”

„Ondertoe, Oom,” sê Jan.

„Daarvan is ek nie so seker nie,” sê die kêrel. „Maar ons kan dit maar laat bly. Hoe oud is jy?”

„Vyftien jaar, Omie,” sê Jan.

„Nou ja,” sê die kêrel, „Sê veertien. Veertien bo twaalf—dit gee mos nul punt ag-vyf. Taamlik goed. So-te-sê, nie alte sleg nie. Ek sou liewerster iemand geneem het wat oor één was, maar dié soort seuns is algar op skool, en dis moeilik om hulle in die hande te kry, veral nou dat daar vry onderwys is. Dit bederf ’n hele lot van hulle, nie waar nie?”

„Ja, Omie,” sê Jan, wat nie geweet het wat die kêrel bedoel nie.

„Nou weer, nouja,” sê die kêrel. „Kyk, as jy by my wil kom werk sal ek jou agtien pond min sewentien gee elke jaar, en soveel te ete as wat jy maar kan eet, [122]en klere bowedien, en vakansie elke dag as jy niks te doen het nie.”

„Watter werk, Omie,” vra Jan.

„Dit hang af van wat jy eintlik kan doen,” sê die kêrel. „My plan was om ’n fabriek op te rig, êrens in die Karro, om paddavissies te speen. Maar daar is groot gebrek aan water daar, hoor ek, en ek het nou besluit om kieserslyste op bakstene te druk. Daar steek geld in, seun. Jy sal met die kleitrap moet help.”

„Ja, Omie,” sê Jan.

„Nou kom dan maar mee,” sê die kêrel, en hy slaan ’n sypaadjie in, wat hulle weldra na ’n spelonk in die berg gebring het. Jan, wat hier die wêreld goed geken het, was ’n bietjie verbaas oor die spelonk, want hy het nie geweet dat daar soiets in die omtrek was nie. Binnekant was dit nog mooier as buitekant, want die mure van die spelonk was ingelê met vuurvliegies, wat ’n skitterende lig gegee het, en daar was honderde katte in die spelonk, wat algar rondom die kêrel kom krioel het, en algar so baie gemiaau het dat dit amper ’n naarheid was om na hulle te luister.

„Jy sal na die katte moet kyk,” sê die kêrel. „Daardie grootste mies is baas, en jy sal hom baie versigtig moet behandel, want hy is geld werd. So-te-sê diamante, daardie dier. Sy naam is Enkelvoud-meervoud. Daardie swart ene se naam is Rombus-winkelhaak, en jy moenie die name verwissel nie, anders kom daar onraad.”

Die aand het Jan op die veerbed geslaap, nadat hy ’n heerlike aandete geniet het. Dit was ’n bredie wat so lekker gesmaak het dat hy driemaal daarvan gevra het. Hy het nie geweet dat dit van paddas en streepmuise gemaak was nie, en wat ’n mens nie weet nie maak hom ook nie heet nie. [123]

Die volgende môre het die kêrel gesê:

„Ek gaan nou weer die wêreld bekyk. Bly jy nou hier en voer die katte. Jy sal genoeg muise vang hier in die spelonk. As jy ’n muis wil hê, hoef jy net te sê: Muis, kom laat die kat jou opvreet, en die muis sal dadelik na jou kom.

Toe die kêrel weg was, het Jan die woorde gesê, en dadelik was daar ’n groot muis, wat Enkelvoud-meervoud sommer opgesnap het. So gou as Jan die woorde kon uitspreek, het die muise gekom, en die katte het smaaklik ge-eet. Enkelvoud-meervoud—wat ons in die toekoms maar Em sal noem—en Rombus-winkelhaak—wat ons vir verkorting maar Row sal noem—het die meeste ge-eet, en Jan was moeg om muise te roep, want die katte se aptyt was baie groot. Eindelik het hy so moeg geword dat hy gesê het:

„Nou het julle genoeg. Ek gaan nou slaap.”

Maar Em en Row het so ’n lawaai opgeskop dat Jan weer ’n paar honderd muise geroep het. Toe het hy so vererg geword, omdat die katte nog aangehou het om meer muise te kry, dat hy Em by die stert en Row by die nek beet gepak het en hulle altwee teen die muur van die spelonk geslinger het. En sodra hy dit gedoen het, het al die katte sommer verdwyn.

Die aand toe die kêrel huis-toe kom was sy eerste vraag, „En waar is die katte?”

„Oom,” sê Jan, „die goed het my so gepla dat ek hulle weggeja het.”

„Dis ongelukkig vir jou,” sê die kêrel, „want sonder katte kan ek nie klaarkom nie.” En die kêrel roer Jan se hare aan met sy hand, en Jan verander sommer in ’n groot kat. Dit was baie onplesierig, en hy het nie geweet wat om met sy stert uit te rig nie, want die ding het altyd tussen sy bene gekom maar hy kon daar niks aan [124]doen nie. Hy het mos nie geweet dat die kêrel een van die slimste towenaars was nie.

Die kêrel het hom nie verder aan Jan gestoor nie, maar het gaan slaap op sy veerbed, en Jan het bly staan, en met sy stert gepeuter en probeer hardloop. Ofskoon die stert hom baie gehinder het, kon hy tog mooi hardloop, en hy het die spelonk uitgehol in die rigting van sy pa se plaas.

Toe hy daar aankom was dit al amper dag. Sy pa was net besig om vroeë môrekoffie te maak in die kombuis en Jan het dadelik by die venster ingespring.

„Waar kom die kat nou vandaan?” sê sy pa. „Voertsek, kat.”

Jan het gemiaau, want hy kon nie anders praat nie, maar sy pa het natuurlik nie verstaan wat hy gesê het nie, en het eindelik die besem geneem en hom uit die kombuis verwilder. Toe het Jan na die voorhuis gegaan en onder die tafel gaan lê. Na ’n rukkie het Stomp, die hond, binnegekom, en dadelik vir hom gaan blaf. Jan het weer gemiaau, en tot sy verbasing het die hond stil gestaan en hom bekyk, en toe met hom gepraat. En weer tot sy verbasing het Jan gevind dat hy Stomp se taal goed kon verstaan.

„Watter soort kat is jy nou?” vra Stomp. „Ek ken al die katte in die buurt, maar vir jou ken ek nie.”

„Ek is nie ’n kat nie,” miaau Jan. „Ek is Jan. Ek het ’n ongeluk gehad, anders was ek nog Jan.”

„Jan die onnosele seun,” sê Stomp, en hy skater uit van die lag. „Nou dit is alte koddig. Nou kan ek mos vir jou ja oor die werf.…”

„Dit verbeel jy jou,” miaau Jan. „Ek sal dit nie toelaat dat ’n hond vir my ja nie.”

„Ons sal sien,” sê Stomp, en hy lag weer geniepsig. „Jan het my baie geja oor die werf toe hy hier was, en [125]nou sal ek hom daarvoor betaal. Die oubaas is mos nie gedien met vreemde katte op die plaas nie. Hulle steel net.”

„Ek sal jou krap as jy dit probeer,” sê Jan. „En ek is nie bang vir die oubaas nie; hy is mos my pa.”

Net op die oomblik het Jan se pa in die kamer gekom. „Daar is die gedit en datte kat weer,” sê hy, vererg. „Stomp, ja hom tog uit. Sa, Stomp!”

Stomp het weer begin blaf, en so na aan Jan gekom dat Jan onder uit die tafel weggespring het, die deur uit. Hy was baie kwaad, maar hy kon niks teen die hond doen nie, en hy moes toe maar die groot eikeboom opklim waar die hond hom nie kon bereik nie. Daar het hy mismoedig gesit, en sy stert was baie lastig vir hom, want dit het altyd tussen sy bene gekruip, en hy het gedink dat dit hom sou laat afval van die boom. Maar hy het darem daarin geslaag om sy balans te behou, en ofskoon dit koud was om daar in die nag op die boom te sit—want hy moes die hele dag en die volgende nag daar sit—het hy maar uitgehou. Nou en dan het hy hard gemiaau, wat eintlik was „Ek wens tog maar dat ek weer in ’n seun kan verander.”

Ondertussen het Stomp, die hond, met die hoenderhaan gaan praat.

„Verbeel jou,” sê Stomp, „daardie onnosele Jan, die oubaas se seun, sit daar in die bloekomboom. Hy is nou ’n kat.”

„Skei uit met jou gekskeer,” sê die hoenderhaan. „Daar glo ek niks van nie.”

„Dis waarlik waar,” sê Stomp. „Jy kan hom daar gaan sien. Dis om oor te lag. Onthou jy nog hoe hy vir ons geja het oor die werf.…”

„Vir jou moet jy sê,” antwoord die hoenderhaan. [126]„Geen seun sal my ja nie, óf oor die werf óf oor iets anders. Ek sou daar hartlik voor bedank.”

„Jy spog altyd,” sê Stomp.

„Nee, ek praat die waarheid,” sê die hoenderhaan. „Maar … sê my nou eers, is dit werklik waar wat jy daar sê?”

„Ja,” sê Stomp, „ek kan dit sweer.”

„Nou dan is dit baie ernstig,” sê die hoenderhaan. „Daar is ’n gesegde dat as die oubaas se seun in ’n kat verander, dan is die end van die wêreld naby. Dan word ons algar glo opgeblaas of soiets. Dit staan my nie aan nie.”

„Wat is daar dan aan te doen?” vra Stomp.

„Net een ding,” antwoord die hoenderhaan. „Dit het ek van my oorlede pa gehoor. Ons moet die seun weer verander kry; hoe onnosel hy ook as seun is, hy is tog minder gevaarlik as soos hy nou is. Loop soek daardie towenaar, want dit moet ’n towenaar wees, en vra hom om die seun weer tot seun te maak.”

Stomp was nie in sy skik nie, maar hy was bang dat as die wêreld vergaan hy ook miskien sou opblaas, en dus het hy maar toegestem. Hy het nog dieselfde nag na die spelonk geloop, want hy het geweet waar dit was, en wie die towenaar was. En hy het so hard gesoebat dat die towenaar gesê het, „Ja, ek sal bom weer verander. My katte is terug, en ek het hulle gepaai, sodat ek eintlik niks teen hom het nie. Maar hy is darem maar ’n onnosele seun.”

Hoe die towenaar dit geprakseer het, weet ek nie, maar die volgende môre het Jan se pa vir Jan onder die bloekomboom gevind waar hy aan slaap was.

„Daar word tog niks van jou nie,” sê Jan se pa. „Jy bly maar onnosel.”

En hy het vir Jan na die uitlê-veld gestuur met die skape.

[Inhoud]

Oorspronklike rug.

 

Oorspronklike agterkant.

Kolofon

Hersieningsgeskiedenis

Regstellings

Die volgende 28 regstellings is aan die teks gemaak:

Bladsy Bron Regstelling Redigeerafstand
Nie van toepassing nie 58 38 1
Nie van toepassing nie 61 52 2
4 [Nie in die bron nie] . 1
13, 29, 61, 108 [Verwyder] 1
13, 84, 120, 121 [Nie in die bron nie] 1
22, 28 , . 1
22 sewe-honderd-en-sestigste sewehonderd-en-sestigste 1
30 Asposter Aspoester 1
48, 90, 90 ,” , „ 2
48 astrandheid astrantheid 1
104, 105, 114 Koekoemoerskloof Koekemoerskloof 1
104 .. 1
120 , ? 1
123 1
123 [Nie in die bron nie] 1
125 graat praat 1
126 [Nie in die bron nie] , 1